Wie is Nelba (oftewel Vygie)?
My naam is Nelba Vercuil en ek bly in Estcourt, ‘n kleinerige dorp in KwaZulu-Natal saam met my man, Dirk, en twee van my seuns.
Hierdie blog is begin om die lewe saam met Loren, ons middelste seuntjie wat serebraal gestrem was, op te teken. Loren is op 26 April 2007 oorlede op die ouderdom van amper agtien maande aan iets soortgelyk aan wiegiedood. Ons het sy dood nie verwag nie en dit was dus vir ons ‘n groot skok.
Ons ag onsself uiters gelukkig om Loren te kon geken het, hom te kon versorg het en om hom steeds lief te hê. Hy het ons lewens uiters positief beinvloed. Ons mis hom ontsettend.
Ouers van kinders met gestremde kinders is mense, nes jy wat nou hier lees. Ons is beslis nie martelare nie. En ons en ons kinders is beslis nie slagoffers van ons omstandighede nie. Ons kinders is eerstens kinders. Hulle word nie hulle diagnose (wat immers ‘n mensgemaakte, uiters arbitrere ding is) nie.
Ons twee ander kinders is Marco, wat tans vier en ‘n half is en Magnus, wat pas ‘n jaar oud geword het. Ons geniet die tweetjies baie.
Ek is ‘n bibliotekaresse van beroep, maar tans is ek tuisblyma. Dit is ‘n voorreg. En nee, bibliotekaresses lees nie net heeldag nie! Tuisblyma’s ook nie. Ongelukkig.
Ek is ‘n (swakkerige) huisvrou wat eerder die sin van die lewe bepeins as wasgoed stryk. Gelukkig kan ek twee of meer goed tegelykertyd doen.
Ek is ‘n Christen. Wat nie beteken ek dink ek is perfek nie, maar wel dat ek weet God is groot.
Ek hoop jy wat hier lees geniet my vertellinge, foto’s en deel my bepeinsing oor die sin van die lewe. Eintlik het ek klaar tot ‘n slotsom gekom wat ek periodiek hersien. Of jy gaan saamstem of nie, dis die vraag!
![]()

Hallo Nelba,
Dit was nou die lekkerste vyf minute afrikaanse lees wat ek in ‘n baie lang tyd gedoen het! Ek moet nou gou weer die wind gaan najaag so vir die heel laaste keer voordat die naweek aanbreek, maar ek kom later terug om met aandag en genot verder te lees.
Liefde
Paula
Hey Nelba,
Jou web blad is ‘n heerlike lees-genot! Ek praat deesdae so min afrikaans en moet hard dink wanneer ek dit skryf.
Die reunie was groot pret – beter as die 10 jaar. Almal is baie meer rustig as tevore – net so ‘n paar doen nog baie goed soos wat hulle dit tevore gedoen het – Ryno “ry” nog steeds op sy stoel! Ek het so lekker gelag toe ek dit agterkom.
Ek sal inloer op jou web – ek bly net om die draai in Ladysmith en werk by RE/MAX, so as ky hierheen kom; kan jy gerus ‘n draai maak.
Groete,
Deoni
Hallo Paula en Deoni!
Gaaf van julle om hier te kom loer.
Ek is bly die reunie was ‘n sukses. Ek het na die foto’s gekyk en julle is nog mooier as op skool! Moet sê dat ek darem die meeste mense sonder veel moeite herken het.
Lekker om van julle te hoor. Bly in kontak..
Mooi bly
Nelba
Hallo Nelba,
Jou storie gedruk om later rustig te lees.
Kan jy glo ons 2 was 12 jaar saam op skool.Jy was nou een van die persone wat ek die graagste wou sien op die reunie.
Ek onthou hoe vinnig jy altyd kon lees.Ek was op bl1 van die begripstoetse en dan antwoord jy al die vrae.Jy was vir ons ‘n voorbeeld.Ek probeer my kinders ook lief maak vir lees.
Skryf asb vir my op my adres:personnel@junkshop.co.za..
Baie liefde
willemien
Liewe Wilemien
Ja, ons was haasbekkies saam in Mev van Loggerenberg se klas. (Onthou jy hoe vrek kwaai sy was!?) Ek kan goed onthou hoe swaar Maandae altyd vir jou was wanneer jy moes terugkom koshuis toe.
Sal in kontak bly met e-pos.
Mooibly
Nelba
Haai Nelba en Dirk
Jy sal my dalk nie ken nie maar ek en Dirk was in 1980 en 1981 in die Kanaries saam gewees. My naam is Hannes Botha en ek wil graag he hy moet my kontak. Ek werk op die oomblik in Taiwan en sal graag weer met hom wil kontak maak. Ek het julle website gelees toe ek op Dirk se naam gesoek het. Ek is so jammer om te hoor van julle kindjie se dood.
Ai, jong.Ons is self die ouers van ‘n serebraal gestremde, blinde dogterjie.Sy is al 12 jaartjies oud.Ons 2 seuns doen al 10 jaar tuisskool en wat ‘n vooreg is dit nie!Ek het die boekie Henri stap aan onlangs gelees deur E. Murray.’n Ma se verhaal na haar seun se dood.Sy laat mens net weer besef- Vader is in beheer.Ek stuur vir jul elkeen ‘n stywe drukkie.