jump to navigation

Knelvrae tag September 13, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
6 comments

Adrie het my getag vir die ene.

Enige iets wat jy nog ooit van Nelba wou weet, maar te ordentlik of onordentlik was om te vra, doen dit nou. Speak! Or forever hold your peace. Jy moet jou vraag / vrae in die kommentaar boksie los en ek moet antwoord – daar of in ‘n inskrywing as daar baie vrae is. As ek vir een of ander rede nie wil antwoord nie moet ek ‘n snaakse storie opmaak om te vergoed.

Nou ja toe…

Doen dit self September 10, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
9 comments

Ai, julle! My probleem, soos ek al gesê het, is nie ‘n gebrek aan idees nie, dis ‘n gebrek aan tyd.

Seker ‘n goeie tien jaar gelede bly ons mos in ‘n 1940’s huisie in Pietermaritzburg. Die vloere is Rodesiese “teak” en Oregon en die garagedeur is geverfde Oregon – waenhuis-styl. Een dag ry ek bietjie te vinnig agteruit en tref een van die deure reg op die rand. Die deur se skarniere is tot daarnatoe en terstond besluit ek en Dirk ons moet dalk maar liewer die houtdeure vervang met ‘n gewone roldeur wat nie so maklik sal swig onder “affirmative shopping” (of gebrek aan bestuursvermoe) nie. Die houtdeure word versigtig afgehaal en so trek die deure saam met ons. Op ‘n stadium saag my pa een van die deure ‘n hap uit om ‘n rakkie vir ons mikrogolfoond te maak. Maar behalwe dit is die hout – sover ek kan sien – nog in ‘n redelike toestand onder die verf.

Die chaos in die kinderkamer begin my nou onder te kry. Ek koop nie regtig meer speelgoed vir die kinders nie, maar dit lyk vir my kompleet of die goed kleintjies kry. Op ‘n stadium het ek die speelgoed mooi in plastiek”tubs” uitgesorteer gehad, maar iewers het hulle begin migreer en nou is dit ‘n bonte deurmekaarspul. Ek moet dit regpak en gou ook anders raak ek mal. Anders as Dirk, is ek ver van ‘n perfeksionis. Maar die assosiasie met hom die afgelope paar jaar, het gelei daartoe dat my sensitiwiteit vir chaos meer geword het (en syne minder – dankie tog!)

Die enigste probleem is dat al plek vir die speelgoed tans of opmekaargestapel in die klerekaste in is of op die grond. Dis nie een ‘n goeie opsie nie. Ek soek rakke. Soos in gister.

Ek vaar dus die dorp binne op soek na tweedehandse meubelplekke. Ek hoop op iets soos ‘n goedkoop, maar nog stewige “room divider” wat sal inpas in die spasie wat ek geoormerk het. Ek kry ook sulke meubels, maar dis nie presies wat ek soek nie en die goed is duur. Dan is dit boonop van laaghout wat my laat gril. Ek gaan na ‘n hardewareplek om te gaan kyk wat rakke kos, maar dit werk amper nog duurder uit. (Onthou ek het nie klampe of ‘n elektriese saag nie, dus moet ek klaargemaakte rakke koop.) Dis net daar wat ek besluit biedem die hele spul.

Ek vaar in ons stoorplekkie in. Hout is daar baie, maar dis hier te kort en daar te lank, het met die jare gebuig of is te smal. Toe vang my oog die garagedeure. Gloeilampie-oomblik.

Dink julle ek sal daarmee rakke kan maak? Dis tongue and groove, en sal dus nie so moeilik deursaag nie en dis min of meer die regte lengte. Ek sal natuurlik die verf moet afskuur, wat ook weer ‘n hengse groot werk is, maar soos ek die ding sien, is dit my enigste opsie.

Raad is welkom.

In ‘n woord September 9, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
1 comment so far

Girl, jy is ‘n kombinasie van soveel teenstellings bv.: sterk en weerloos, hartseer en borrelend. Jy’t ‘n sagte hart, maar jy’t geleer om jouself te beskerm. Jy’s beslis een van daai mense van wie mens onmiddelik hou. Ek dink die woord wat jou die beste beskryf is

Enigmaties.

Hy het ‘n “smile” geteken… September 9, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
10 comments

Skuldig!

Getuienis

Wegkruip

Waar is die Handy Andy? (sug)

Uno September 9, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
3 comments

Hoe beskryf mens nou iemand met soveel belangstellings en eienskappe in net een woord?

Ek weet!

gefasseteer.

Onthou, dis ook waar van diamante. Kosbaar is onse Adrie.

Ek tag vir Dion en schabbers om my in een woord te beskryf en dan ander mense te tag.

Knaagdiere September 8, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
4 comments

Dit het gevoel of ek net aan die slaap geraak het gisteraand toe ek ru wakkergemaak word deur ‘n helse geraas.

Strepies, die een gemmerkat, kom ingehol met ‘n muis in sy bek. Op sy hakke is die ander drie katte. Die muis ontsnap met ‘n onderaardse gepiep (klink meer verwoed as bang
)en gaan soek skuiling onder die bedkassie. Nou sit al die katte in ‘n kring om die bedkassie en klap na die muis wat wyslik net-net buite bereik sit.

Ek kry nie ‘n spier geroer nie. Was in daai diep droomlose slaap wat mens net voor middernag regkry. Ek le net daar en verwens die hele boksemdais tot in die warmplek.

Dit kom by my op dat muis se kind altemit gaan probeer ontsnap deur oor die bed te hol, maar my moegheid is groter as my vrees. Ek belowe hom egter in geen onsekere terme ‘n spoedige dood as hy dit sou waag.

Later probeer hy ontsnap en hol in die kinderkamer in, maar daar keer die katte hom vas. Hy moes een van hulle ‘n hap gegee het, want daar bars ‘n geknor los wat my nekhare laat orent staan. Van daar verskuif die onderonsie badkamer toe. Dis min of meer waar ek die stryd teen die vaak verloor het.

Vanoggend is daar geen teken van die muis nie en die katte le oral uitgeput en slaap.

Boggers.

September 7, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
2 comments

Ek lees nog die blogs van ander ma’s met gestremde kinders. Maar ek lewer selde kommentaar.

Eerstens “hoort” ek nie meer in hulle kring nie. Verstommend hoe seer die gedagte maak.

Soos ma’s met normale kinders ongemaklik was om met my oor my kind te praat, word ek nou vermy omdat my kind dood is en hulle s’n nog lewe. Vermy is miskien die verkeerde woord. Versigtig benader is dalk meer akkuraat.

Vir maande nou al stel ons uit om ‘n behoorlike grafsteen op Loren se graf te laat sit. Ek hou nie juis van lewelose klip nie. Maar ons poging tot ‘n tuintjie kon slegs suksesvol wees terwyl ons naby gebly het. Elke keer wat ons teruggaan lyk dit meer troosteloos. Vandag het ek regtig gedink al die plante het gevrek, maar tot my verligting is die roosboompie en ander klein struikie weer besig om uit te loop. Daar het selfs hier en daar ‘n bol opgekom van die wat ons daardie eerste jaar geplant het. Dirk het egter die grafsteenonderneming gebel en verduidelik dat ons nou daar is en mooi gevra of hy ons kan kom raadgee. Binne twintig minute was die man daar.

Hy het ons voorbeelde van hulle werk gewys en verduidelik hoekom van die ander grafte in ‘n slegte toestand is. Ek wou eers plek laat vir plante, maar dit maak nie die probleem van onderhoud minder nie. Van die ander grafte met klein klippies op, lyk regtig sleg waar grassade binne-in gewaai en begin groei het. Ons het uiteindelik besluit op ‘n eenvoudige granietblad en kopsteen. Ek het ‘n idee van die bewoording, maar sal maar nog bietjie daaroor dink.

Nie een van ons het gedink dit sal maklik wees nie, maar ek was tog verstom oor hoe emosioneel ek gevoel het. Bitter ook. Ander ma’s van amper-vierjariges beantwoord hoekom-vrae. Ons soek ‘n grafsteen uit.

Dit het weer my eie hoekoms na die voorgrond gebring. Hoekoms wat ek voor my heilige siel weet daar geen antwoorde op is nie.

En toe vanaand lees ek die van een van die ma’s met gestremde kinders wat dinge die meeste “together” het myns insiens. Haar skattige Charlie was nie veronderstel om die eerste week van sy lewe te oorleef nie. En kyk wat hulle saam al bereik het! Dit het my op ‘n manier getroos. Miskien kan die ma haar nie in my posisie indink nie, maar ek kan my nog steeds in hare indink. Ek weet ook nou dat Loren se kom en gaan my anders na dinge laat kyk.

Daar op swart en wit is dit:

# Somebody else always has it worse than you.
# Somebody always has it better.
# Better or worse has no effect on happiness. None.
# The scariest thing about raising a kid with special needs isn’t the limitations–it’s the potential and how to unlock it.
# Your child is normal. Disability is a normal part of the human condition.

Die laaste twee sinne is net so waar van ‘n volwasse vrou met seerplekke aan haar siel as van ‘n kind wat gestremd is.

Bowenal weet ek dat my hoop vir die lewe na hierdie een nog groter is as altyd.

‘n Bietjie van boggerol September 7, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
1 comment so far

Marco het vandag besluit dis hoog tyd dat ons ‘n slag piekniek hou. Ons middagete is dus op ‘n ou slaapsak op die voorste grasperk geëet. Dirk, wat oor die algemeen nie juis hou van goed soos met die hand eet of op die grond sit nie, het hom maar laat saamsleep. Ek vermoed hy was te moeg om te protesteer.

Ons was die naweek na ‘n ooievaarstee, ek moes in die kerk speel (na ek net ‘n deel van ‘n middag gehad het om te oefen) en ons is gisteroggend na kerk Durban toe om vir my ma in die hospitaal te gaan kuier.

Ek kan nie ‘n tyd onthou wat my ma nie met rugprobleme gesukkel het nie. Ek onthou byvoorbeeld so goed die keer wat ek as kind my ma flou van pyn op die badkamervloer aangetref het. Ek het so geskrik dat ek ‘n glas water deur haar gesig gesmyt het. Sy het liewer gou bygekom voor ek haar versuip. Dis was egter maar hoe dinge verloop het met my ma en haar rug.

Die afgelope ruk het ‘n stukkie afgebreekte kraakbeen wat teen ‘n senuwee druk haar verskriklike pyn besorg. Hulle het ook gevind drie van die kussinkies tussen haar werwels is poegaai. Sy kon later glad nie meer sit nie. Dus het sy die week ‘n rugoperasie gehad.

Ons het op die ingewing van die oomblik besluit om die nag by Natalia – een van die ATKV oorde oor te bly sodat ons darem die aand ook by haar kon gaan inloer.

My ma vertel die tannie oorkant haar het die ander nag glo so tekere gegaan en begin klappe uitdeel. “Het sy darem raakgeklap?” wou ek hoopvol weet. Toe onthou my ma weer dis ek met wie sy praat en dat my simpatie uit die staanspoor liewer by die tannie as by die verpleegpersoneel gaan wees. En toe praat ons maar liewers oor iets anders. Dirk,wat gewoonlik veel meer geduld met hospitale en hulle dinge het as ek, het later ‘n bietjie van ‘n onderonsie met van die verpleegpersoneel gehad. So, dalk het die tannie rede gehad vir haar woedebui.

Toe is ons see toe waar ons ‘n lekker middag saam met die kinders op die strand deurgebring het. Die aand is ons weer terug hospitaal toe en het dankbaar die net sowat twintig minute terug Natalia toe gery in plaas van die twee ure terug Estcourt toe..

Vanoggend het ons teruggekom en ek spook nog deur die wasgoed en die vuil huis. Dit voel of ons vir weke weg was in plaas van net vir ‘n dag.

Die Ha!Man September 3, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
4 comments

Blomliggies

Eendag, op ‘n warm lente-aand was daar liggies oral.

Tjello

Daar was die mooiste musiekinstrument op aarde. Met kurwes en warmkleurige hout.

Spontaneity

Talent en spontaneiteit

No pictures!

Die papparazzi was ook daar…

En daar was magic

Op ‘n honderd lekkertes! September 3, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
14 comments

My geliefkoosde goed in die wêreld – behalwe familie en vriende. (In geen volgorde van belangrikheid nie en ook nog lank nie alles nie.)

1.Smarties. Want daar is so baie. Ek hou van hulle kleure. En daar is sjokolade in.
2.’n Maanligaand.
3.Reën op ‘n sinkplaatdak.
4.’n Goeie donderstorm. En as dit nog vroeg genoeg plaasvind dat die son agterna kan uitkom en daar ‘n reënboog verskyn, des te beter.
5.Pannekoek. Veral op ‘n koue dag.
6.Klippe en skulpe.
7.Katte.
8.Musiek
9.Varkore wat in plate in vleie groei.
10.Body boarding in ‘n louwarm Indiese Oseaan.
11.Grond
12.Lekker slaap
13.’n Lang outydse brief (veral van my ma)of ‘n gesels epos.
14.Die son
15.Granate
16.Vere
17.Paisley patrone in ryk kleure.
18.Verfkleur skyfies. Ek versamel hulle en raak verlief op die kleure en hulle name.
19.Powertools.
20.Rooi leer.
21.Lemonade
22.Rooiwyn
23.Koffie
24.Boeke
25.Mooi aantrek en grimeer
26.Kaalvoet loop
27.Stories
28.Kreatiwe denke
29.’n Goeie plan wanneer my planne boomskraap is.
30.’n Positiewe houding
31.Nederigheid
32.Humor
33.’n Goeie huilsessie.
34.Brood en kaas.
35.Om ys te eet.
36.Om met ‘n kers te speel.
37.Om ‘n radio te kan afsit as die geraas my pla.
38.’n Doodslaan-regte antwoord wanneer ‘n boelie reg voor jou staan (en nie ure later nie…)
39.Lego saam met die kinders bou
40.Om ‘n vars perspektief op ‘n ou probleem te hoor.
41.Die ontdekking van ‘n sielsgenoot.
42.’n Filosofiese gesprek.
43.Om iemand wat dit verdien in sy/haar maai te stuur.
44.Langpadbestuur alleen of saam met Dirk.
45.Busry op ‘n bekende roete.
46.Rooi toonnaels.
47.’n Lekker nuwe haarstyl.
48.Om my suster se raakvatmanier van kosmaak dop te hou.
49.Iemand wat “chill” wanneer ek wil.
50.’n Tee/koffiedrink vriendin.
51.’n Glas water vir die dors.
52.Seer spiere van hard werk.
53.Om iets uit niks te skep.
54.Afrikaans
55.Frank Lloyd Wright se rooi hekke
56.Die Fred en Ginger gebou in Praag.
57.Mooi koloniale huise in Suid-Afrika
58.Hout
59.Bome
60.Berge
61.Liggies
62.’n Stewige en langsame ontbyt
63.Hoop
64.’n Fliek waaruit ek stap met ‘n glimlag.
65.Donskomberse
66.Tuin natlei
67.Jasmyn
68.Plate shasta madeliefies
69.Loodglasvensters
70.’n Kombuistafel
71.Groen
72.Pêrels
73.Skaapvelpantoffels en ‘n snoesige kamerjas
74.Om mense dop te hou
75.Om vir myself te kan lag.
76.Om iemand wat dink hy’s donners slim, verkeerd te bewys.
77.Om “Snap” te speel saam met die kinders.
78.Om te kyk hoe my kinders wegkruipertjie speel. Die een verstaan die konsep minder as die ander een. Maar speel speel hulle.
79.Potensiaal
80.Vrugte en groente vars uit die tuin
81.Om met kruie te kook.
82.’n Kat se halfuur van malheid (wanneer hulle verspot rondhol.)
83.Meerkatte
84.Om ‘n hond se genot te sien wanneer mens ‘n bal vir hom gooi.
85.Soene en handjies hou met my man
86.’n Ladybird
87.Arende en valke
88.Hoendereiers uithaal
89.Neute optel onder ‘n boom.
90.Vuurhout bymekaar maak
91.Om ‘n dag op te staan en geen afsprake of ander dringende verpligtinge te hê nie.
92.Om te dink iets moet dringend gedoen word en dan daarvan vrygestel te word.
93.Om niemand gunste te skuld nie.
94.’n Kaggelvuur
95.Fietsry
96.Dagdroom
97.’n Lughawe
98.Pandjieswinkels
99.’n Boeremark
100.Streekstaal