Ons storie
Ons tweede seuntjie, Wennertjie, is op 5 November verlede jaar (2005) tuis en ongeasisteer (dit was my keuse) gebore. Alles het goed geloop met sy geboorte, behalwe dat hy nie spontaan begin asem haal het nie. Later sou dit blyk dat hy amniotiese vloeistof ingeasem het. Ons het die pap en bleek liggaampie in ‘n handdoek toegedraai en die futiele jaagtog hospitaal toe begin. In spitsverkeer het die 5 minute rit hospitaal toe in ‘n ewigheid verander. Hy is bygebring by die hospitaal, maar ons is gewaarsku dat hy dit moontlik nie sou oorleef nie. Indien wel, sou hy beslis serebraal gestrem wees.
Wennertjie (want dis wat sy naam beteken) het toe gewen. Hy het almal verbaas deur nie alleen te oorleef nie, maar binne ‘n week na sy geboorte van die ventilator afgehaal te word. Na ‘n maand in die Neonatale Intensiewe Eenheid, is hy ontslaan.
Sy groot probleem is dat hy nie kan sluk nie wat meebring dat hy deur ‘n maagbuisie gevoed moet word en gedurig met ‘n masjientjie gesuig moet word om ontslae te raak van spoegies. Longprobleme is moeilik te vermy en hy was ongelukkig al ‘n paar keer in die hospitaal met sulke kwale. Sy spiertonus is swak en sy nek en arms spasties. Ons moes leer om alle ontwikkelingskaarte te skrap – hy het nog nie eers behoorlik nekbeheer nie, wat nog te praat van sit, kruip of loop. Maar ons sal nie moed opgee dat hy wel hierdie mylpale sal bereik nie. Op SY tyd. Omdat hy nog jonk is, sou ons nie ‘n opinie kon uitspreek oor sy intellektuele vermoë nie. Hy is baie geintereseerd in die wêreld om hom, reageer op almal van ons, skyn mense te herken en het besliste voor- en afkeure. Hy kommunikeer op sy eie unieke manier.
Ons het baie hoop vir ‘n blink toekoms vir hom
Ons oudste seuntjie, Vegtertjie, is tans twee en ‘n half. Hy is ‘n lieftallige, maar koppige kleuter wat hartstogtelik lief is vir enigiets met wiele. Sy ander passies sluit in: ons, sy broertjie, sy diere (drie katte en twee honde) en “buitekant”. Hy praat baie goed en hardloop die wêreld vol. Ons geniet hom en sy boetie baie. Dit is moeilik om ‘n balans te handhaaf en daar is te min ure in die dag om aan albei genoeg aandag te gee. Maar ons probeer en met baie genade van Bo slaag ons soms selfs.
Vir die wat belangstel in die besonderhede van ons storie, kyk gerus na:
Wennertjie (Loren) is op 26 April 2007 oorlede aan SIDS (kotdood). Ons harte is stukkend en ons sal ‘n leeftyd oor hom rou. ‘n Derde seuntjie, Magnus, is agt weke later gebore. Dit was ‘n moeilike tyd – vreugde gemeng met rou. Ek is jammer dat die twee boeties mekaar nooit hier op aarde sal leer ken nie.
Ons is dankbaar vir die tydjie saam met Loren. Dankbaar vir soveel dinge. Hy het ons lewens onherroeplik verander.

Hallo Nelba en Dirk,
Ons woon ‘n klipgooi ver weg van mekaar en weet maar bittermin van mekaar.
Dirk, ons het al oor die telefoon gepraat en Nelba ons groet net so skrams by die gym.Ek weet nie of jy weet wie ek is nie aangesien ons nog nooit amptelik ontmoet het nie.
My dogter in Taiwan het op jou blog van julle gelees en gevra of ek julle ken . Sy het afgelei dat julle van die omgewing is, aangesien ons baie na aan Celtiskloof gewoon het.
Ek is sooo jammer oor julle verlies. Ek het nie eers geweet dat julle kindjie oorlede is nie.
In Suid Amerika het ek in ‘n Duitse kerkhoffie op ‘n plaatjie iets gelees wat my altyd bygebly het. Daar het gestaan: ” HERE EK VERSTAAN U NIE, MAAR EK VERTOU OP U.” Mag julle altyd julle vertroosting in die Here vind. Dis maar al waarvoor ek vir julle kan bid.
As ek jou weer sien sal ek my aan jou voorstel.
Is die nuwe babatjie al gebore?
Sterkte! Ons bid vir julle.
Celeste
Hallo Celeste
Ek dink ek weet wie jy is. Sien daarna uit om te gesels.
Dankie vir die gebede en trooswoorde. Ons mis ons ou seuntjie net baie.
Die nuwe baba kom middel-Julie rond.
Mooi bly
nelba
Hi Nelba, my hart is seer vir julle, sterkte! Het jy al ooit die boek “Onder Engelvlerke” van Pam Vredevelt gelees. Die Engelse naam is “Angel behind the rocking chair”. Dit het vir my baie beteken, my uitkyk verander en meer weer oempf gegee. Sterkte.
Hallo Vygie
Ek het hier kom rooflees en by die page begin.
Ek het 2 gedagtes gehad:
1: Hoeveel mense julle met klippe gegooi het?
2: Dat hulle geen reg daarvoor het nie, want julle moet seker ‘n vreeslike selfverwyt he.
Ek dink tog dat julle net ongelukkig was. Dit het beslis meer as een keer al gebeur dat iemand onder ‘n boom gekraam het, opgestaan en verder geloop het. Jou seun was seker 1 uit ‘n miljoen. As ek dit so mag stel, deel van julle uitgemete hartseer.
Ek is bly ek is nie in julle skoene nie.
Terloops, ek is mal oor julle rooi hare.
Dankie Adrie vir jou kommentaar.
Ja, dit is so dat baie mense ons veroordeel het. Ek sou nie sê ek het vrede daarmee gemaak nie, maar ek veroordeel myself nie meer nie en daarom het hulle oordeel nou minder krag om my seer te maak. Dit het my ook geleer om nie so vinnig ander mense se besluite of karakters of foute uitmekaar te trek nie.
Ek glo dat Loren vir ons gegee is om sekere redes. Die belangrikste daarvan is dat ons sy liefde kon ervaar. Dit het van ons baie gelukkige mense gemaak. Die hartseer oor sy dood laat ons ons vreugdes des te meer waardeer en geniet. Ek dink ons is begenadigde en bevoorregte mense ten spyte van ons hartseer en miskien juis daarom, as jy verstaan wat ek probeer sê.
Dankie vir die kompliment oor ons hare. Ek skat my arme man is seker net soms oorweldig.