Getuienis
Terwyl ek swanger was met beide my kinders het mense dikwels gevra of ons die geslag van die baba wou weet en ek het geantwoord dat ons dit as verrassing wou hou. En dan sê hulle: ‘Ag ja, dit maak tog nie saak nie. Solank die baba net gesond en normaal is, nê? Ek het toe al dikwels gewonder wat hulle eintlik bedoel. Beteken dit die lewe gaan stop as mens se baba NIE gesond of normaal is nie. Al wat ek geweet het van ouers met kinders met spesiale behoeftes, is dat ek bitter jammer vir hulle gevoel het. Op daardie stadium was dit egter nie my lewe nie.
Saam met Wennertjie in die NICU na sy geboorte was daar ‘n ander baba wat op 29 weke gebore is. Sy ma het toe al twee babas verloor op ongeveer 25 of 26 weke. Haar woorde aan my was. Solank hulle net leef. As sy ‘n keuse moes maak tussen dood of lewendig met gebreke sou sy lewendig kies. Elke keer. So ‘n besluit het op daardie stadium nie vir my maklik gelyk nie, want ek het dit nog nie geleef nie.
Maar nou is dit ons lewe.En uiteindelik besef jy dat daar nie tyd of ‘n nodigheid vir bejammering is nie. Dis wie jy word, wie ons word. Ons gesin, ons lewe. En op ‘n vreemde moeilike manier word alles maklik. Deure gaan oop waardeur jy andersins nie sou gekies het om te loop nie. (Met erkenning aan Christy Everett.) Maar agter elke een wag God vir jou.
As ek die tema van my getuienis moet beskryf sou dit wees: Keuses. Die lewe bestaan elke dag uit honderde van hulle. Daar is goed wat ek nie vir ons en vir ons kinders sou gekies het nie. Dis swaar om mens se kind te sien swaarkry. Ek hoef dit vir geen ouer te vertel nie. Daar is veral nagte wat ek plat op die grond op my gesig opeindig in smeekgebede en in hulpelose trane. Maar dis nie waarop ek kies om te fokus nie Ek kies om te fokus op God se genade en Sy krag in ons lewens.
Die eenvoudige waarheid is as ek altyd in trane gaan wees, gaan ek uitmis op die duisende klein wonderwerkies van ons kinders se lewens.
Een dag staan ek buite en Wennertjie is omgesukkel. Vegtertjie wil graag hê dat ek vir hom ‘n bal skop. En so met die baba in my arms staan ek met my swaarmoedige gedagtes terwyl ek half outomaties saam met Vegtertjie speel. Daar is in my nie ‘n greintjie vreugde nie. En skielik hoor ek Vegtertjie se helder lag en terselfdertyd sien ek hoe die sonlig op Wennertjie se haartjies val en dit in goud omtower. En dis asof ek wakker ruk en ek snak na my asem en dink: Liewe Here, kyk net wat HET ek!
Daarom kies ek om te bly glimlag – al is dit swaar. Ek kies om nie selfverwyt my lewe te laat reel nie en my nie deur ander mense in daardie rol te laat indwing nie. Ek kies om op God te bly hoop en vertrou.
In die ure, dae en maande na Wennertjie se geboorte was God se teenwoordigheid ‘n konstante bron van krag. Waar was God? By ons, om ons, bo ons, onder ons. Hy het Wennertjie in die oomblikke na sy geboorte opgetel en veilig gehou. Daarvan is ek oortuig. God het gewerk deur wonderlike mense. Daar was baie van ons gemeente en van ander kerke wat Jesus met ‘n vel om vir ons geword het. Wat op praktiese manier daar was vir ons en steeds vir ons bly bid. Een beeld wat my altyd sal bybly is ons buurman, Alistair wat dikwels besig was om die gras op sy sypaadjie te sny terwyl ons verby hom hospitaal toe ry. Ons sou vir mekaar waai, maar wanneer ek terugkyk in die truspieel, sien ek hoe sy waai verander in ‘n seëngroet wat hy volhou tot ons kar om die draai verdwyn. Ek
kan vir niemand beskryf hoeveel krag dit my elke keer gegee het nie.
Die Bybel het in ‘n lewende handboek verander. Ek sou graag een voorbeeld wou gee as ek mag. Wennertjie is gehospitaliseer in
Pretoria vir ‘n operasie om sy maagklep beter te laat werk. Terselfdertyd het ‘n pediatriese neuroloog ook na hom kom kyk. Hy het ons ‘n paar wenke gegee oor hoe ons Wennertjie kon hanteer en ‘n opinie uitgespreek oor sy uiteindelik prognose – distoniese serebrale gestremdheid. Ons as mense is nog maar eintlik ‘n “bull in a china shop” wat die brein aanbetref. Niemand
kan vir ons met sekerheid sê wat byvoorbeeld sy intellektuele vermoë sal wees nie. Die feit is egter dat mense met distonie nie sommer loop nie en die neuroloog het redelik brutaal gesê ons moenie bodder met sy hamstrings oefen as ons strekoefeninge met hom doen nie. Ek het vooraf besluit dat ek nie my prentjie van my kind se uiteindelike vermoëns sou laat kleur deur hierdie man of enigiemand anders se opinie nie. En dis ook maar goed, want Wennertjie het duidelik reeds sy eie agenda. Maar dit was nogtans nie lekker om dit te hoor nie. Ek het so gou as wat ek kon na die neuroloog weg is na my kamertjie in die hospitaal gedraf en die Bybel oopgeslaan op soek na troos. En die eerste teks wat my oog vang is die volgende. Dit was die New International Version se weergawe van Heb 12 “Therefore, strengthen your feeble arms and weak knees. “Make level paths for your feet,” so that the lame may not be disabled, but rather healed.”
Soms kom klop teksverse letterlik aan my bewussyn. Terwyl my kind in ICU lê met nierversaking, bly die teks: “My genade is vir jou genoeg.” by my opkom. Ek dink nogal geirriteerd dat ek nou nie juis ons kind wat in ICU lê as genade sal beskou nie. Maar toe ek uiteindelik gehoor gee en die teks gaan naslaan, sien ek die tweede deel daarvan waarvan ek vergeet het; “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor 12:9).
Iets wat beide Standvastige en ek baie gou besef het is dat Wennertjie Wennertjie is. Hy is nie sy kondisie nie. Sy naam beteken Oorwinnaar. En in daardie klein lyfie skuil ‘n ongelooflike veglus en deursettingsvermoë. Hy het al hoeveel kere
kans gehad om moed op te gee. En hy doen dit nie. Dieselfde Heilige Gees wat in almal van ons woon woon ook in hom. Dis nie ‘n kleiner gesie, omdat hy ‘n baba is nie. En dis nie ‘n kleiner gesie, omdat hy gestremd is nie. Dis die Gees wat mense in tale laat praat , wat dooies opwek en wat mense se lewens omkeer. En daardie Gees maak vir hom, ‘n klein gestremde baba, kragtiger as konings. Ja, ek het nodig om vir Wennertjie van Hom te vertel, maar Wennertjie ken God heel moontlik reeds beter as ek. Want Hy is in hom.
Ons wat Wennertjie ken, weet hoe ontvanklik hy vir liefde is. Hoe die vuisie teen mens se bors gedruk word wanneer jy by hom lê. Hoe hy nie sy Boeta vir ‘n oomblik uit die oog verloor nie en hoe hoogs ontsteld hy
kan raak wanneer Boeta ongelukkig is. Hoe hy na die honde soek met sy ogies wanneer mens vra waar hulle is. Hoe hy mense onthou wat hy nog maar een of tweemaal gedurende sy lewe gesien het. My hoop vir hom is groot.
En Vegtertjie? So baie mense is bekommerd oor sy welstand. Ons ook. En dis goed so. Dis so belangrik om steeds tyd saam met hom te spandeer en om hom net so baie te geniet as voorheen. Natuurlik is hy jaloers op die aandag wat sy boetie kry. Maar ai tog, mens moet darem hier dinge binne perspektief ook sien: Mense soos ons wat probeer om twee kinders minder as twee jaar uitmekaar te kry moet maar hulle koppe laat lees. Selfs met twee neurologies tipiese kinders sou ons in die moeilikheid gewees het.
Dat Vegtertjie hartstogtelik lief vir sy boetie is, is egter nie altemit nie. Hy dam sommer maklik vir enigiemand by wat hy dink ‘n bedreiging inhou vir sy boetie. Net nadat Wennertjie ontslaan is uit die hospitaal ‘n paar weke gelede kom hy by my en sê: Mamma. Jesus Boeta ‘sond maak. Beter asem haal.
Ons sien hoe werk God deur en met Wennertjie. Min mense het gedink hy sal sy eerste week oorleef. En hier is hy nog by ons. Hy kommunkeer miskien sy behoeftes moeilik. Maar ek dink dat God wil hê dat ons groot asseblief luister na wat Wennertjie NIE sê nie.
‘n Paar maande gelede is ons voor die hartverskeurende keuse gestel of ons hom net wou “gemaklik maak” - en ons weet almal waarvoor DIT ‘n eufemisme is - en of ons hom ‘n kans wil gee om te veg toe hy so baie siek was. Hy het die
kans om te leef met albei hande aangegryp. En ek moet sê: enige ou wat dit waag om my WEER daai vraag te vra, so asof my kind se lewe minder werd is omdat hy gestremd is, ryg ek sommer deur die diefwering.
Dieselfde met die kwessie van in ‘n inrigting sit. Ek veroordeel niemand wat daardie keuse moes maak nie. Hulle het hulle redes. Maar ons is ‘n gesin en die voorwaarde vir insluiting in hierdie gesin is nie gesondheid of normale ontwikkeling nie. Net soos wat ons nie deur God uitgesluit word omdat ons minder as volmaak is nie.
Bid asseblief vir ons vir wysheid en krag vir elke dag. Want ons besef om ‘n balans te hou gaan nie maklik wees nie. Dit is nie maklik nie.
Ek wil afsluit met die volgende. Ek sit dikwels en uitkyk na buite en sien in my geestesoog twee rooikopseuntjies buite speel. Hulle hardloop oor die gras en ek hoor hulle stry oor iets.. Hulle gaan hurk en die jonger een wys na ‘n goggatjie wat op die grond loop. Die ouer een sê iets en hulle skater van die lag, spring op en hardloop om die hoek van die huis. Dit is my hoop en waarvoor ek vra vir die toekoms. Vra asseblief saam met my hiervoor. En as ek aan enigiets anders bly vashou as hierdie beeld, sou ek die wêreld se grootste fool wees.
Kyk ook na Geloof Februarie 2007

MAG ONS HEMELSE KONING-MET JOU EN JOU FAMILIE WEES,VROU..HOU VAS AAN DIE WONDERLIKE GELOOF WAT JY OPENBAAR!!!!JY HET ‘n GAWE-JY KAN MENSE-WAT TWYFEL ,NA GOD LEI,JY,AS ‘n MENS IS DUIDELIK UITVERKIES VIR IETS BAIE GROOT!!!
Eunida
Baie dankie vir jou kommentaar. Miskien is ons maar almal uitverkies vir iets.
Ons is as gesin wel begenadig en baie dankbaar daaroor.
Goeie dag julle.
Ek het hier by die werk gesit en op internet gegaan en sien toe julle site,
Wel ek het n versoek,dit is eintelik n lang storie, ek weet nie hoekom ons deur al die drama gaan nie, maar God se niks gebeur sonder n doel nie.
My man het n paar jaar terug die verkeerde besluit gevat en as gevolg daarvan het ons alles verloor, in n mate is dinge tussen ons ook nie dieselfde nie. Hy het toe aan depressie begin lei. So het hy 3/6/07 begin bloed opgooi ek het met hom na n staatshospitaal toe gejaag, hulle het toe by maandag uitgevind dit is sy maagwand wat bloei en hulle kan niks daaraan doen nie, so het ons ek en my skoonma begin bid ek was nogal in n toestand want dit het gelyk of hy op sy laaste is, nou Jesus se deur sy wonde is ons genees, 1 Petrus 2;24. ek glo dit en bid dit elke dag, maar voel tog daar is onsekerheid by my man , sy naam is ronnie. Finansieel sukkel ons baie want ons begin weer van vooraf, ek werk maar my salaris is nie baie nie .
So ek wil julle vra om ernstig vir ons te bid , my meisiekind sy is nou nege my man en vir my.
Eerstens dat God ons sal sterk hou in sy woord dat ons nie sal terugval nieVir ronnie se vokome herstel
Dat God finansieel sal voorsien want op die oomblik huur ons,
Ek weet hoe meer gebed opgaan hoe beter dit is asof n mens dan meer glo, maar God moet ons lewe drasties verander, ek weet Hy wil nie he ons moet so sukkel nie en ons almal mos een familie.
Baie dankie
Groete
Amanda
Ek is ‘n enkel ouer vir die afgelope 13 jaar met ‘n serebraal gestemde dogter wat 15 jaar oud is. Ek het begin uitkyk vir ‘n inrigting nadat ek ‘n paar senuwee ineenstortings gehad het. Die koste is baie hoog en met geen onderhoud van haar pa nie sit ek tussen twee vure. Ek bid elke dag vir krag wat ek wel kry, en dit hou my aan die lewe.
Liewe Coleen
Ek weet hoe bevoorreg ek was om die ondersteuning van my man te gehad het. En natuurlik was Loren nog lig en maklik om te versorg.
Ek bid dat die regte dinge oor jou pad sal kom en vir wysheid. Dit wat jy nou in die gesig staar was een van my groot vrese. Ek bid ook vir jou vir krag. En as jy wil praat of ander bystand nodig het, ek is hier en ek verstaan beter as die meeste mense…Ek kan ook vir jou die nommer gee van ‘n vrou wie vir my persoonlik baie beteken het en wat in presies dieselfde situasie as jy was.