jump to navigation

Finito Oktober 5, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
29 comments

Gister was ‘n af dag om verskeie redes.

Natuurlik, in vergelyking met baie ander mense is ek/ons oneindig bevoorreg. AS dit hoegenaamd sin maak is ons juis bevoorreg omdat ons die vermoë het om te kan besef dat ons bevoorreg is. Ons het boonop niks gedoen om dit wat ons het of nie het nie te verdien nie. Ons is nie beter, ouliker of slimmer nie. Maar ons is ook nie slegter, leliker of dommer as ander mense nie. Ons is net.

Gemeet teen soveel anders mense is ons hartseer ‘n hanteerbare feit. Soos iemand gister gesê het: Dis ‘n rugsak wat jy elke dag optel en (moet) saamdra. Sommige dae is die rugsak ligter as ander dae. Ek stem nie heeltemaal saam nie. Die rugsak is elke dag ewe swaar, maar soms het mens meer krag om dit te dra. Soms laat mens toe dat ander mense of jyself bagasie byvoeg by die alreeds swaar rugsak. Soms kan jy jou las beter dra omdat jou aandag deur iets anders afgetrek word. Maar die rugsak is wat jy het. Jy ken jou vyand en die meeste dae “cope” jy.

Gedurende Loren se leeftyd het ek ge”cope”. Ek moes. Nou “cope” ek, want die alternatief is onaanvaarbaar.

Gisteraand was ek gatvol vir daai blerrie rugsak. Gatvol ge”cope”. Dit help nie ek probeer sin maak nie, want niks maak sin nie.

Daar is egter ‘n paar goed wat feite is soos koeie:

Poepholle word so gebore en sal so sterf. Ek kan niks aan hulle poepholstatus doen nie, maar ek hoef ook nie voor te gee hulle is enigiets anders nie. Ek soek hulle nie meer naby my nie. Hierdie huis en hierdie hart is nou amptelik ‘n poepholvrye sone. (Dirk, ek moes die blerrie man se wiele afgeblaas het toe ek die kans gehad het.) Maar my haat vir sekere mense neem te veel energie op. Toe Loren geleef het het ek my woede nodig gehad om te baklei vir hom. Nou maak dit my net moeg.

Van vandag af is hierdie blog gesluit. Nee ek gaan nie ‘n wagwoord opsit nie. Hierdie was my joernaal en dit bly wat dit is.

Ek het my Facebook account gedeactivate. E-mail my as jy met my wil praat. Bel is ook welkom. Regtig, ek het wonderlike mense op blogs ontmoet. (Jy ook Rosalind!)

Ek skuld Rosalind ‘n pos oor depressie. Net dit.

Akademiese joernale is basies tjol. Gee my liewer ‘n paar duisend outjies wat 40 jaar na die behandeling nog leef sonder enige noemenswaardige kwale en ek glo jou met graagte. Ook asseblief akademiese artikels wat 40 jaar daarna nog dieselfde ding propageer.
Maar jy gaan hulle selde kry.

As jy jou eie akademiese joernale wil lees sal jy sien dat ‘n holistiese benadering in die behandeling van depressie meer insluit as ‘n pilletjie sluk en gaan vir terapie. Die voordeel wat lewenstylaanpassings inhou vir depressielyers is redelik goed gedokumenteer. Ek glo dit egter nie omdat dit in ‘n tydskrif staan nie. Ek glo dit omdat dit vir my logies sin maak.

Ek gaan nie eers vir jou die scenario uitwys van ‘n ongeletterde brandarm mens wat hulp vir depressie moet gaan soek by ‘n staatshospitaal en opeindig met ‘n buitelandse dokter wat dink hy kom red Afrika wie se eerste taal nie dieselfde is as die interpreteerder wie se eerste taal nie dieselfde is as die dokter of die pasient s’n nie en wat die hele onderhoud bedryf in ‘n lingua franca wat niemand se eerste taal is nie. As die pasient in die eerste plek ‘n dokter te siene kry. En dan werk daardie anti-depressant nie of die dosis werk nie en dieselfde brandarm ou moet nog ‘n dag afvat by die werk (as hy ‘n werk het) om terug te gaan om deur die hele proses van voor af te gaan. Miskien nog ‘n derde of vierde keer ook. Die gevaar van selfmoord is hoogste net na anti-depressante begin gebruik word. Voeg daarby moontlike alkoholmisbruik of dwelms. Aantreklike prentjie?

Rosalind, dis nie so eenvoudig soos: Drink net jou ou pilletjie en jou familie omring jou met liefde en vrede en alles is honky dory nie. Dis ‘n goeie beginpunt(wat party mense nie eers het nie, soos jy tereg opmerk), maar dis nie al nie.

Ek herhaal: Ek raai niemand aan om hulle pille te los nie. In elk geval is enigiemand wat die raad van ‘n gesiglose persoon op ‘n blog (ja, joune ook Rosalind!)volg net so dom soos die ou wat die dokter se raad volg sonder om eers self daaroor te gaan besin.

Deelnemers September 29, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
9 comments

Soms dwing lewensomstandighede mens om te verander van die toeskouer met die hoed en Coke wat luilekker op die paviljoen sit in die maratonatleet wat kragte meet teen homself, ander en die elemente. As jy ‘n deelnemer geword het, geld die volgende:

1.Wen is minder belangrik as om die wedloop te voltooi.
2.Om te bid help verseker, maar niks sal gebeur as jy nie daardie eerste treetjie gee en daarna nog een en nog een en nog een tot die pad opraak nie.
3.Styl is op die ou end onbelangrik.
4.’n Toeskouer wat van die kant af aanmoediging skree is nie so effektief as ‘n kameraad wat ten minste ‘n deel van die pad saamhardloop nie.
5.Dis te laat vir goedbedoelde raad.
6.Kritiek is beslis onwelkom.
7.Om nie te “cope” nie is ‘n luukse wat ‘n deelnemer nie het nie.
8.Gemeet teen die alternatiewe is om by die eindstreep aan te kom, die beter opsie.
9.Pyn is ‘n barometer van lewe. As dit nie seer is nie, is jy dood.
10.Die verantwoordelikheid om sy eie wedloop te voltooi berus by elke deelnemer.

Danksy September 24, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
7 comments

Danksy besonder produktiewe dae Dinsdag en Woensdag is daar goedjies gedoen wat ek lankal wou doen, maar jy weet mos….

Goed wat eenvoudig 0% op my skaal van traak-’n-hel was soos vensterswas ook. En raai, al het ek nie ‘n dooie duit omgegee oor die vuil vensters nie, is dit darem ‘n plesier om deur skones na die werf te kyk. :lol:

Ten einde beter gebruik te maak van die ou sonkolletjie wat nie deur vrugtebome se skadu beduiwel word nie, gaan ek die wasgoeddraad (‘n ellelange kontrepsie met die tipiese T-vormige pale wat die wasgoed aljimmers op die grond laat sleep) tot niet maak en ‘n draaiende sirkelvormige een installeer. Ek het sy staandertjie in beton vasgegooi en wag nou ongeduldig vir die beton om droog te word. Ek het ongelukkig ‘n paar keer my humeur met die kinders verloor toe hulle wou “help” en van die peperdure sement orals mors, Marco bly neul dat hy water by die mengsel wil gooi en Magnus grond in die gat wat ek so pas gegrou het bly teruggooi. Sodra ek my rug draai om die een se kwaaddoen reg te maak, is die ander een al weer druk besig met iets anders onheilig. Op ‘n stadium het dit vir my kompleet gevoel ek poep teen donderweer.

Marco het ‘n formidabele R10 elk vir twee witrotte betaal. Dirk brom hulle moes ons eerder R20 betaal het om die rotte oor te neem, maar Danielle – die dogtertjie wie se rotte dit was – is duidelik ‘n besigheidsvrou. Een van die geheime van ‘n winsgewende besigheid is om die klant te laat glo dat jy HOM die guns doen om jou produk aan te skaf. Dit vereis nogal kophou om die katte en die rotte se paaie nie te laat kruis nie. Ek hoop maar die rotte se senuwees is sterk, want die katte is baie geduldig…

Ons het Afrikaanse bure agter ons ontdek. Dis eintlik mense wat ons van sien geken het, maar nie besef het ons is bure nie. Dit is ‘n raar genoeg gebeurtenis in hierdie Engelse dorp om te vier met ‘n teedrinksessie en ete en dis natuurlik presies wat ons vandag gedoen het.

Lank lewe Nasionale Braaidag.

Paddling like crazy underneath. September 21, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
1 comment so far

Duck

Die naweek was lekker en die week voor sluit darem ‘n ou vakansiedaggie in. Daar is egter hope goed wat gedoen moet word en net twee hande wat dit kan doen.

Tjerriebaai tot ek weer kop uitsteek!

Verklaar dit… September 18, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
12 comments

Dreams: Children of the night, of indigestion bred – Charles Churchill

Ek het vanmore opgestaan met ‘n kop vol watte na ‘n nag vol weird drome.

Ons trek na ‘n massiewe ou huis in Durban (Arts and Crafts-erig – ten minste het my drome goeie smaak) wat ek nog nooit gesien het nie, maar ek is mal oor die huis.

‘n Dogtertjie is daar doodgeskiet en iemand het ‘n roubeklag op die (kurk?) vloer uitgekerf. Onder die kurk is hout, maar ek dink by myself dat ek die kurk so gaan hou om die hout te beskerm. Ek sny die roubeklag netjies uit met ‘n mes en las ‘n skoon stukkie kurk in. Doodtevrede kyk ek na my werk, toe ek sien die mense wat trek het iets met metaalpote oor die vloer gesleep en ‘n groef in die kurk gesleep.

Die muurpapier is sulke somberkleurige strepe met rye blommetjies wat plek plek in repe hang en ek dink “Hierdie muurpapier gaan ek aftrek om die hekelwerk onder dit te ontbloot”.

Ek verskoon myself om te gaan kyk hoe die slaapkamers lyk, want ek moet darem vir die trekkers laat weet in watter kamers om watter beddens te sit. (Of ons nie in elk geval almal bymekaar slaap nie…!)

Toe ek terugkom het die vrou in wie se huis ons intrek vir laas ‘n teepartytjie saam met vriende. Op die dag van die trek, met mense wat meubels orals uitdra en stoelkussings onder die gaste se boude uithaal om dit op die trekwa te gaan laai. Sy is baie vriendelik en nooi my om ook tee te drink. Toe ek vir my tee wil skink sien ek dis sop en ek moet dit met ‘n soplepel inskep in sulke kommetjies. Net toe ek klaar geskep het kom staan al die trekkers in ‘n ry en wag dat ek vir hulle ook sop inskep. En soos ek vir hulle inskep, mors ek my sop uit my kommetjie tot daar net ‘n slukkie vir my oorbly.

Dirk brom hy’t ook iets snaaks gedroom. Wat sou ons geëet het wat so ‘n dromery aan die gang kon gesit het?

Wat is die vreemdste droom wat jy al gehad het en kon jy dit “verklaar”?

Meer as September 16, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
6 comments

Ek is oortuig dat ons meer is as die som van ons biomeganiese en chemiese samestelling. Einstein het blykbaar gesê:The field is the sole governing agency of the particle. Ek en ‘n paar ander mense glo dat as mens aan die mensdom as die “particle” dink, die “field” oftewel gees oorheers.

Onlangse navorsing begin al meer in twyfel trek dat ons in ‘n meganiese heelal leef, dat ‘n mens se genetika jou lewe bepaal, dat lewe gebaseer is op die oorlewing van die sterkstes of dat lewe die gevolg is van ‘n ewolusie.

Dit hou implikasies in vir hoe ons gesondheid beleef, hoe persepsie verander van ons as slagoffers van omstandighede na meesters van ons eie lewens en dat ons deel is van ‘n groter geheel – wat sekere verantwoordelikhede inhou.

Of mens nou in God glo of nie – en ek doen – is daar iets wat bepaal hoekom mense in presies dieselfde omstandighede met baie dieselfde genetika so absoluut verskillend reageer daarop.

Ek hoef maar na die natuur om my te kyk om te besef dat daar alledaagse wonderwerke plaasvind. Wonderwerke wat ons geheel as vanselfsprekend aanvaar en wat affirmasies word van lewe.

Ons het vroeër die jaar met ‘n klein groentetuin begin. So organies as wat ons kan. Alreeds het ons ‘n goeie aartappeloes gehad, spinasie is altyd volop, ons oes nou ons eerste broccoli en ertjies dop die kinders sommer so uit die peule en eet dit soos lekkertjies. (Ja, hulle wat verseg het om hulle monde aan enigiets groens te sit.) Altyddeur probeer ons nuwe maniere en soorte groente. Daar is ‘n grasie en waardigheid daaraan om pitte in die grond te sit en te weet dat jy nie ‘n groter las op die aarde plaas as wat dit reeds dra deur chemikaliee en giwwe in die sisteem in te pomp nie. Om te weet die aarde sal reageer en gee wat ons nodig het. Haar beste.

Dit maak vir my sin om te aanvaar ons liggame is volmaak geskape en om so getrou te bly aan hoe ons liggame veronderstel is om te werk as moontlik. Dit sluit in vanaf die manier waarop ons gebore word tot die manier wat ons veronderstel is om te sterf. Ons is self verantwoordelik vir ons gesondheid sonder om hoofsaaklik staat te maak op “quick-fix” oplossings met newe-effekte en ‘n onvermoë om die wortel van die probleem op te los.. Voorkoming eerder as genesing.

Een van my nuwe vriendinne noem tuisonderrig ‘n roeping (vir haar). Ek was eers ongemaklik met die gedagte tot ek besef het sy bedoel nie tuisonderrig in teenstelling met iets anders of as ‘n helige graal nie. Sy bedoel bloot as die beste opsie vir HAAR gesin, gegewe HAAR omstandighede. Marco is nog te klein (5) om hoegenaamd te praat van iets soos tuisonderrig. Ek verstout my om te sê kinders op die ouderdom van Graad R is ook nog te jonk om werklik te “onderrig.” Wanneer die tyd egter reg is, glo ek dis die roete wat ons sal kies. Hou gerus ‘n nuwe blad dop op hierdie blog waar ek losweg joernaal gaan hou van goeters wat ons reeds aanpak.

Daar is genoeg goed en lekker en positief in die lewe om te fokus daarop. Mooi is volop vir die met oë wat die mooi bly soek. Om te glo jy kan, is om reeds halfpad die stryd te gewen het teen ‘n doodsheid van die gees.

Ek wil graag op Loren se grafsteen die teks laat aanbring wat ek gelees het in die vroee oggendure na sy dood. “Dood, waar is jou angel? Dood, waar is jou oorwinning?” 1Kor 15.

Vir my beteken hierdie teks meer as dat Loren eendag weer sal lewe of reeds bly voortleef op ‘n ander vlak. Dit sluit vir my hoop in dat ook die lewe nou alreeds ‘n oorwinning oor die dood kan en moet wees.

Slag die koeie en eet vleis September 16, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
4 comments

“At this time too, the cunning farmer will walk the ploughed fields looking for mother stones, those stones apparently made of many smaller stones bound together as in a pudding, and root them out so that they do not breed, for surely everyone has noticed how fresh stones appear after rain, in a field previously quite emptied of them. It is by Clear Observation such as this that culture may Progress, and not by rank superstition.”

“Clean thy Dovecot: but leave a bastion of droppings around the hole to protect new eggs and the first hatching against the icy blast. In truth, anyone who marvels at the cooing of doves should see their nest sometimes and gain much cynical wisdom thereof.”

Astrology 1

Astrology 2

The Discworld Almanak – Terry Pratchett

Dertien. Want “ons” is nog nie engeltjies nie. September 15, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
8 comments

Ek verpes:

Mense wat vol twak is. Niks is ooit reg nie. Erf hulle die kroonjuwele sal dit opsluit te blink vir hulle wees.

Mense wat alewig kla oor iets, maar nie bereid is om iets aan die situasie te probeer doen nie. Die munisipaliteit sny nie die sypaadjie se gras nie? Sny jy dan voor jou eie huis.

“DIE KOS BRAND” of “Kan jy nie sien die kind se doek is vuil /is besig om droog te maak nie?”. Skuif dit weg of stel die stoof laer. Ruil dit. Doen iets daaraan. Maklik. Veral as jy staan en twak praat, eet of leun op die inkopiewaentjie en ek doen iets nuttiger soos om alreeds te probeer regmaak waar ‘n kind verbrou het, op die toilet sit of tot by my elmboe in deeg is.

Mense wat my verantwoordelik hou vir hulle kinders terwyl hulle staan en ‘n hond uit ‘n bos kuier. Natuurlik sal ek keer as ek sien die bloedjie gaan by ‘n plek afduiwel, maar myne hou my besig genoeg. So as ek daar staan, beteken dit nie ek let noodwendig op na jou bloedjie se doen en late nie. Ek kyk na myne, jy kyk na joune tensy jy my spesifiek vra. Enigiets meer is ‘n bonus. Deal?

Mense wat altyd probeer om moeite te wees. Ek maak koffie, want ek weet hulle drink gewoonlik koffie en ek is self lus vir koffie en hulle trek hulle neuse op en vra tee: Rooibos, met ‘n druppel melk en een en ‘n halwe teelepel bruinsuiker. Asseblief. I live to serve.

Aangeleerde hulpeloosheid.

Fiemies met kos. Jy eet wat ek maak of jy bly daarsonder. Punt.

Tensy daar ‘n gogga in is of die kos vrot is of dit geheel en al nie is wat jy gevra het nie, EET DIT EN HOU JOU SNATER. Al betaal jy daarvoor. Mense wat die kelner terugjaag omdat die kos nie presies veertig grade is nie, nie genoeg is nie (tensy jy darem ‘n mikroskoop nodig het daarvoor) of, nog erger, omdat die kos koud is WANT HULLE het gesit en nonsens praat, laat my oombliklik my lus vir hulle geselskap verloor. Moet ook nie verwag ek gaan jou kos/drinkgoed in my kombuis terugneem om warm te maak as dit aanvanklik warm genoeg was nie.

Enige vorm van ongeskiktheid. Dit sluit ‘n doelbewuste poging in om die kelner se lewe moeilik te maak. Kyk na die spyskaart, vra as jy onseker is en bestel dan. Almal is honger en ons wil liewer met jou gesels as om aan te hoor hoe jy die kelner staan en martel.

Skinder. Veral as jy dink ek is doof (omdat jy nie lekker hoor nie) en my kliphard in my eie huis sta’ en beskinder.

Gaaf as jy my kinders reghelp met hulle maniere. Ek glo aan positiewe versterking. Nie so gaaf as jy my dadelik begin vertel hoe soet jou kinders is /streng jy is / hoe kinders nie vir die verderf grootgemaak behoort te word nie.

Moenie my raad vra, doen wat jy in die eerste plek wou gedoen het en dan kla nie.

Moenie “ons” tensy jy baie seker is ek stem met jou saam nie. En o hel, moenie my vra :”Hoe gaan dit vanmore met ons?” nie. Ek en al my ander persoonlikhede spring onmiddelik op ons perdjies.

Sundownertyd… September 14, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
8 comments

Cathedral Peak 2

Drie

Kameelperdjies

Sambrele

Leeus

Antwoorde op knelvrae September 14, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
15 comments

Krista

Hou jy van tjoklits? Indien wel, watse tipe/flavour?
O ja! Ek is glad nie kieskeurig nie (dit hoef nie eers duur te wees nie), maar as ek moet kies, iets soos Toblerone of iets met ‘n toffie of fudge vulsel.

Drink jy? Wat?
Koffie of rooiwyn. Soms kondensmelk uit ‘n blik. Tel dit?

G-string, bikini, hi-cut of brief? Of niks?
Al bg. Afhangende van bo-klere of geleentheid.

Lees jy fiksie?
Ja, ek lees meer fiksie as nie-fiksie.

Wie is van jou gunsteling skryfers?
Terry Pratchett, PG Wodehouse, Dick Francis, JK Rowling, Pat Conroy, Scott-Fitzgerald, John Grisham, Agatha Christie, Audrey Blignault, Esta Steyn, Dalene Matthee. PH Nortje, Eleanor Baker en nog baie ander waaraan ek nou nie kan dink nie.

Op die kombuistafel, die sitkamerbank of die agtersitplek van die kar?
Enige plek

Wat wou jy word toe jy ‘n klein dogtertjie was?
‘n Boer

Het jy pop gespeel of karretjies?
Karretjies

Wat is jou gunsteling kleur?
Dit wissel na gelang van bui of die voorwerp wat die kleur is. Net om hemelsnaam nie pienk nie.

Valletjies en lintjies of sterk en deugsaam?
Ai, ek bewonder die valletjies en lintjies, maar eindig gewoonlik op met sterk en deugsaam.

Maxie

1. Hoe ontspan jy?
Deur alleen te wees. Mense stress my. Deur te dink, dagdroom, kreatief te wees of te lees.

2. Het jy ‘n gunsteling cartoon karakter en wie?
Muttley

3. Aan watter kant van die bed slaap jy?
EK sou graag wou sê ek vermy ‘n groef deur dit af te wissel, maar die waarheid is dat ons slaapgewoontes op die oomblik erg deurmekaar is. Ek slaap enige kant waar daar vir my plek is. :lol:

4. Jy het iewers genoem dat jy lank terug ongeveer 20kg verloor het. Hoe het jy dit reggekry?
Deur aanvanklik porsies te halveer (hoe meer mens eet, hoe meer wil jy eet), suiker en vet te verminder en te oefen.

5. Is daar tye wanneer jy sommer laf raak – letting your hair down? (Dalk ‘n swak vraag met 2 kindertjies!)
Ja, maar nie so dikwels as wat ek graag sou wou nie. Daar is mense in wie se geselskap ek hulpeloos op die grond rondrol van die lag. Dirk as hy op sy stukke is bv… En die kinders bring my speelse kant nogal uit.

6. Hoe lank is jy?
1,72m

7. Gunstelingfliek?
Ek het te min gefliek die afgelope paar jaar. Wat nou by my opkom is Dead Poet’s Society en The Pianist

8. Gunstelingblom?
Varkoor

9. Gebruik jy parfuum? Gunsteling?
Ja, meestal. Chanel no 5

10. As jy een wens kon he, wat sou dit wees?
Dat Jesus gou weer moet kom.

Adrie

1. Jy het aan 3 seuns geboorte geskenk. Is jy ‘n seuntjie mamma of smag jy heimlik na ‘n dogter?
Ek was doodbang om ‘n seuntjie te hê, want ek het net ‘n suster. Maar nou besef ek hoeveel pret seuntjies is en dat ek dalk sou sukkel met popspeel (wat ek nie eers as kind gedoen het nie). Ek sal steeds nie omgee om ‘n dogtertjie te hê nie, maar ek begeer nie ‘n dogtertjie genoeg om nog ‘n kind te hê nie. Ek speel maar met ander mense s’n.

2. Het jy onkonvesioneel groot geword of groot onkonvesioneel geword. Verduidelik.
Ek dink nie ek het juis ‘n onkonvensionele kinderlewe gehad nie en ek lei ook nie ‘n besonder onkonvensionele grootmenslewe nie. Ek het egter net nog nooit tuis gevoel in ‘n bondel nie en dis ‘n aspek van my persoonlikheid wat sterker word hoe ouer ek word.

3. Hoekom juis windpompe en vygies?
Op die tyd wat ek die blog begin het, het ons ‘n jaar reg uit die hel agter die rug gehad. Windpompe het juis die wind van voor nodig om ten beste te werk en vygies blom ongelooflik mooi met net ‘n bietjie reën.

4. Hou jy van jou rooi hare? Indien nie, watter kleur sal jy graag wou he?
Ek hou van my hare. As ek nie so lui was vir die “maintenance” nie, sou ek egter graag ‘n hele paar kleure wou uitprobeer. Miskien moet ek wag tot ek so ‘n bietjie gryser is en dan laat waai…

5. Was jy ‘n prefek op skool?
Laerskool ja, hoërskool nee.

6. Hoe oud was jy toe jy die eerste keer dronk geword het?
Ek was nog nooit so dronk dat ek niks kan onthou of dronkverdriet gehad het nie. Ek het genoeg probleme met myself terwyl ek nugter is sonder om nog drank by die mix te voeg. Tipsy… iewers op universiteit. Die dronkste wat ek nog was is van ‘n kombinasie van witwyn en vetterige seekos. Ek wou net lê en slaap.

7. Mans of vroue vriende?
Die meeste van my hegte vriende is vroue, maar ek kom goed met mans ook oor die weg.

8. Iets wat jy wil bereik voordat jy 50 word?
Dis oor net bietjie meer as 10 jaar suster! Ek sal moet opskud. Dalk om my humeur beter te beheer?

9. Kan jy split?
Ek is styf gebore. As ek sou probeer split, sal dit ‘n nare gemors afgee.

10. Kan jy ‘n kersiestam met jou tong knoop?
Natuurlik (Jel, ek dink nie eers ek sal dit met my hande regkry nie.)

11. Op ‘n skaal van 1 – 10, hoe goed soen jy?
10

12. Jy het gese jy het vrae vir my? Is dit so moeilik om te formuleer? :mrgreen:
Al die goeies was klaar gevat. Okey, Suduko, blokkiesraaisels of: “Is jy laf, ek mors nie my tyd so nie!” ?

Carina

Net een vraag:
As jy jou lewe kon oorhe (soos in heeltemal van scratch af), sou jy steeds hierdie een gekies het?

Dit sou afhang van wat die alternatief sou gewees het. Better the devil you know, jy weet? Ek kry soms swaar (wie doen nie?), maar ek het ook geweldig baie voorregte. Sê nou maar ‘n alternatiewe lewe het glad nie vir Loren ingesluit nie. Dan liewer hierdie een waarin ek hom kon geken het al het ons hom te vroeg verloor. ‘n Lewe waar ek aldrie kinders gesond en gelukkig by my kon hê? Natuurlik! Maar soos ek die lewe uitkyk, sou die swaarkrydeel ook maar daar iewers gewees het. Keuses wat ek gemaak het het ek na die beste van my vermoë gemaak en die meeste sou ek in elk geval herhaal.

Wipneus

Jou most embarrassing moment? ;)

Sjoe, ek slaan my naam so gereeld met ‘n plank, ek het moeite om te kies. Miskien die keer toe ek die skoolhoof amper met ‘n spies doodgegooi het by die atletiekuitdunne. Nugter weet wat die man reg agter my gesoek het.

Het jy ‘n weird gewoonte?
Ek sit met my stoel ver agteruitgestoot (by ‘n tafel) en perch op die voorste puntjie van die stoel. Niemand kan agter my verbykom nie en as hulle teen my stoel stamp, wip ek my onmiddelik.

Rooikoppe word gewoonlik met ‘n humeur geissue ;) Is jou lont kort en indien wel hoe hou jy dit in toom? (Ag toe Nelba gee die magic trick) :lol:
Wipneus, ons is ongelukkig in dieselfde bootjie. My lont is bitter kort. Ek probeer my kinders leer om nie goed stukkend te gooi nie en dan doen ek dit self. Sien vraag 8 by Adrie se vrae.