jump to navigation

Finito Oktober 5, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
trackback

Gister was ‘n af dag om verskeie redes.

Natuurlik, in vergelyking met baie ander mense is ek/ons oneindig bevoorreg. AS dit hoegenaamd sin maak is ons juis bevoorreg omdat ons die vermoë het om te kan besef dat ons bevoorreg is. Ons het boonop niks gedoen om dit wat ons het of nie het nie te verdien nie. Ons is nie beter, ouliker of slimmer nie. Maar ons is ook nie slegter, leliker of dommer as ander mense nie. Ons is net.

Gemeet teen soveel anders mense is ons hartseer ‘n hanteerbare feit. Soos iemand gister gesê het: Dis ‘n rugsak wat jy elke dag optel en (moet) saamdra. Sommige dae is die rugsak ligter as ander dae. Ek stem nie heeltemaal saam nie. Die rugsak is elke dag ewe swaar, maar soms het mens meer krag om dit te dra. Soms laat mens toe dat ander mense of jyself bagasie byvoeg by die alreeds swaar rugsak. Soms kan jy jou las beter dra omdat jou aandag deur iets anders afgetrek word. Maar die rugsak is wat jy het. Jy ken jou vyand en die meeste dae “cope” jy.

Gedurende Loren se leeftyd het ek ge”cope”. Ek moes. Nou “cope” ek, want die alternatief is onaanvaarbaar.

Gisteraand was ek gatvol vir daai blerrie rugsak. Gatvol ge”cope”. Dit help nie ek probeer sin maak nie, want niks maak sin nie.

Daar is egter ‘n paar goed wat feite is soos koeie:

Poepholle word so gebore en sal so sterf. Ek kan niks aan hulle poepholstatus doen nie, maar ek hoef ook nie voor te gee hulle is enigiets anders nie. Ek soek hulle nie meer naby my nie. Hierdie huis en hierdie hart is nou amptelik ‘n poepholvrye sone. (Dirk, ek moes die blerrie man se wiele afgeblaas het toe ek die kans gehad het.) Maar my haat vir sekere mense neem te veel energie op. Toe Loren geleef het het ek my woede nodig gehad om te baklei vir hom. Nou maak dit my net moeg.

Van vandag af is hierdie blog gesluit. Nee ek gaan nie ‘n wagwoord opsit nie. Hierdie was my joernaal en dit bly wat dit is.

Ek het my Facebook account gedeactivate. E-mail my as jy met my wil praat. Bel is ook welkom. Regtig, ek het wonderlike mense op blogs ontmoet. (Jy ook Rosalind!)

Ek skuld Rosalind ‘n pos oor depressie. Net dit.

Akademiese joernale is basies tjol. Gee my liewer ‘n paar duisend outjies wat 40 jaar na die behandeling nog leef sonder enige noemenswaardige kwale en ek glo jou met graagte. Ook asseblief akademiese artikels wat 40 jaar daarna nog dieselfde ding propageer.
Maar jy gaan hulle selde kry.

As jy jou eie akademiese joernale wil lees sal jy sien dat ‘n holistiese benadering in die behandeling van depressie meer insluit as ‘n pilletjie sluk en gaan vir terapie. Die voordeel wat lewenstylaanpassings inhou vir depressielyers is redelik goed gedokumenteer. Ek glo dit egter nie omdat dit in ‘n tydskrif staan nie. Ek glo dit omdat dit vir my logies sin maak.

Ek gaan nie eers vir jou die scenario uitwys van ‘n ongeletterde brandarm mens wat hulp vir depressie moet gaan soek by ‘n staatshospitaal en opeindig met ‘n buitelandse dokter wat dink hy kom red Afrika wie se eerste taal nie dieselfde is as die interpreteerder wie se eerste taal nie dieselfde is as die dokter of die pasient s’n nie en wat die hele onderhoud bedryf in ‘n lingua franca wat niemand se eerste taal is nie. As die pasient in die eerste plek ‘n dokter te siene kry. En dan werk daardie anti-depressant nie of die dosis werk nie en dieselfde brandarm ou moet nog ‘n dag afvat by die werk (as hy ‘n werk het) om terug te gaan om deur die hele proses van voor af te gaan. Miskien nog ‘n derde of vierde keer ook. Die gevaar van selfmoord is hoogste net na anti-depressante begin gebruik word. Voeg daarby moontlike alkoholmisbruik of dwelms. Aantreklike prentjie?

Rosalind, dis nie so eenvoudig soos: Drink net jou ou pilletjie en jou familie omring jou met liefde en vrede en alles is honky dory nie. Dis ‘n goeie beginpunt(wat party mense nie eers het nie, soos jy tereg opmerk), maar dis nie al nie.

Ek herhaal: Ek raai niemand aan om hulle pille te los nie. In elk geval is enigiemand wat die raad van ‘n gesiglose persoon op ‘n blog (ja, joune ook Rosalind!)volg net so dom soos die ou wat die dokter se raad volg sonder om eers self daaroor te gaan besin.

Comments»

1. Xena - Oktober 5, 2009

Ek het al lankal geleer dat party mense se menings meer tel as ander s’n. Dan is daar nog ‘n spul mense wie se menings se gewig selfs nog meer is. Hulle is oortuig daarvan dat hulle nooit verkeerd is nie en almal humor hulle daaroor.

Well done dat jy die moed het om op te staan. Dit is baie waar dat daar nie een resep is wat vir almal werk nie. Indien dit wel die geval was, het goed soos depressie genees.

Ek vir een gaan jou kwaai mis. Ek hoop jy heroorweeg die stap gou.

Nelba - Oktober 5, 2009

Dankie man, ons sal kontak hou!

2. kaalvoetinireen - Oktober 5, 2009

Dis verseker nie net so maklik soos drink jou pille en jy’s fine nie. Ek weet…
Alles van die beste vir jou en ek hoop ons sal jou darem nog hier rond sien ;-)

Nelba - Oktober 5, 2009

Sal inloer by jou!

3. Vlam - Oktober 5, 2009

Ek gaan jou baie mis.

Nelba - Oktober 5, 2009

Dankie, Vlam!

4. Girl van die Suburbs - Oktober 5, 2009

Ek dink nie jy moet jou aan enige iemand in die blogsfeer steur nie. Regtig!

Om boek kennis te he oor ‘n onderwerp, veral sensitiewe onderwerp soos depressie en selfmoord en om werklik eerste handse kennis te he kan nie vergelyk word nie, Nelba.

Gee jou mening oral tot iemand jou vra om nie weer op hulle blog te kom nie! Ek dink jou standpunt was valid. Ek het nou gesien niks wat ek se gaan enigsins ‘n duik maak in hulle teorie nie en het maar stil gebly…. anders het ek emosioneel betrokke gereageer… Dit is ‘n ongelooflike teer puntjie vir my.

Nee wat… Hulle se moer… moet jou nie aan hulle steur nie!

Xena Phoenix - Oktober 5, 2009

Hoor hoor

Nelba - Oktober 5, 2009

Nee, ek steur my nie regtig daaraan as iemand anders ‘n opinie het wat verskil van myne nie. Hulle is geregtig op hulle opinie. Dit sal my nie laat ophou blog nie. Ek is maar net op die oomblik besiger met ander goed. Ek weet jy’t nogal erg eerstehandse kennis van depressie en.. ja.. nie ‘n maklike paadjie wat jy moes stap nie! Sterkte vir jou.

Girl van die Suburbs - Oktober 5, 2009

Ek sien ek tik soos my gat…. Ek wou se ek sou emosioneel betrokke raak toe verander dit na reageer…

Kyk… as ek eers emosioneel raak oor ‘n saak dan kan niemand met my huis hou nie…

Ek wens egter ek was nie so ‘n pissie nie… want ek voel nog steeds hulle is verkeerd…

5. hoednkaalvoet - Oktober 5, 2009

Nelba, dankie vir alles wat jy geskryf het. Ek hoop jy kom weer terug, want dit wat jy skryf help soveel ander ook. En as part dink dat dit so maklik is om depressie te oorkom was hulle dalk net nog nie waar jy is en was nie. En soms as ek voel dat ek na al ons familie drama oraait is omdat ek nie depressie het nie, dan dink ek net, nee, ek was nog nie daar nie.
Sterkte met jou pad, met die dra van jou sak.

Nelba - Oktober 5, 2009

Sterkte vir jou ook!

6. Wipneus! - Oktober 5, 2009

Hi Nelba

Op jou about page staan die volgende:
“Ek blom as die son oor my opkom en is dankbaar vir die lafenis van reën. Ek weet waar my hulp vandaan kom”
Daar is baie mense daarbuite wat ook graag wil blom. Wat inspirasie hier op jou blog gekry het om te “cope” Dankie.

Wipneus gaan jou erg mis!!

Nelba - Oktober 5, 2009

Ek sal nog daar by jou inloer. Kry altyd inspirasie daar. Dankie!

7. Sonlig - Oktober 5, 2009

Nelba, om vinnig hier te loer was vir my om telkens bietjie te ontsnap en daar in jou kombuis te kuier…te luister, te deel, te sien wat die seunskinders aanvang en soms net bietjie inspirasie te put uit jou daaglikse. Ek sal dit mis!

Dankie vir al jou “sharing” – soms van dinge wat seer ook was.

Jy moet doen wat vir jou die beste is. Buiten vir e-mail, sal ek maar so kort-kort hier kom loer. Just in case…

Nelba - Oktober 5, 2009

Ag, dis lekker dat jy kontak behou! Dankie vir jou inloer hier.

8. rosalindfranklin - Oktober 5, 2009

Girl: ek het eerste handse kennis van selfmoord en depressie, dit is nie net boeke kennis nie.

Dalk weet ek meer oor staatshospitale was wat jy dink, dalk was ek self al daar vir hulp. Ek kom baie by staatshospitale.

Ek ken Sterkfontein, Vlakenberg, Stikland, lentegeur, ek was al by al vier die hospitale.

Ek het nooit gese dit is so eenvoudig as drink ‘n pilletjie nie en kry wil vir vriende nie. Noem my maar gesigloos, dis fine. Jy hoef nie op te hou blog net omdat ek se die navorsing wat in mediese joernale voorkom is goed nie (dit is ook nie n tydskrif nie)

Almal kan vir my vies wees, ook fine.

Maar ek ken depressie, selfmoord, angsstoornisse, gemoedstoornisse.

Nelba - Oktober 5, 2009

Rosa, soos Xena Phoenix sê dis absoluut 100% dat jy kennis het en dit deel, maar daar is ander ouens ook wat die pad stap. Mense sien goed eenvoudig nie dieselfde nie. Niemand trek in twyfel dat jy dit baie goed bedoel nie.

As ek sê gesigloos, bedoel ek tensy bloggers mekaar persoonlik ken, almal van ons vreemdelinge vir mekaar is. Al lees ons amper daagliks van mekaar se lief en leed. Dit gaan baie meer neem as my of jou versekering dat ons weet waarvan ons praat om mense te oortuig ons is die absolute outoriteit op enigiets.

Ek bedoel nie staats-geestesgesondheidshospitale nie. Ek bedoel hospitale wat primêre gesondheidsorg verskaf. Want dis al waarnatoe mense hulle soms kan wend. Daar’s selfs ouens wat slegs by klinieke kan uitkom, want hulle het net hulle voete vir vervoer. Ek het by Edendale gewerk vir ‘n jaar of twee. Dis nag. As jy die hospitale ken, weet jy waarskynlik heel goed hoe dit daar gaan. My punt is dat ek nie dink gesondheidsorg, maar veral geestesgesondheidsorg kan baie effektief onder sulke omstandighede geskied nie.

En ja, tydskrif is ‘n aanvaarbare term vir joernale. Tydskrif is nie noodwendig ‘n sinoniem vir die Engelse woord “magazine” wat iets meer lighartig veronderstel nie. Dit beteken iets wat op gereelde basis gepubliseer word in teenstelling met ‘n boek. (Ek is ‘n gewese mediese bibliotekaresse.) Ek sê nie die navorsing in mediese of ander akademiese tydskrifte is sleg nie, ek sê bloot die feit dat dit gebaseer op navorsing is beteken dis in flux. Want volgende jaar is daar weer nuwe navorsing wat ‘n ander lig op die saak werp. Dis soos dit hoort. Maar dit beteken ook mens moet dit nie as ‘n soort evangelie sien nie.

Ek hou nie op blog omdat ek en jy van mekaar verskil oor iets nie. Dis nou maar toevallig dat dit so uitgewerk het. Niemand is vir jou vies nie, ons stem net nie heeltemaal saam met jou op die punt nie.

9. Xena Phoenix - Oktober 5, 2009

Rosa, die punt is. Jy mag dalk baie kennis omtrent n onderwerp he, maar dit beteken ni n ander se mening is null and void nie. Baie wetenskappe – soos medies – is nie absoluut en abstrak nie.

10. Girl van die Suburbs - Oktober 5, 2009

Nee wag….

Ek gaan myself nie hier uitkry deur dit verder uit te probeer redeneer nie. Ek moes dalk nie involved geraak het nie juis oor die seer wat ek heel waarskynlik nog ervaar…(ekdog toe dis al lank al dealt with… toe nou nie)

Rosa, ek dink ons kom uit pole… Jy wat gesien het dat daar mense is wie mense hulle in die steek gelaat het en ek wat weer alles in my vermoee probeer het en gefaal het. Ek vra om verskoning oor die emosionele reaksie… maar dis al wat dit is… Ek dink ek probeer my eie gevoel van failure justify.

Nelba - Oktober 5, 2009

Jy’t niemand gefaal nie. Ek dink nogal jy’t uitgehou verby uithoupunt and beyond hell.

11. Sonkind - Oktober 5, 2009

Ag nee, Nelba. :-( Jy moet doen wat reg en goed is vir jou, maar ek hoop ook jy sal heroorweeg, al plaas jy net so nou en dan iets, sodat ons nog bietjie kan lees.

Oor die depressie ding – ek voel nou soos ‘n hond omdat ek julle onderonsie veroorsaak het deur my Selfmoord post, maar ek het gehoop dit help iewers iemand wat dalk te bang is om hulp te vra.

Mooi bly, Vygie :-)

Nelba - Oktober 5, 2009

Nee, man, moenie sleg voel nie. Ek is bly jy’t dit geplaas. Jy’s reg dat dit heelwaarskynlik mense gaan help. Sal by jou bly inloer.

12. Plaasjuppie - Oktober 5, 2009

Ek weet nie werklik waaroor die meningsverskil gaan nie, en dit is ook nie my besigheid nie.
My naam is PJ en ek is ook ‘n depresant op die rehabilitasie pad. Nie alles werk vir almal nie. Ek het geweier op enige pille vir my depressie te neem, maar ek het ‘n alternatief gekry. Die kern van die saak is kry hulp, en hou aan soek tot jy iets kry wat vir jou werk.

Ons gaan jou mis Nelba.

Nelba - Oktober 5, 2009

Jy’s reg Plasie en ek is so bly jy het iets gekry om die swart hond mee te jaag. Onthou, jy en jou LyfieWyfieDing is maar heeltyd in my gedagtes en gebede.

13. carina - Oktober 5, 2009

Nelba. Ek verstaan so goed wat jy bedoel. Mens cope omdat soos jy se die alternatief nie aanvaarbaar is nie. Ek kom daagliks met soortgelyke poepholle in aanraking maar ek ‘n ongelooflike selfsugtige besluit geneem. Daar is nie plek vir mense in my lewe wat nie verstaan of ten minste probeer verstaan nie. Ons is selfs heelwat familielede kwyt en ek voel ‘n veer daaroor. Bloed is wragtag nie altyd dikker as water nie.
Ek was self op verskeie anti-depressante. Al wat dit reggekry het was om my te laat ophou huil. Dit is al. Dit het nie my probleem opgelos nie, dit het nie my gemoed gelig nie, dit het nie my kind se brein herstel nie, dit het my nie ‘n beter mens gemaak nie, dit het nie my kind teruggebring nie. Ek huil veel eerder elke dag van my lewe en voel vir ‘n paar uur daarna normaal as wat ek moet uie skil om te kan huil. Maar, elke liewe dag kry ek dit tog reg om my kop te lig en aan te gaan. WANT. Ek het nog twee kinders en ‘n man.
Ek kan voorgee dat ek weet waarvan ek praat, maar dit sal ‘n lieg wees want ek moet elke liewe dag van voor af uitfigure. Of Depressie regtig ‘n chemiese wanbalans is en of dit ‘n omstandigheids storie is weet ek nie. Ek weet net dat ek jou lugtigheid deel vir “die beroep” en ek my eie manier sal kry om te oorleef. Met die hulp van mense wat regtig egtig vir my omgee.
As jy jou blog sluit moet dit wees omdat jy jou rugsak probeer ligter maak – nie omdat jy kwaad is nie.
Ebb en flow Nelba.
Ebb en flow.
xxxx

14. maxie - Oktober 5, 2009

Vygie
As ek reg onthou was joune die 1ste blog waar ek kommentaar gelewer het, way back…
Jy sal altyd ‘n baie, baie spesiale plekkie in my hart beklee.
Moenie ophou, asb.
Jy leer ons so baie, elke dag.

15. Nella - Oktober 6, 2009

Ek is vanoggend terug by die kantoor na ‘n week se vakansie en toe kry ek die slegte nuus! Ek gaan jou mis, Nelba! Dit was so lekker om te lees wat die seuns en die katte aanvang!
Ek hoop jy is besig met jou ‘winter warmers’ vir Craftwise!! Ek het my eerste babakombersie laasweek klaar gemaak.
Sterkte!
XXXX

16. Skoor - Oktober 6, 2009

Mag jy koel rusplekke vind

Mag jou hart op noot van voelgesang saamsing

Mag jou glimlag ander se krag meer maak om die sak te dra.

En as jou eie sak te swaar raak, maak soos Boervrou, en gooi brakefluid op die wat jou de moer in maak, se karre!!!

xxx

17. rianabrand - November 19, 2009

Ek mis jou! Ek mis jou! Ek mis jou! Neem jou tyd girl…hoop om jou in SA te sien. Stuur jy my jou email asb? Dankie. Groete uit Friesland. R