Danksy September 24, 2009
Posted by Twilight in Uncategorized.trackback
Danksy besonder produktiewe dae Dinsdag en Woensdag is daar goedjies gedoen wat ek lankal wou doen, maar jy weet mos….
Goed wat eenvoudig 0% op my skaal van traak-’n-hel was soos vensterswas ook. En raai, al het ek nie ‘n dooie duit omgegee oor die vuil vensters nie, is dit darem ‘n plesier om deur skones na die werf te kyk.
Ten einde beter gebruik te maak van die ou sonkolletjie wat nie deur vrugtebome se skadu beduiwel word nie, gaan ek die wasgoeddraad (‘n ellelange kontrepsie met die tipiese T-vormige pale wat die wasgoed aljimmers op die grond laat sleep) tot niet maak en ‘n draaiende sirkelvormige een installeer. Ek het sy staandertjie in beton vasgegooi en wag nou ongeduldig vir die beton om droog te word. Ek het ongelukkig ‘n paar keer my humeur met die kinders verloor toe hulle wou “help” en van die peperdure sement orals mors, Marco bly neul dat hy water by die mengsel wil gooi en Magnus grond in die gat wat ek so pas gegrou het bly teruggooi. Sodra ek my rug draai om die een se kwaaddoen reg te maak, is die ander een al weer druk besig met iets anders onheilig. Op ‘n stadium het dit vir my kompleet gevoel ek poep teen donderweer.
Marco het ‘n formidabele R10 elk vir twee witrotte betaal. Dirk brom hulle moes ons eerder R20 betaal het om die rotte oor te neem, maar Danielle – die dogtertjie wie se rotte dit was – is duidelik ‘n besigheidsvrou. Een van die geheime van ‘n winsgewende besigheid is om die klant te laat glo dat jy HOM die guns doen om jou produk aan te skaf. Dit vereis nogal kophou om die katte en die rotte se paaie nie te laat kruis nie. Ek hoop maar die rotte se senuwees is sterk, want die katte is baie geduldig…
Ons het Afrikaanse bure agter ons ontdek. Dis eintlik mense wat ons van sien geken het, maar nie besef het ons is bure nie. Dit is ‘n raar genoeg gebeurtenis in hierdie Engelse dorp om te vier met ‘n teedrinksessie en ete en dis natuurlik presies wat ons vandag gedoen het.
Lank lewe Nasionale Braaidag.

Genade Mens?! Wanneer vertel jy ons hoe jy koeksisters bak? Lyk my jou hande staan vir niks verkeerd nie. Ek sou nooit eers daaraan gedink het om self sement te meng nie. Tuimeldroeers is soveel minder moeite.
Wel nee, koeksisters bak is iets wat ek nog nie gedoen het nie. Maar. Hoe moeilik kan dit wees?
Ja nee, ek stem saam met Adrie – jy’s ‘n vrou van vele, vele talente.
Bruce het ook op ‘n stadium ‘n witrot gehad – Jennifer, nogal. Ek wil nie onthou hoeveel keer sy ontsnap het en die soektogte om haar weer te vind nie. Sterkte, mens.
Praat jy…Twee keer vandag! Een keer het hy onder die bank gaan skuil en as ek die sware bank opgelig kry en Marco veronderstel is om die rot te gryp, gril hy so dat ek verplig is om die bank weer te laat sak. Ek was gedurig in die doodste vrees dat die bank op die rot gaan neersit. Maar, no such luck! Die ding se sin vir selfbehoud is skynbaar heelwat groter as sy verstand.
LOL Vlam.. Jennifer… Dis so cute actually!
Jis Nelba… mag jy eendag vrek goeie en oulike skoondogters kry wat jou gaan bederf want ek dink om daai knape groot te kry nog voor jy hulle iets aandoen verg baie…. baie… moeite en geduld…
Ek dink jy is ‘n super ma!