Verklaar dit… September 18, 2009
Posted by Twilight in Uncategorized.trackback
Dreams: Children of the night, of indigestion bred – Charles Churchill
Ek het vanmore opgestaan met ‘n kop vol watte na ‘n nag vol weird drome.
Ons trek na ‘n massiewe ou huis in Durban (Arts and Crafts-erig – ten minste het my drome goeie smaak) wat ek nog nooit gesien het nie, maar ek is mal oor die huis.
‘n Dogtertjie is daar doodgeskiet en iemand het ‘n roubeklag op die (kurk?) vloer uitgekerf. Onder die kurk is hout, maar ek dink by myself dat ek die kurk so gaan hou om die hout te beskerm. Ek sny die roubeklag netjies uit met ‘n mes en las ‘n skoon stukkie kurk in. Doodtevrede kyk ek na my werk, toe ek sien die mense wat trek het iets met metaalpote oor die vloer gesleep en ‘n groef in die kurk gesleep.
Die muurpapier is sulke somberkleurige strepe met rye blommetjies wat plek plek in repe hang en ek dink “Hierdie muurpapier gaan ek aftrek om die hekelwerk onder dit te ontbloot”.
Ek verskoon myself om te gaan kyk hoe die slaapkamers lyk, want ek moet darem vir die trekkers laat weet in watter kamers om watter beddens te sit. (Of ons nie in elk geval almal bymekaar slaap nie…!)
Toe ek terugkom het die vrou in wie se huis ons intrek vir laas ‘n teepartytjie saam met vriende. Op die dag van die trek, met mense wat meubels orals uitdra en stoelkussings onder die gaste se boude uithaal om dit op die trekwa te gaan laai. Sy is baie vriendelik en nooi my om ook tee te drink. Toe ek vir my tee wil skink sien ek dis sop en ek moet dit met ‘n soplepel inskep in sulke kommetjies. Net toe ek klaar geskep het kom staan al die trekkers in ‘n ry en wag dat ek vir hulle ook sop inskep. En soos ek vir hulle inskep, mors ek my sop uit my kommetjie tot daar net ‘n slukkie vir my oorbly.
Dirk brom hy’t ook iets snaaks gedroom. Wat sou ons geëet het wat so ‘n dromery aan die gang kon gesit het?
Wat is die vreemdste droom wat jy al gehad het en kon jy dit “verklaar”?

Hmm. Ek weet te min van drome om nou verseker te kan se, maar ek dink so droom wat jou gemoed beinvloed en waarvan jy elke detail kan onthou, moet betekenis he.
Ek het net een so funny droom gehad, en dit het waar geword.
Ek slaap min so lank aanmekaar dat ek hoegenaamd tydmors met droom
So, dis werklik ongewoon vir my iets iets so duidelik te onthou.
Wat ek van droom uitleg weet is net so gevaarlik as om vir my vuurhoutjies te gee… Regtig!
Maar ek verstom my soms aan die manier hoe ‘n mens se kop jou dag se denke mooi verwoord in prentjies… Soos bv om ‘n huis uit niks te toor wat jy nooit gesien het nie… Hoe?
Ja, dis eintlik ‘n bewys hoe ongelooflik ons verbeelding ons kan beinvloed
Sjoe, interessante droom! Dalk iets in jou onderbewussyn met jou huidige huis te doen? Dalk is daar nog soveel wat jy wil verander dat dit jou nou begin pla?
Die vreemdste droom wat ek nog ooit gehad het was een wat ek van my troue gedroom het. Ek het ‘n bloedrooi rok aangehad maar ek kon nie vir mense se wat my nuwe eggenoot se naam was nie want ek het hom nog nooit gesien nie. Vreemder as dit, het my huidige man my by die paadjie afgestap en glimlaggend afgegee vir my nuwe bruidegom.
Ek onthou dat ek nogal omgekrap was hierdeur! Ek wonder nou nog wat in my onderbewussyn aangegaan het! My man het natuurlik gelag en gese dat hy my met graagte sal afgee
My man sal my seker ook bitter graag wil weggee.
Sal my ook liewer nie uitlaat deur droom-uitleg nie. Maar so gekyk na jou uitsny van die kurk-vloer en afhaal van die muurpapier, sou mens kon raai dat daar ‘n paar dinge in jou lewe is wat jy sou wou verander, uitsny, oordoen….
Dit kan egter ook net te wyte wees aan te veel biltong die vorige aand
Ekself – skryf gereeld Wiskunde-eksamen (op varsity) met 4 kinders op sleeptou en ek verdwaal altyd op soek na die eksamenlokaal…. Dankie tog om te kan oë oopmaak en styf teen pa te nestel.
My ma skryf ook gereeld Engels-voorgeskrewe werke… Ek weer het nog selde weer van skool of universiteit gedroom.
Kom ek verklaar vir julle wat ek dink my droom beteken: Die huis is ‘n simbool vir my lewe.
Dit voel of ons so pas ‘n nuwe lewe begin het. (Die vrou by wie ons in die droom die Durban-huis koop is Alice – die vorige eienares van ons huidige huis en die koper van die huis in Pietermaritzburg. Verlede, hede en toekoms is dus onlosmaaklik deel van mekaar.)
Die toekoms is onbekend, maar ek voel positief daaroor. Die houtvloere is iets solieds. Dit verteenwoordig my ware aard/ voorkeure. Maar daar is lae oor bv matte en kurk wat ek besig is om te stroop.
Die kind wat in tragiese omstandighede dood is is iets wat ek wil “uitsny”. (Die kind in die droom se dood was skielik en geweldadig,) Geweldig traumaties. Dit is iets wat ek wil verander, maar ek kan nie. Ek kan dit lap, maar die letsels sal altyd daar wees. Ek beheer myself met ysere selfbeheersing om “rou” uit te sny. Dis nou vir my nodig vir selfbehoud. Maar ek kry dit nie reg nie en ek weet die dag van afrekening kom.
Daar is egter aspekte van die tradisionele wat my pla en wat ek wil verwyder omdat dit “oud” en stukkend geraak het. Die patroon van die muurpapier is ‘n vertikale streep – miskien ‘n verwysing na ‘n verhouding met God. Onder dit is daar iets wat waarde het omdat dit lank geneem het en met moeite gevorm is – die hekelwerk. Wat skoonheid besit juis omdat iemand tyd daaraan spandeer het. Dit het ook veel meer van ‘n blywende waarde, want dit oorleef iets wat baie nuwer is. Dit verteenwoordig vir my ‘n vermaning om terug te keer na die “basics.” Na egtheid. Dalk is dit ‘n versugting na kreatiwiteit in my eie lewe (ek wil leer hekel bv.)
Die stoelkussings wat deur die trekkers weggedra word is in kleure wat ek nie juis van hou nie – ysige ligbloue wn ander pastelkleure. Vir ‘n oomblik in die droom is ek spyt daaroor, maar dan dink ek by myself: Maar jy hou nie daarvan nie. Ek dink dis ‘n teregwysing om in keuses trou aan myself te bly.
Die gaste by die teeparty is vreemdelinge in my lewe wat ek geen belang by het nie. /Hulle pla my nie in die droom nie, praat trouens nie eers met my nie.. Ek moet my nie steur aan opinies van mense wat niks met my lewe uit te waai het nie. Hulle is mense uit die verlede of toekoms. My mense hier en nou is wie saakmaak. Niemand van hulle is teenwoordig in die huis nie, hoewel ek weet hulle sal ook daar woon. Maar my werk aan en rangskikking van my lewe/siel het niks met hulle te doen nie. Hulle behoort dit nie te beinvloed nie. As ek my lewe/siel kan inrig soos ek wil of moet, sal hulle egter ook daarby baat.
Die slaapkamers verteenwoordig my “binnekamer” waarmee ek tans voeling verloor het. In die droom weet ek nie hoe hulle lyk nie en as ek terugkom nadat ek na hulle gaan kyk het, kan ek nog steeds nie onthou hoe hulle lyk nie.
Die sop verteenwoordig sielevoedsel waarvan ek probeer uitdeel aan almal wat vra, maar min vir myself oorhou.
Hoe’s daai vir ‘n impromptu droomverklaring?
Shoe, kan ek vir jou ‘n paar van my drome stuur om uit te le?
Ek droom die laaste ruk weer net sulke snaakse goed…niks maak sin nie…dalk is dit maar net ‘n bevestiging dat my kop raas
Hi jy
Ek het vanaand met my siek seuntjie in my arms gesit, en hy het sy kop agteroor getrek omdat hy nie lekker asem kon kry nie – soos die Downsies soms maar maak – en ek het onmiddelik aan jou gedink en jou seer so tasbaar kon aanvoel dat ek sommer self ook ‘n traan of ses afgevee het. Ek het myself probeer indink hoe ontsettend moeilik dit vir jou moes gewees het as jou seuntjie destyds so gespartel het vir asem, en wat nie alles deur jou kop en hart moes gegaan het nie. Ek sal nooit die seer verstaan waardeer jy gegaan het nie, maar met tye dink ek so baie aan jou en bid ek net dat jy eendag net vrede sal he. Liefde, Anthone.
Jammer om te hoor die ou is siek..