Meer as September 16, 2009
Posted by Twilight in Uncategorized.trackback
Ek is oortuig dat ons meer is as die som van ons biomeganiese en chemiese samestelling. Einstein het blykbaar gesê:The field is the sole governing agency of the particle. Ek en ‘n paar ander mense glo dat as mens aan die mensdom as die “particle” dink, die “field” oftewel gees oorheers.
Onlangse navorsing begin al meer in twyfel trek dat ons in ‘n meganiese heelal leef, dat ‘n mens se genetika jou lewe bepaal, dat lewe gebaseer is op die oorlewing van die sterkstes of dat lewe die gevolg is van ‘n ewolusie.
Dit hou implikasies in vir hoe ons gesondheid beleef, hoe persepsie verander van ons as slagoffers van omstandighede na meesters van ons eie lewens en dat ons deel is van ‘n groter geheel – wat sekere verantwoordelikhede inhou.
Of mens nou in God glo of nie – en ek doen – is daar iets wat bepaal hoekom mense in presies dieselfde omstandighede met baie dieselfde genetika so absoluut verskillend reageer daarop.
Ek hoef maar na die natuur om my te kyk om te besef dat daar alledaagse wonderwerke plaasvind. Wonderwerke wat ons geheel as vanselfsprekend aanvaar en wat affirmasies word van lewe.
Ons het vroeër die jaar met ‘n klein groentetuin begin. So organies as wat ons kan. Alreeds het ons ‘n goeie aartappeloes gehad, spinasie is altyd volop, ons oes nou ons eerste broccoli en ertjies dop die kinders sommer so uit die peule en eet dit soos lekkertjies. (Ja, hulle wat verseg het om hulle monde aan enigiets groens te sit.) Altyddeur probeer ons nuwe maniere en soorte groente. Daar is ‘n grasie en waardigheid daaraan om pitte in die grond te sit en te weet dat jy nie ‘n groter las op die aarde plaas as wat dit reeds dra deur chemikaliee en giwwe in die sisteem in te pomp nie. Om te weet die aarde sal reageer en gee wat ons nodig het. Haar beste.
Dit maak vir my sin om te aanvaar ons liggame is volmaak geskape en om so getrou te bly aan hoe ons liggame veronderstel is om te werk as moontlik. Dit sluit in vanaf die manier waarop ons gebore word tot die manier wat ons veronderstel is om te sterf. Ons is self verantwoordelik vir ons gesondheid sonder om hoofsaaklik staat te maak op “quick-fix” oplossings met newe-effekte en ‘n onvermoë om die wortel van die probleem op te los.. Voorkoming eerder as genesing.
Een van my nuwe vriendinne noem tuisonderrig ‘n roeping (vir haar). Ek was eers ongemaklik met die gedagte tot ek besef het sy bedoel nie tuisonderrig in teenstelling met iets anders of as ‘n helige graal nie. Sy bedoel bloot as die beste opsie vir HAAR gesin, gegewe HAAR omstandighede. Marco is nog te klein (5) om hoegenaamd te praat van iets soos tuisonderrig. Ek verstout my om te sê kinders op die ouderdom van Graad R is ook nog te jonk om werklik te “onderrig.” Wanneer die tyd egter reg is, glo ek dis die roete wat ons sal kies. Hou gerus ‘n nuwe blad dop op hierdie blog waar ek losweg joernaal gaan hou van goeters wat ons reeds aanpak.
Daar is genoeg goed en lekker en positief in die lewe om te fokus daarop. Mooi is volop vir die met oë wat die mooi bly soek. Om te glo jy kan, is om reeds halfpad die stryd te gewen het teen ‘n doodsheid van die gees.
Ek wil graag op Loren se grafsteen die teks laat aanbring wat ek gelees het in die vroee oggendure na sy dood. “Dood, waar is jou angel? Dood, waar is jou oorwinning?” 1Kor 15.
Vir my beteken hierdie teks meer as dat Loren eendag weer sal lewe of reeds bly voortleef op ‘n ander vlak. Dit sluit vir my hoop in dat ook die lewe nou alreeds ‘n oorwinning oor die dood kan en moet wees.

Sela.
Tuisonderrig bly in my opinie die beste opsie vir kinders (veral leergieriges) en as ek kon, sou ek dit waarskynlik ook gedoen het. Maar…my 8-jarige is ‘n sport fanatikus en speel al wat ‘n sport is met ‘n bal en twee daarsonder. As ek ge-tuisonderrig het, sou dit my ‘n fortuin gekos het aan sport onderrig
Ja, dis waar. Dis een van die hoofbesware teen tuisonderrig. Ek het darem ook al gesien dat skole soms nogal tegemoetkomend is teenoor mense wat tuisonderrig doen. Bv. die skool hier op Estcourt wat in elk geval ACE doen en waar kinders teen hulle eie spoed vorder, laat bv tuisonderrigouers toe om kinders pouses te laat kom saamspeel met die ander. Ek vermoed ook hoe meer tuisonderrig gedoen gaan word hoe meer sal ouers oplossings vind deur bv die stig van sportklubs ens. Ek dink nie mens doen jou kind ‘n onreg aan om hom skool toe te stuur nie, maar ek is nou in die posisie wat ek dit kan doen en waar dit vir my logies lyk om dit te doen.
Haai jissie Nelba ek kan ie glo ek het mis gelees dat julle ‘n kind aan die dood afgestaan het nie… Sjoe! Jammer om van jou verlies te hoor.
Ag Girl, dankie. Ons mis hom.
Ons is juis impromptu (vroeger vanaand eers besluit om te bespreek) op pad na Chris Chameleon by Ushaka vir 18de om 20:00 saam met sy orkes en dolfyne (hopelik is hulle intonasie op standaard…), al lyk weer aldus accuweather beroerd, maar sy skribbels op Ek Herhaal Jou se omslag op 2 Mei verlede jaar (‘n jaar na Loren se begrafnis) sal my altyd bybly: “Die Here leen, neem terug en verenig uiteindelik alles.” G’n wonder in sy intro op die CD bedank hy eerste ’sy’ Skepper. So ‘n mond moet tuisgemaakte konfyt kry en vedien ‘n Vrydaglaataand retoerrit vanaf Estcourt na Durban met ‘n rooikopvrou en ons 5- en 2-jariges al die pad nauit ons gemaksone alhier…
Bg was Dirk…:lol: