jump to navigation

Mall-erig Julie 4, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
trackback

Om vier ure in ‘n winkelsentrum te spandeer met twee kleuters waarvan een twee jaar oud is, is nie ‘n goeie idee nie.

Die kar moes ingaan vir ‘n diens. Ons getroue mikrogolfoond van 12 jaar het uiteindelik (finaal – soos ek later tot my innige spyt moes verneem) die gees gegee en ek het dit gaan ingee vir ‘n kwotasie om te sien of dit moontlik is om te herstel. Wat my R100 uit die sak gejaag het, maar dit daargelaat. Al my vrinne in die stad werk. En dus was die enigste plek waar ek en die kinders sonder ‘n kar tyd kon spandeer die Midlands Liberty Mall. My pa het boonop besluit sy twee kleinkinders sal nie in Estcourt se winter verkluim nie en geld in ons rekening deponeer vir twee elektriese komberse. Ek wou dus pryse vergelyk. Bygesê, ons het nie gedink die kar se diens behoort baie lank te neem nie.

Die eerste uur of wat het ons vrolik rondgeloop, ek het vir die kinders ietsie te ete gekoop waarvan ek op die ou end die meeste moes eet. Toe het ek Dirk se horlosie gaan ingee vir ‘n nuwe battery, ‘n karretjie (met twee stuurwiele!) gehuur vir die kinders en die Mall stelselmatig platgeloop. Ons het ‘n draai gemaak by Chanelle wat Marco en Loren op ‘n stadium as babas opgepas het waar sy by een van die winkels in die Mall werk en toe maar weer die pad gevat. Toe ons ons draai aan die anderkant maak, was dit duidelik my tweetjies was uitgekuier.

Teen daai tyd het ek al al ‘n onderonsie met die sekuriteitswag by Clicks agter die rug. Ek wou die elektriese komberse daar koop en is met die kinders se karretjie in die winkel in. Die winkel is egter nie soseer klein as wat dit volgepak is met allerhande snert nie en sommer gou het ek my vasgeloop. Toe moes ek karretjie en al agteruit – wat nie ‘n eenvoudige taak is nie. Hierdie soort karretjies kom nie met kragstuur uit nie… Oor mense se tone en skies, skies. Terwyl die kinders beide verwoed aan hulle stuurwiele draai om ma tog net te help.

Dis toe dat die sekuriteitswag my takel en uit die hoogte meedeel die soort karretjies word nie in die winkel toegelaat nie. Hy sê hy sal vir my ‘n mandjie bring en ek moet die kar buite gaan parkeer. Ek is onmiddelik vies, maar sê ek is in elk geval klaar en is nou besig om uit die winkel te probeer uitkom! Waarop ta omvlieg en my net daar los waar ek spook om ‘n gang te kry wat skoon genoeg is om my weg tot by die kasregisters te vind. Natuurlik kan kar se kind nie in die nou gangetjie tussen kasregister deurpas nie en stoot ek dit toe inderdaad tot net buite die winkel. Maar daar wil die kinders opsluit nie uitklim nie. Ek kies toe maar ‘n kasregister waar hulle niks verder as twee meter van my af is nie en ek hulle die heeltyd in die oog kan hou en dreig hulle dat ek hulle velle sal aftrek as hulle beweeg.

Ek beland agter’n siel wat daarop aandring om haar inkopies te betaal met al haar kleingeld – wat noukeurig eers uitgetel moet word. En toe dit my beurt is om die komberse te betaal, raak die kassiere skoon oorhoops met alles wat sy oor klientediens geleer het terwyl ek net wil betaal en by my kinders uitkom. Hoe onvriendeliker ek raak, hoe vriendeliker raak sy. Toe ek uiteindelik haar aanbod om ‘n Clickskaart en die invul van ‘n vraelys suksesvol afgeweer gekry het en my goed betaal het, sien ek die sekuriteitsmannetjie. Soos ‘n rooi doek voor ‘n bul. En ek storm.

Ek beduie vir hom baie mooi dat hulle gerus in die vervolg ‘n mooi groot teken kan opsit wat die karretjies uit die winkel verban. Waarop hy druipstert erken daar is nie een nie en dat dit sy plig was om my te keer voor ek die winkel in is, maar dat hy nie op sy pos was nie.

Daar is geen etiketreël wat voorskryf wat mens moet maak as jou tweejarige sy bottel sap vir ‘n ander wildvreemde kind aanbied en die ewe dankbaar daaraan teug en dit teruggee nie. Die ma staan en kyk elders. Toe onderskep ek die sap maar en gaan gooi dit ‘n entjie verder in ‘n asblik. Kieme met bekendes deel is een ding. Maar ek gaan nie kanse vat met iemand wat ek van g’n kant af ken nie. Gesien in die lig dat Magnus later handeviervoet sou loop, suiker van ‘n tafel afeet en nog ‘n paar goed sou doen wat my hart amper laat staan het, het ek moontlik oorreageer.

Dis ongeveer op die punt waar ek die karretjie moes teruggee (‘n uur voordat ons kar uiteindelik reg was)wat Magnus se weghardlopery begin het. Ek wil dit nie eers beskryf nie, dit maak my neuroties. Maar daar is min goed erger as om agter ‘n tweejarige aan te hol wat net-net voor jou tussen die massas mense wat op ‘n Vrydagmiddag die winkels toesak bly verdwyn.

Volgende keer vat ek hulle liewer Botaniese Tuine toe. Ten minste as hulle daar weghol is dit net plante waarmee ek moet stoei.

Comments»

1. Sonkind - Julie 4, 2009

Toe Megan klein was, het sy so ‘n wegholstreep in haar gehad. Toe koop ek een van daai lyfbande wat mens om ‘n kind se lyf sit en dan is die kind basies aan ‘n leiband. Party mense het my kwaai aangekyk, maar ek het vere gevoel. Ten minste het sy nie weggeraak nie.

Jy het baie geduld. maar probeer nou eenkeer fliek toe gaan met hulle. Glo my, een keer en nooit weer! Ek sal nooit vergeet, ek het Little Mermaid so gaan kyk. O my word – wat ‘n dag! LOL!

2. Ogies - Julie 6, 2009

LOL!! Franco vra Sondag vir ‘n wilvreemde in Checkers of hy nie geld het om vir hom waterverf te koop nie, want sy ma sê sy het nie nou genoeg geld daarvoor nie!!!! My swak hart. Die kindertjies darem!

Hanneke Spies - Julie 7, 2009

Vriende van ons het vir hulle klein seuntjie ‘n “Monsters Inc” onderbroek gekoop. Hy het blykbaar eendag die Checkers op horings geneem aangesien hy nie net vir almal in die winkel die onderbroek moes wys nie (deur sy broek af te trek natuurlik) maar hy moes ook elke keer uit volle bors soos ‘n monster brul wanneer hy die onderbroek vertoon het…..