‘n Wêreld van boeke Junie 25, 2009
Posted by Twilight in Uncategorized.trackback
Ek was pas ses toe my pa my een Vrydag na die dorpsbiblioteek toe geneem het om as lid aan te sluit. Hoekom juis my pa, onthou ek nie. Hy het maar selde dorp toe gegaan. Ek het Verna Vels se Liewe Heksie uitgeneem – oorstelp van die vooruitsig om dit tuis vir my ma te gaan wys. My pa het net geglimlag en my herinner dat ek kon uitneem wat ek wou lees en dat ek nie bekommerd moes wees oor enigiemand anders nie.
Van toe af was Vrydag ons biblioteekdag. Elke week het ek my eie paar boeke klaargelees amper nog voor ons by die dorp uit was. Dan het ek my ma en my suster se boeke getakel. Vir solank die boeke gehou het, was ek ‘n nul op ‘n kontrak. My boeklesery was baiekeer die oorsaak van ‘n pak slae.
Een keer het my pa – haastig op pad na ‘n siek dier toe – my gevra om water by die houer op die koolstoof te voeg waarin hy die spuit, waarmee hy die siek koei so pas ingespuit het, wou ontsmet. Ek het afwesig geknik en eers my neus uit my boek gelig toe die nare reuk van gebrande plastiek tot my sintuie deurgedring het. My pa was woedend. Net my ma se ferm tussenbeidetrede het hom verhoed om my ‘n afgedankste loesing te gee.
Gelukkig was my maters ook baie lief vir lees en Sanet se pa het ons gereeld kopskuddend staan en beskou waar al vier van ons op ons mae elk verdiep in haar eie boek gelê en lees het en dan iets gemompel oor die abnormale tieners onder sy dak.
Vir ‘n jaar nou al kry ek net nie my bas in rat oor lidmaatskap by die plaaslike biblioteek nie. Om mee te begin het ons genoeg kinderboeke om die kinders gelukkig en tevrede te hou. En ek behoort aan ‘n boekklub. Vir my is die een of twee boeke wat ek per maand daar kry, heeltemaal genoeg. Daar is nie juis tyd vir lees nie, vind ek. ‘n Hartseer saak vir iemand wat die gemiddelde roman binne drie ure kon verslind.
Ons was lede van die stadsbiblioteek in Pietermairtzburg en Marco het aangesluit as lid toe hy net-net drie was. Marco is nog altyd dol oor boeke. As ‘n tjokkertjie van ongeveer 18 maande kon hy al bladsye versigtig omblaai en prentjies reg benoem. Ek dink nie ek het hom al ooit ‘n boek onderstebo sien vashou nie.
(Magnus: ‘n Perd van n heel ander kleur. Dis egter ‘n storie vir ‘n ander keer.)
KZN het een van die beste provinsiale biblioteekdienste in die land. Dis natuurlik een van die ouer biblioteekdienste en die aankope en keuring van boeke word op ‘n baie effektiewe manier gedoen. Die meeste openbare oftewel munisipale biblioteke is geaffilieer aan die provinsiale biblioteekdiens. Dis ‘n noodsaaklikheid in ‘n land waar al hoe minder munisipale fondse beskikbaar gestel word vir biblioteke.
Ek vind dat waar ander provinsies geneig is om meer kopiee van, sê maar, ‘n blitsverkoper aan te koop, KZN liewer ‘n groter verskeidenheid boeke aankoop. Gewilde boeke word vinniger sirkuleer deur bv hulle leentydperk te verkort. Elke maand gaan die biblioteekpersoneel na die streeksbiblioteek waar hulle dan self kan kies watter boeke om te leen. So word die unieke behoeftes van gebruikers aangespreek.
Daar is ‘n ongelooflike sentrale naslaanafdeling waarvandaan bloklenings van sekere onderwerpe sowel as spesiale aanvrae geleen kan word. Vir jare was dit my voorreg om self my spesiale aanvrae van my biblioteekgebruikers daar te kon gaan kies omdat ons binne stapafstand daarvan gewerk het. Ek mis dit nogal!
Die afgelope twee weke al hou Marco elke dag die posman met ‘n arendsoog dop om te sien of hy nie dalk die begeerlike kennisgewing van die biblioteek in ons posbus kom druk nie. Vandag het ons uiteindelik kennisgewing gekry dat ons lidmaatskap hier in Estcourt goedgekeur is en dat ons ons kaartjies kon gaan afhaal. Marco was oorstelp van vreugde..
Ons is sommer dadelik vanmiddag biblioteek toe. Behalwe vir ‘n paar studente was ons die enigste ander gebruikers daar. Die twee kinders het dadelik die kinderafdeling op horings geneem. Magnus het die kinderstoeltjies netjies in ‘n ry rangskik en een vir een uitgetoets. Dan het hy opgewonde beduie die groene sit lekkerder as die gele en so aan. Marco was soos ‘n bloedhond op die spoor van die boeke. Sommer gou het hy sy kwota van vier boeke volgehad.
In die volwasse afdeling lyk dit of min ander mense my liefde vir Terry Pratchett deel*, maar heelwat ook hou van Dick Francis. You win some, you lose some…Ek is egter daar weg met ‘n hele sak vol handwerkboeke wat op spesiale aanvraag is. Nou gaan ek uiteindelik leer hekel.
Ons hele besoek het minder as ‘n halfuur geduur en ons is daar weg met die weelderige gevoel dat ons voorwaar ryk is.
*Ek hou van Terry Pratchett, want hy het voetnotas vir sy voetnotas **
** Wat in elk geval is hoe my kop werk.

Ek glo dat biblioteke die bakens van beskawing is.
Jy is reg.
Ek is mal oor biblioteke, maar die een waar ek aan behoort se tye werk nie vir my nie. Hulle maak half 6 toe en is net elke tweede naweek oop. Tot 11:00 wanneer ek nog slaap.
Ek het die post van jou so geniet….. dit het my laat terugdink aan my kinder/tienerdae waar ek en my maatjie tot 11/12 uur snags gelê en boek lees het (naweke en vakansies). Ons het ‘n roman ook so in 3 uur deurgedraf. Ek onthou nog hoe haar pa een keer op ons afgekom het toe ek aan haar uit ‘n Liewe Heksie boek voorgelees het ….en hom wou doodlag…..nie oor die feit dat ek voorgelees het nie, maar oor ons toe al in matriek was!!!! Goeie ou dae daai….nou kry ek net tyd om ‘n boek so hoofstuk vir hoofstuk (AS EK GELUKKIG IS) te lees.
Ek het ook ‘n blog:http://mooigoed.wordpress.com
Ek skryf nou nie juis sulke elle lange posts soos jy nie … ek post goed wat vir my mooi is. Gaan kyk en laat weet wat jy daarvan dink.
Ns. Jy het ‘n baie goeie skryfstyl!!!! (van al die lees????)