jump to navigation

Want die lewe is te kort vir onderbeklemtoonde elegansie Junie 22, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
trackback

Ons huis is ‘n “gracious old lady” aldus een van die vorige eienaars. Of was dit nou “grumpy old lady”? ….Ewenwel. Oud mag sy wees, maar selfs ouer dames is soms lus vir ‘n fleurige nuwe rokkie, nie waar nie.

Probleem is net: Geld vir verf of ander binneversiering is daar glad nie.

Goed. Ek bieg. Eintlik is ek te lief vir kleur om lank tevrede te wees. met net een kleur. Om goed rondom my te bly verander is ‘n kompulsie. ‘n Obsessie. ‘n Obsessiewe kompulsie.

Ek omhels die reënboog in binneversieringsterme. Behalwe…blou (moeilike kleur, wat maklik koud vertoon). En NATUURLIK pienk. Verby is darem die dae toe ek ons eetkamer papawerrooi geverf het. Dit was in elk geval een van die min foute wat ons nog met kleur gemaak het. Meer omdat ons nie kon voorsien dat die kleur op die growwe pleisterafwerking nog helderder sou vertoon as dat die kleur per se aaklig was nie. Vir maande het ons deur die eetkamer geduik met ‘n sonbril op. Tot eendag toe ek voor Dirk gaan staan en vra:

“Ek dink ons het nou lank genoeg gemaak of ons van hierdie kleur hou. Kan ons dit asseblief verander?”

Toe verf ons die eetkamer beige. En een muur pienk, want die mannetjie in die winkel het gesê die pienk is eintlik terracotta. Ek het gesluk en na die muur gestaar in ontsetting. Besluit om groter as die situasie te wees en myself ook te probeer oortuig teracotta is eintlik pienk. Gelukkig gee Dirk die verskriklike muur net een kyk en sê:

“Ek gee nie om wat die mannetjie in die winkel gesê het nie, maar daai muur is pienk. En jy haat dit, ne?”

En ek antwoord: “Ja.” Met groot verligting in my hart, want ek het gedink nou sal ek saam met die pienk muur moet leef vir ewig en ewig. Ons gaan verander toe die kleur na die ware terracotta toe. Die kleur wat ons in die eerste plek wou geverf het.

Soos ek sê, behalwe vir die ramp van die papawerrooi en pienk eetkamer, het ons regtig nog min mistastings met kleur gehad.

Ons het ‘n hele klomp blikke oorskietverf wat hoeka dateer uit die tydperk van die papawerrooi eetkamer. En so takel ek en Marco toe Donderdag die voorportaal. ‘n Eertydse stoep wat toegebou is en wat sit met geverfde stene (wiedehel verf stene?) bo en ‘n gladde stukkie onder ‘n dado rail tesame met redelike ornate vloerlyste. Alles in ‘n lotuswit – room met ‘n perskekleur ondertoon. Daar is ‘n sekere bekoring aan die speling van die noordelike lig op die roomwit mure, maar ongelukkig is die vloere ook wit. Die vertrek lyk dus dikwels na ‘n ysspelonk. En ek is NIE ‘n ysbeer nie.

Ek het net genoeg verf (minder as 500ml) om onder die dado te verf en ek twyfel selfs of ons dit sal regkry om meer as een laag te verf. Maar ek waag die kans. Ons het twee beskikbare keuses – ‘n Gousblomoranje en ‘n sterk mieliegeel. Ek en Marco is albei lus vir die oranje, maar sien dadelik dit gaan te donker wees, So verf hy die geel aan met die roller en ek doen die kwaswerk. Ek is kwaai met hom. As hy wil help, moet hy dit ordentlik doen. Swak geverfde stukke moet hy oordoen en ek gooi self die verf uit – milliliters op ‘n keer. Ons het niks om te mors nie. En sowaar. Ons blaker dit net-net. Ek verdun die verf met ‘n bietjie water en ons verf daarmee selfs ‘n tweede laag. Daar mors nie eers ‘n druppel verf op die vloer nie.

“Dit lyk mooi, Mamma.” se hy terwyl hy terugstaan en ons handewerk beskou. Ek stem saam en selfs Magnus kom staan en inspekteer ons handewerk hande agter die rug.

“Mooi!” roep hy goedkeurend. Oftewel iets wat klink soos mooi.

Ek besluit om ‘n tikkie drama en glam by te voeg en verf die dado en vloerlys goud. Nou hoor ek ‘n paar mense hulle asems intrek. Moenie worry nie. Dit lyk mooi. Die verf van die mure het ons ‘n oggend geneem. Daai verditste verdatste dado het my die res van twee dae besig gehou. En sowaar, dit kort nog ‘n laag. Nou verstaan ek hoekom die vorige mense alles in een kleur geverf het.

Maar eind goed, alles goed.

Volgende is die eindpunt van die gang. In gousblomoranje.

Comments»

1. boendoe - Junie 22, 2009

EK trek nie my asem in nie! Ek is MAL, MAL oor mal kleure! Enigste klagte is dat jy nie foudie gepost het nie? :wink:

2. Nelba - Junie 22, 2009

Ek sal. Ek moet nog net die gordyn afhaal, die wit metaalpelmet!!!! afskroef en dit vervang met ‘n houtreling. Dan sal ek foto’s post.

Bly jy hou ook van kleur.

3. Sonkind - Junie 22, 2009

Ek HAAT vaal of alles net wit! So, wanneer sien ons foto’s van julle werk? :-)

4. Ogies - Junie 23, 2009

Ek voel ook net so oor wit en beige en room verf!!! Depressing!! En wit plafonne is vir my net eens te erg! Die dag wat ek my eie huisie besit sal plascon hul deure kan toemaak en net aan my verf verskaf! Whahaha! :)

5. Nella - Junie 23, 2009

Foto’s Nelba!! Ek wil sien hoe lyk daai goue vloerlyste!

6. Nelba - Junie 23, 2009

Ja wat Sonkind. :-) Smarties en Jellytots sou nie so lekker gewees het as hulle almal een kleur was nie.

Ogies, jy noem iets wat ek dikwels van vergeet nl die plafonne! Jou huisie het baie karakter. Ons het weer die naweek daar verbygery. Eendag sal jy jou plek kan maak soos jy wil.

Coming up, Nella..