jump to navigation

‘n Tyd en plek vir alles Junie 15, 2009

Posted by Twilight in Uncategorized.
trackback

Krisisse het die nare gewoonte om nooit te gebeur wanneer…wel..Durf ek dit sê? Krisisse gebeur nooit wanneer dit gerieflik is nie. Nie, sê nou maar, op ‘n besadigde Dinsdag laatoggend of op ‘n kalm Donderdag om drie-uur in die middag nie. Nee. Nee. Nee. Saterdagnag of Sondagmiddag. Oor langnaweke. Dis wanneer die vreemdste goed gebeur. Soos ‘n kind wat homself kaduks val. Of ‘n swerm bye wat iemand takel. Of wanneer jou oudste besluit om sy kleinboet se oorskietroomys uit die vrieskas te steel en verwoed aan die plastieklepeltjie, wat vasgevries het in die roomys, pluk. Sodat die lepeltjie losskiet, aan duisend stukkies breek en van daai vlymskerp stukkies reg in sy oog in skiet.

Ja, halfses die aand op ‘n Sondagaand is wanneer sulke goed gebeur.

Eers gil Ouboet ten hemele. Jy mag nie aan die oog raak nie. Jy mag nie aan hom raak nie. En bewaar jou siel as jy net praat van kyk na die oog. Later kry jy hom sover om te lê met die toe oog terwyl jy hom bekommerd op ‘n afstand staan en dophou. Hy raak uit pure emosionele uitputting aan die slaap. Jy sien bekommerd hoe die trane uit die oog stroom en op die duvet drup.

Estcourt het ‘n hospitaal, maar dit gaan die gang van die meeste staatshospitale. Ladysmith lê ‘n driekwartier in ‘n noordelike rigting en Pietermaritzburg ‘n uur in ‘n suidelike rigting. Omdat jy net ‘n week vantevore op ‘n Sondagaand in Ladysmith se noodeenheid met dieselfde kind was(ha-ha), weet jy die personeel loop nie oor van vriendelikheid nie. In Pietermaritzburg het jy uit die vier kere wat jy die noodeenheid by twee verskillende hospitale moes gebruik ook agtergekom hier is dit maar “the luck of the draw.” Uit die vier kere was daar een keer iemand wat die probleem korrek gediagnoseer het.

Jy weet mens speel nie met ‘n oog nie.

Aan die anderkant: Hulp is vêr en nie gewaarborg om vreeslik doeltreffend te wees nie.

Toe Ouboet klaend wakker word, tel jy hom op jou skoot en oortuig hom met moeite dat jy moet kyk. Hy probeer regtig saamwerk, maar dis seer en jy het breukdele van sekondes om te kyk. Dit lyk nie of daar stukke lepel in die oog vassit nie, maar die oog lyk rooi en eina. Hy klim egter af van jou skoot af en vra waar is die roomys nou. Jy aanvaar dinge is nie te erg nie en ontspan iewat terwyl hy sy welverdiende/duurgekoopte gesteelde roomys opeet met dan en wan ‘n toegif aan Kleinboet – aan wie dit eintlik behoort. Julle lees stories en gaan slaap wanneer Ouboet vir Kleinboet bietjie erg tempteer.

Die hele nag pla jou besluit om nie die oog te laat evalueer nie jou. Trane stroom steeds uit die oog en elke kort-kort sit hy regop om aan die oog te vryf. Die nag voel of dit nooit gaan eindig nie. Seweuur strompel hy uit die bed. Altwee oë is toegeswel en die beseerde oog lyk naar. Hy kla die son skyn in sy oe al sit hy met sy rug na die venster en al is daar nie ‘n sonstraal in sig nie.

Jy waag dit om “eye injuries, tears and light sensitivity” te Google en vind, soos altyd, baie meer uit as wat jy wou weet. Jy het vergeet tears (trane) kan ook tears (skeure) beteken. Glo my, jy wil nie weet nie… Nou kyk jy met groot agterdog na elke trekkie van pyn ip sy gesig. Demmit, leer jy nooit?

Agtuur ry Dirk by die huisdokter se spreekkamers aan. Hy het al geleer mense weier moeiliker as ‘n mens in persoon smeek. Die dokter kom negeuur in en die vroegste beskikbare afspraak is eers na elf. Hy vra weer mooi en die gawe ontvangsdame sê kom net na nege en dan druk ons julle in. Maar dan waag hy ‘n kans en bel die oogspesialis in Pietermaritzburg. Hulle sê ons kan dadelik kom. Die logika synde dat as daar iets slegs fout is mens dan reeds by die regte persoon is. So ry ons net na nege op ‘n Maandagoggend ons voormalige tuisstad binne.

Die mense by die oogspesialis is so gaaf soos altyd en die assistent steel Marco se hart. Hy vertel opgewonde sy het net met ‘n masjientjie in sy oog gekyk en “nie soos jy en Pappa nie” Sy het sy oe getoets en die beseerde ogie is effens swakker as die ander een. Hy en Magnus kry elk ‘n lekkertjie. Magnus vermaak die ander mense in die spreekkamer en terwyl Marco ingeroep word en saam met pappa na die oogspesialis toe gaan, kom knoop ‘n ouerige oom ‘n gesprek aan. Die oogspesialis stel vas deur kleusel in die oog te gooi dat daar ‘n nare skraap oor die oog is. Niks meer nie. Dankie tog. Sjoe!

Nou voel almal effe simpel oor die bohaai en kyk, Marco se oog lyk klaar stukke beter. Dirk het ‘n hoop werkstyd verloor en ek moet nou eers wasgoed was. Almal is iesegrimmig oor die gebrek aan slaap. Maandag amptelik afgeskop met ‘n agterstand.

Dit alles oor ‘n krisis wat nie sy properse tyd en plek geken het nie.

Comments»

1. Ogies - Junie 15, 2009

Jy het die wonderlike gawe om ‘n moerse ramp so mooi in te kleur dat mens ‘n sug van verligting saam jou slaak! Ek is bly Marco se oog is nie beskadig nie. En alles ten spyt sou jy steeds gewonder het, al het net die huisdokter daarna gekyk. Nou sal boetie se roomys dalk veilig wees @ die aanslae van sy ouboet?

2. Sonkind - Junie 15, 2009

Dis miskien ‘n krisis op ‘n ongerieflike tyd, maar tog is mens dankbaar dit was nie erger nie. Kinders het regtig engeltjies wat hulle oppas :-)

3. kaalvoetinireen - Junie 16, 2009

As ‘n krisis op ‘n gerieflike tyd gebeur is dit dan nog ‘n krisis?
Anyway, ek is bly ouboet se oog is fine en dalk sal hy nie gou weer roomys steel nie ;-)

4. attie - Junie 17, 2009

Ma’s bekommer hulle genadiglik oor dinge wat later nie so ernstig blyk te gewees het nie.

5. Dion - Junie 18, 2009

My motto is nie hoeka “as ‘n ding kan verkeerd loop op ‘n slegte tyd, dan sal dit” nie! Ek is bly daar is nie erg skade nie. Toe ons almal nog in Vryheid skoolgegaan het, het my pa self vir ons ‘n stort ingebou, en terwyl by besig was om stene stukkend te slaan vir vul, het ‘n stuk baksteen hom teen volle vaart in die oog getref. Daar was ‘n lelike skeur in sy kornea, en hy het vir ‘n lang ruk ‘n letsel op sy oog gehad. En lange pyn en ongerief, waarvan hy ons natuurlik elke oomblik bewus gemaak het!
Ai, die kinders kan mens laat skrik… Ek hoop julle vang die verlore rustyd gou op.