Antrasietbekeerde Junie 10, 2009
Posted by Twilight in Uncategorized.trackback
Die afgelope week het ons regtig ons deel aan siek mense gehad. Ons was almal op ‘n stadium siek, maar oor die naweek was dit Dirk en Marco waaroor ons die ergste bekommerd was. Sondagaand is ons na die noodafdeling by die Ladysmith Hospitaal met Marco, omdat ek net nie meer daarin kon slaag om sy koors gebreek te kry nie. Dit het bly opskiet na 40 grade en hoewel ek heel gemaklik met koors is, is dit te hoog selfs vir my.
Wat die triek gedoen het (net voor ons weg is by die huis)was toe ‘n koorswerende middel wat anti-inflammatories ook is. Iets wat ek normaalweg vermy omdat ‘n NSAID ( non-steroid anti inflammatory drug) magies erg omkrap. Veral as hulle verseg om vaste kos te eet. Dit het hom inderdaad laat opgooi, maar teen daai tyd was die koors darem gebreek. Dit blyk darem ons eie diagnose van sinusitus was nie verkeerd nie en die mannetjie is klaar beter. In hierdie geval het hy egter antibiotika nodig gehad. Magnus loop nog steeds met ‘n snotneus. Maar dis maar net die oorblyfsel van sy verkoue en ek vat dit enige tyd. Hy laat my nie sommer in sy mond kyk nie, maar ek verbeel my ook ek sien die begin van nog ‘n tandjie.
Dirk het egter bronchitis en gaan werk nog steeds. Hy sê eenvoudig hy’t te veel werk om te gaan lê. Ek troos myself met die gedagte dat as hy regtig ernstig siek is, hy sal kom lê.
Behalwe my gewone irritasie wanneer ek met die mediese establishment moet werk, is dit hopelik ‘n geval van eind goed als goed.
Dit help ook nou nie juis dat ons lekker koue weer het nie – soos trouens die grootste deel van die land. Ek kyk liewer nie temperature nie, maar die sneeu lê dik op die berge in die omgewing.
Ons het twee stofies in ons huis. Een in die gastekamer wat uitloop uit die TV kamer. En een in die sitkamer. Ek hou persoonlik meer van ‘n oop kaggel, maar verskeie mense het my vertel ek is mal toe ek sê ek wil die stofie uithaal. Gisteraand het ons die eerste keer in die antrasietstofie vuur gemaak. Dit het my heelwat sweet en skel gekos om die goed te kry om te brand, maar mense, toe dit eers brand! Die stofie was heelnag aan op ‘n lae stelling op die ewivalent van ‘n emmer antrasiet. Die sitkamer, wat normaalweg ‘n lang koue grot is, is nou ‘n plek waar mens dalk sou wou opkrul met ‘n boek. (As jy tyd het vir boeklees!) En daai hele deel van die huis is merkbaar warmer. Ek is ‘n antrasietbekeerde na dese.
Die winternagte is vir my lekker. Op die oomblik is ons hele slaappatroon weer versteur. Laasweek het ek en die twee kinders op my en Dirk se bed geslaap. Slaap is natuurlik in die arbitrêrste moontlike sin van die woord gebruik, want die waarheid is dat ek meestal wydoog in die donker lê en luister het na die verskeidenheid van hortende asemhalings rondom my. Maar noudat almal weer beter is, is dit eintlik lekker om so saam met die warm (nie koorsige!) lyfies opgekrul te lê. Laasnag het Marco in Dirk se omarming sit en krieket kyk en ek het nie te veel gekarring oor slaaptyd nie. Ek het Magnus dus geneem en aan die slaap gaan maak en sommer saam met hom bly slaap. Dirk en Marco is na die spaarkamer toe waar hulle op die elektriese kombers geslaap het.
Heerlik.

‘n Oop kaggel is vir my ook lekkerder, maar daai stofies werk soos ‘n bom.
Ek hou ook van winternagte, maar ek hou meer van somersnagte. Ek is baie bly die kroos is beter – myne was net so siek, en was geweldig trots op die feit dat hy Maandag by die huis kon bly weens siekte. Dit lyk my afwesigheid van skool weens besering is die heel coolste, maar tuisbly weens siekte is nie altemit nie.
Geniet die tye wat julle nog al drie op een bed pas! My dae is nou verby
Kaalvoetinireen, ek het my voorgeneem dat ek daai vuurtjie n ooit weer gaan laat vrek nie, maar ek het! En nou’s ek min lus vir die gesukkel om dit weer aan die gang te kry.
Carina, ek verkies ook die somer. Loshande. Om mee te begin is daar dan minder siektes
Wens ek nou vir so ‘n stofie! Ons huis het ‘n dieselverwarmer (?!), met ‘n groot tenk in die agterplaas. Het die ding 2 keer gebruik, lekker warm gekry en toe kalf die diesel. Wie’t geld om dit weer vol te maak?
Ai jy het jou ouma so mooi beskryf dis asof ek haar in my verbeelding kon sien in haar kamer. Het my laat dink aan my grootword jare in die Vryburg omgewing, waar die winters ook maar lekker koud kan raak. In die kombuis was ‘n koolstoof wat ook met antrasiet gestook was, en dan vroeg op so ‘n koue wintersoggend was ons skoolklere altyd in die koolstoof ‘opgewarm’ voor ons dit kon aantrek. Goeie ou dae. Sug.