jump to navigation

Tsk tsk Augustus 12, 2008

Posted by Twilight in Uncategorized.
trackback

Ek sit hier met ‘n slapende kind op my skoot. Verskoon dus asb. die gebrek aan kappies en derglike dinge.

Jy weet mos as mens iets lees en jy raak oombliklik vurig daaroor? Maar dan gaan daar ‘n dag verby en as jy weer daaroor nadink dink jy: Ek gaan my asem en tyd mors. ‘n Soort moee gelatenheid wat erkenning gee aan die feit dat daar baie ghwarre op hierdie aarde is, ek dalk altemit een van hulle is en dat ghwarre, soos onkruid, nie sommer vergaan nie.

Gaan lees die NYTimes berig oor die nuwe Ben Stiller fliek Tropic Thunder.

Die kans dat ek ooit hierdie fliek sal gaan kyk wanneer hy hier begin draai, is skraal. Praktiese oorwegings: Ons bly ‘n uur se ry van die naaste fliekteaters af en as ek die moeite gaan doen om babawagters te reel en geld gaan spandeer op petrol en fliekkaartjies en popcorn en koeldrank, gaan dit heel moontlik NIE wees om ‘n Ben Stiller fliek te gaan kyk nie. Dus gaan ek my mond hou oor die fliek. Ek gaan jou beslis nie vra om dit te boikot nie. Ek wil net vra dat as of wanneer jy die fliek kyk, jy die volgende in gedagte sal hou.

Twee en ‘n half jaar gelede sou ek miskien nie bewus gewees het van die oproer oor die fliek nie en as ek was, sou ek dalk “Tsk Tsk, stoute Hollywood” gese het en my wenkbroue afkeurend gelig het. En onmiddelik weer daarvan vergeet het. Nou het ek aan die kant van die draad begin staan waar die woord “retard” of “vertraag” die mag het om seer te maak. Ernstig seer. En weet jy, ek gaan nooit weer dieselfde daaroor voel nie. Twee en ‘n half jaar gelede het ek myself nie in ‘n situasie kon indink waar iemand na aan my aan die ontvangkant van sulke woorde sou kon staan nie. Nou kan ek.

Jy kan nie vandag voor my kom staan en vir my kom se “dit sal nooit met my gebeur nie.” Een slegte motorongeluk… Dus, my vriend of vriendin: Versigtig trap. Let op jou taal en let op die taal van ‘n wereld waar jou kinders en nefies en niggies en vriende se kinders moet grootword.

As jy meer daaroor wil lees gaan kyk na Dave Hingsburger se inskrywing en as die Youtube link by Terrible Palsy nog werk, gaan kyk gerus daarna ook.

Comments»

1. elzabe - Augustus 13, 2008

Ben Stiller was nog nooit een van my gunstelinge nie. Ek het so twee dae gelede op “Not That You Asked se blog” ook van hierdie film gelees en ja, ek kan net met julle saam stem.

Hoewel ek weet hoe maklik n mens iemand kan seermaak of afronteer sonder dat jy die vaagste benul het of enigsins iets slegs bedoel is n fliek darm sekerlik iets heel anders. Daar gaan immers maande se beplanning en honderde menings in voor dit uitgereik word – dat niemand kon se “sjoe, is dit nie bietjie “hurtfull” nie ” is my dinges se deksel. Veral in n omgewing wat mens nie eens durf waag om na iemand se velkleur te verwys nie… Laat ek ophou, nou word ek sommer vies!!

2. vygie - Augustus 13, 2008

Ja, hoe mense ook al probeer redeneer dat die woord op sigself nie noodwendig ‘n negatiewe betekenis het nie, is dit die konnotasie daarom wat my pla. Dit het ‘n skelwoord geword. ‘n Woord wat beteken “jy is minder werd as ek.” En daardie gedagte word: “omdat jy minder werd as ek is, dra jou lewe nie dieselfde gewig as myne nie”. En dit word: “Jy is nie die moeite werd om te red nie.” En dit word: ” Kom ons los jou om dood te gaan.” En dit word: “Kom ons maak jou dood.” Menige voorbeelde hiervan die afgelope jaar gewees. Die teikenmark van die fliek is nie noodwendig intellektuele wat die “fyn” humor gaan waardeer nie. ( Nie dat intellektuele hulle nie skuldig maak aan wreedheid teenoor gestremdes nie. Inteendeel. Miskien is die regte woord eerder sensitiewes?)Tussen die mense in daai fliekteater gaan mense wees wat dink dis snaaks/reg om ‘n gestremde man dood te slaan omdat hy gestremd is. Die fliek se nie dis oukey nie. Die fliek se bloot dis reg om die woord te gebruik. Want Ben Stiller gebruik dit dan. Maar van daar af sneeubal die ding.

Jy opper ‘n belangrike punt, naamlik dat mens miskien bietjie fyn van nerf ook kan wees. En dat gestremdheidsaktivisme miskien juis skade ly omdat mense hulle oe begin rol omdat hulle nooit iets reg kan se of doen nie. Maar, soos jy ook se, ek dink nie hierdie is so ‘n geval nie.

Dankie vir die comment, Elz. Hoop dit gaan nog goed daar by julle?

3. maxie - Augustus 13, 2008

Wat my al opgeval en baie ontstel het, is hoeveel skoolkinders die woord “retard” gebruik om mekaar te beledig en by te kom. My seun het van jongs af al geweet dis nie aanvaarbaar nie, dis nie eens naastenby snaaks nie en dit word doodeenvoudig net nie toegelaat nie.
Die ergste was ‘n ruk terug toe ‘n welopgevoede, intelligente vriendin ‘n sms aanstuur oor gestremdes wat seker maar veronderstel was om snaaks te wees. Sy’t agterna gevoel daar’s fout met my sin vir humor (of gebrek daaraan, volgens haar). Haar eie sussie is gestrem. :???: The mind boggles…

4. Nelba - Augustus 13, 2008

Wat verblydend is is dat die bohaai wat verskeie groepe oor die fliek gemaak het tot gevolg gehad het dat sekere bemarkingsfoefies teruggetrek is bv die t-hemde. Jy is reg dat (eintlik alle)kinders die grootste slagoffers word. Net soos wat verantwoordelike ouers soos jy toesien dat kinders besef watter impak so ‘n woord het, so behoort ouers van gestremde kinders en kinders wat op skool sukkel ook vir hulle te leer dat hulle te veel werd is om te glo dat so ‘n woord die waarheid is oor hulle. Makliker gese as gedaan. Maar soos ‘n ander blogger gese het, is dit een van die min kere wat gestremdes en vernaam intellektueel gestremdes opgestaan het vir hulle regte. Dit is al ‘n groot ding.

Humor is nie meer humor wanneer iemand daardeur te na gekom word nie. Volpunte vir jou wat jou vriendin aangevat het daaroor.