Sterk (2) April 3, 2008
Posted by Twilight in Christenskap, Dood van 'n kind.trackback
Gister was om een of ander rede weer baie moeilik. Een van daai dae wat mens jou vasstaar teen alles wat jy verloor het. Soveel verliese. Soveel hartseer. Soms is dit verbasende goed wat jou die meeste lamlê. Goed waaroor ander mense hulle dalk nie eers sal bekommer nie.
Dit troos nie dat daar ander in dieselfde posisie is nie. Dit troos nie eers dat daar ander in veel erger situasies is nie. Mens draai jouself toe in ‘n selfsugtige kokon van eie seer. Ek sit en lees Sweet/Salty se blog en huil saam met haar. Maar eintlik meer oor sy sê wat ek voel. Ek is opstandig en kwaad. Woedend eintlik.
(Ek is ‘n kat. Daarvan is ek heilig oortuig. Dis hoekom ek so gek oor die spesie is. Ek kyk in hulle driehoekige oë en ek sien my eie siel daar sit tesame met die kloue wat uitskiet sodra ‘n kat in ‘n hoek vasgekeer word. Ek voel ek bevind my tans in ‘n hoek. En enigiemand wat my daar probeer uithaal doen dit op eie risiko. Ek wil net so seer maak as wat ek het.)
Sy loop stilweg, agter my rug, in. Ek vlieg om. Die trane nog in my oë. Goedgeleer om te huil in die bad of stort of agter ‘n donkerbril in die kar. Geluidloos. Altyd in beheer. Ek is onkant gevang en half op die verdediging.
Sy sê niks oor die trane nie. Ek het haar laas gesien voor ek met kraamverlof is. Sy is ‘n totale vreemdeling. ‘n Werkskennis. Sy weet van Loren. Vra hoe dit gaan met Magnus.
“God is altyd in beheer” sê sy so asof sy desperaat is en dit al sekerheid is. Ek staar verbaas na haar. Onthou haar nie as ‘n gelowige nie. En so begin ons om te praat. Regtig te praat.
‘n Paar jaar gelede het beide sy en haar man hulle werke verloor. Haar man het gevoel hulle moet hierheen kom. Sy het aansoek gedoen vir ‘n werk en dit gekry. Hulle het ‘n woonstel gekry binne stapafstand van die skool. Sy oorleef al gaan dinge by tye broekskeur. Haar man doen los werkies. Dit tas sy selfbeeld aan dat hy nie meer die broodwinner is nie. Hulle verhouding is tot daarnatoe. Hy verdink haar vanbuite-egtelike verhoudings. Krap in haar goed, kyk op haar selfoon en lees goed op haar laptop. Sy voel niks meer vir hom nie. Maar skei of hom los, sal sy nie.
Sy huil by God. Dis al Wie sy het. En dis genoeg.
2 Korintiërs 12:8-9 “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Soos wat ons praat kom ek agter dat ek vrywillig uit die hoek gekom het. Haar weerloosheid het my daar uitgelok. Ons neem van mekaar afskeid met ‘n uitruil van kontaknommers en ‘n drukkie.
Getroos.

Ai Vygie, ai ai ai. Hoekom is die wêreld soms so stukkend? Vandag is een van die dae wat ek ook nie antwoorde op my vrae het nie. Sterkte, vir jou en daardie onbekende kennis van jou.
Ek glo nogal mense kom op jou pad op die regte tyd. Ek is bly jy het jou kennis raakgeloop.
Ek was nou al hoeveel keer hier en ek weet net nooit wat om vir jou te sê nie. ‘Skies ek’s so useless, maar ek dink gedurig aan jou…
Altyd goed om nog ‘n kat raak te loop. (((Vygie)))
Ek wou nog altyd ‘n comment op jou blog los, maar elke keer begewe my gemoed en kan ek net nie aan die regte woorde dink nie.
Ek wil net hê jy moet weet ek is totaal en al verslaaf aan jou blog, my dag is nie voltooid as ek nie ingeloer het om te sien wat in jul lewens aangaan nie.
Ek dink die rede vir hierdie verslawing is dat ons iets groots in gemeen het en daarom kan ek saam met jou lag en ook saam met jou treur, wanneer die sonskyn vir ‘n wyle uit ‘n mens se lewe verdwyn en jy voel of jy alleen staan, gestroop van alles.
Ek sien uit na jul kuier die 25ste April en weet net ons sal verstaan as jul die 26ste Alleen tyd nodig het.
Liefde
N & J
Dankie, julle vir die kommentaar. Nicci, mens kan mekaar maar net probeer troos. Dankie dat jy (julle) verstaan.