Selfondersoek Maart 17, 2008
Posted by Twilight in Uncategorized.trackback
Noelle : ”Did you ever look into a mirror so long that your face didn’t make sense anymore? It just becomes all these shapes. Just shapes. Not good or bad. …”
The truth about cats and dogs
Selfs metafories gesproke, is ‘n aanhoudende gestaar in die spieël naderhand teenproduktief. Om mens te wees het jy sekere eienskappe en hoe jy hulle inspan bepaal jou nalatenskap. Ek dink nie enige mens is simplisties goed of sleg nie. Wanneer jy dit aanvaar het, mag jy dalk op wankelrige voet met jouself wees, maar vir die eerste keer staan jy voor die waarheid.
Min mense staan een oggend op en besluit: Vandag gaan ek So en So bedonner.
Nee, gewoonlik is dit juis wanneer ons ons beste probeer dat dinge begin skeefloop. Partykeer is ons net te verskillend om dieselfde paadjie te probeer bewandel. Die een wil noord en die ander een neuk aljimmers suid.
So kan mens een oggend wakker word en besef dat deur ‘n sameloop van omstandighede belangrike verhoudings onherstelbaar beskadig is. Dit noop jou om met meer as net ‘n tikkie bitterheid in jou siel rond te loop. Jy skryf swak poësie en jy’s lus om goeters teen mure te begin stukkend gooi. (Behalwe dat jy eintlik jammer vir jou goed is en die enigste ou wat die skerwe kan opvee is maar net jy self. )
Die vraag is wat om daaraan te doen. Is dit trouens die moeite werd om iets daaraan te probeer doen? Waar kom selfbeskerming in? Waar kom natuurlik affiniteit vir mekaar in? Is dit moontlik of noodsaaklik om werklik te probeer om ‘n verhouding wat weens persoonlikheidsbotsings nog nooit gewerk het nie te dwing om te werk?
Is dit nie dalk beter om ‘n afstand te handhaaf en darem net te probeer om in vrede met mekaar te leef nie? En sê nou maar een party is patologies nie in staat daartoe om in vrede met ander mense te leef tensy dinge altyd volgens sy/haar sin gaan nie? Sê nou maar jy bly nou al vir twaalf jaar lank al stil, maar jy’s nou verdomp moeg stilgebly?
Dit, liewe bloglesers, is my dilemma. Enige kommentaar?

Hoe ouer ek word, hoe minder lus is ek om energie en tyd aan verhoudings te spandeer wat eintlik maar nie wil werk nie. Nie om in vyandskap te leef nie, maar eerder net ‘apart’ te leef. Ek is seker abnormaal in daardie opsig, maar ek kan my van iemand afsluit as ek voel hy/sy ‘add nie value to my life’ nie. Hoekom alewig met ‘n ongelukkigheid rondloop? Ek weet nie hoe Christelik so benadering is nie, maar dit werk vir my. Geen bitterheid in my hart nie, geen haat, geen woede nie.
Weet jy, ek stem saam met boendoe, as jy ouer word het jy nie meer tyd vir sulke snert nie. Ek staan gewoonlik ‘n tree terug, probeer die hele vriendskap of verhouding in perspektief sien, weeg my opsies en “cut my losses’. Dan gaan ek aan met my lewe. Ek top nie oor wat verby is nie. Ek kyk vorentoe, (ter wille van my gesin en my eie geestelike gesondheid!) en ek gaan aan. Seker maar tonnelvisie, maar my tyd en energie is te kosbaar, ek kan nie toelaat dat onsinigge, tapende verhoudings dit steel nie. Hel ek het ‘n man en kinders wat my nodig het, lief het, en omgee! As daar dan gemors moet word mors ek eerder my energie op hulle.
Dis soos om al hierdie glasballe in die lug te probeer hou soos ‘n nar. En as jy nie een of twee neersit nie, gaan die hele spul val en in skerwe breek. Futiele situasies is die glasbal wat ek eerste neersit.
Dankie, julle!