jump to navigation

Soos ‘n wafferse fliekmeisie Maart 13, 2008

Posted by Twilight in Uncategorized.
trackback

Sonkind se aanhaling van die Dana Snyman skets (wat my laat lag het tot ek huil) het my laat dink aan ‘n ander hek-storie wat ek ken. Ek is nou nie Dana Snyman nie, maar die storie is darem baie snaaks.

My ma kom van Vryburg se wêreld. Oupa en Ouma het hulle hele lewe op die plaas Deelfontein naby Piet Plessis gebly. Op pad na hulle plaas moes mens tientalle hekke oop- en weer toemaak. Want los jy ‘n hek oop veroorsaak jy dat bulle kom by koeie waar hulle nie moet kom nie of dat skape goed vreet wat hulle laat opblaas en so aan. Moeilikheid met ‘n hoofletter-M. Die soorte hekke het gewissel van die aluminium soort met ‘n netjiese ketting en winkelgemaakte hakding tot smoelslaners. Dis ‘n hek van stukkies hout en draad wat jy met ‘n ander stuk hout vaswoel om die hoekpaal. As jy nie versigtig is nie, skiet daai ding met ‘n merske spoed los en tref jou reg op jou bek.

Op ‘n stadium het my tannie-hulle by Ouma op die plaas kom bly toe Oupa se gesondheid onomkeerbaar versleg het. Ouma het nooit geleer kar bestuur nie en dus was dit my tannie se taak om Ouma dorp toe te vat in Oupa se Mercedes met die outomatiese ratkas. Die hekoopmakery het bietjie gelol. My tannie wou nie hê dat Ouma elke keer moes uitklim om die hek oop te maak nie en Ouma het ook jammer gevoel vir haar dogter. Dus het hulle ‘n kompromie aangegaan. Tannie Lena sou uitklim om die hekke oop te maak mits Ouma die kar in Drive sit en mooi versigtig uit die passasierssitplek deur die hek stuur. Na die hek, sit sy die kar weer in Park sodat my tannie die hek kan toemaak en kom inklim om verder te ry.

Maar een dag toe Ouma die kar mooi deur die hek het, gee die hek – ‘n smoelslaner – bietjie probleme en terwyl tannie Lena se aandag toegespits is om die hek toe te kry sonder skade aan haar mond, begin die kar weghol met Ouma. Ek weet nie wat fout was nie. Miskien kon Ouma nie die kar in Park kry nie. Of dalk het sy paniekerig geraak en vergeet wat sy moes doen.

Maar teen die tyd wat tannie Lena opkyk van haar gespook met die hek, trek Ouma en die kar reeds ‘n hele entjie met die sandpad af. Ouma lyk of sy darem nog die kar in die pad probeer hou, maar net daar voor is ‘n 90 grade draai en tannie Lena weet Ouma se motorbestuursvermoens strek nie tot by draaie nie.

Sy vertel. “Kindjie. En ek sien hier kom moeilikheid. Ek sien net Ouma se koppie met die ligpers haartjies uitsteek (ons het juis haar haartjies so mooi ingedraai vir die dorp-toe-ganery) en ek kan behoorlik voel hoe benoud sy is. Toe begin ek maar te hardloop. Soos ‘n wafferse fliekmeisie. Met my hoëhakskoene. En ek hol daai kar van agter af in en ruk die deur oop en spring in. Net betyds om die kar om die draai te stuur. Ouma is wasbleek en haar oë is so groot soos pierings. Van toe af verseg sy om aan die stuurwiel te raak. Sy sien eerder kans om die hekke oop te maak, seg sy. Ten minste hol hulle nie met mens weg nie.”

Comments»

1. sonkind - Maart 13, 2008

Vygie, ek lees hierdie terwyl ek ‘n breek vat by die werk en ek het nou so kliphard gelag dat almal wil weet waaroor lag ek. Dis regtig skreesnaaks!!!

Dankie vir ‘n lekker lag.

2. freddy - Maart 13, 2008

“en ons het hulle so mooi ingedraai”. Tehehehe. Moeilikheid is toe by die draai.

3. Zee - Maart 14, 2008

Vygie, ek het nou lekker gegiggel vir jou! :lol:
Ai, hoe verlang en nou nie my ouma met haar ligpers haartjies nie!

4. boendoe - Maart 16, 2008

O jinne! Dis snaaks, al is dit ten koste van ‘n pershaartannie!