jump to navigation

Eind goed, als goed. Maart 12, 2008

Posted by Twilight in Ou grote, Vegtertjie.
trackback

Gistermiddag bars die grootmoeder van alle donderstorms los net toe die agent iemand bring om na die huis te kom kyk. Die arme honde is vreesbevange vir die swaar weer. En foei, wie sou die hart hê om hulle buitetoe te jaag? Nie ekke nie, dis verseker. So daar gaat die ry modderspoortjies oor die skoon vloere. Watter goeie indruk ons nou ook al kon gemaak het, is in sy maai. Ek probeer die kinders en myself skaars maak terwyl die vreemde man en die agent deur die huis loop. Wat bra ‘n ongemaklike situasie is om die minste daarvan te sê.

Die potensiële huurder is skaars al glyende weg toe bedaar die reën darem genoeg dat ek Anna en Chicks – wat by die taxistaanplek moet uitkom – kan neem. Ons laai die twee kinders in die kar en daar gaan ons.

Anna sit vrolik en babbel en vertel vir Chicks van die kinders se manewales. Ek sit en dink aan pasta vir aandete – die hoendersous is klaar, ek moet nog net die pasta kook. Ons laai die twee af en het net teruggedraai huis toe, toe my selfoon lui. Dis Dirk. Hy was Johannesburg toe vir die dag en deel my met galgehumor mee dat hy so pas veilig geland het.

In Durban.

Dit het te erg gereën in Pietermaritzburg en die loods het met ‘n versigtigheid wat heel moontlik heelwat met selfbehoud te doene het besluit om nie te probeer land in Pietermaritzburg nie. Nou moet Dirk-hulle met bussies vervoer word van Durban af Pietermaritzburg toe.

Toe ons by die hek inry, besef ek met ‘n gelatenheid wat uit dure ondervinding kom dat die ligte – wat ek aangelos het – nou af is. Die krag is dus af.

What’s new pussycat?

Geen warm aandete nie en Chicks se rookgewoonte het ons vuurhoutjies stadig maar seker uitgedun.

“Ma’am. Could you please lend me a box of matches?”

Lend se gai. Van die hele pak is daar nou een boksie met drie vuurhoutjies oor. En dit beteken hy’t sommer homself aangehou help daaraan. Ons rook nie, so ons besit nie sigaretaanstekers nie. (Miskien moet ek tog maar een gaan koop en iewers weg van die kerse gaan wegsteek.)

Ek steek dus die kersies versigtig op met net een vuurhoutjie. En nou ken jy ‘n vierjarige seuntjie? Hy wil die kersies sommer weer doodblaas. En met die twee vuurhoutjies wat oor is speel. Toe probeer hy ‘n lampskerm maak van sy pa se golfhoed. Amper met noodlottige gevolge. Ek ruk die ding net betyds uit die vlam. Hy dra die kers versigtig na die vistenk toe “sodat die vissies nie bang word vir die donker nie” , maar ek wys hom daarop dat hy die houtkas so aan die brand kan steek.(En dink in die stilligheid dat as die krag nie gou aangaan nie, die visse heel moontlik erger probleme gaan hê as die donker.) Hy gee my ‘n kyk wat duidelik sê: Pretbederwer! En sug swaar.

Ons probeer kaart speel. Snap. Maar Marco konsentreer meer daarop om ‘n beter term as Snap uit te dink as wat hy hoegenaamd die passende kaarte raaksien.

“Mamma, jy moet sê ‘Tjap!’ Of nee. ‘Klak!’”

Magnus sien die pragtige kaarte en terwyl hy kraai van vreugde in die vooruitsig, skiet hy met ‘n geweldig spoed op sy maag op die vloer in die rigting van die begeerlike voorwerpe. Marco begin kaarte bymekaar maak met ‘n benoude kyk in sy broer se rigting. Hy weet maar te goed wat van enigiets in papierformaat oorbly nadat Magnus dit beetgehad het.

“Mammaaa. Keer hom!” weeklaag hy.

Ek gaan maak die twee sit by die kombuistafel. Magnus in sy stoeltjie. Ons eet die honder-in-sous op ‘n broodjie en Magnus kry mango en joghurt. By kerslig.

Na die ete het veral Magnus ‘n bad dringend nodig. Ek tap net genoeg water in dat Magnus in die water kan lê sonder dat sy gesig in die water is. Marco vat ‘n hap water en spoeg dit uit op Magnus se kop. Ek wil nog raas, toe Magnus uitbars van die lag. Natuurlik doen Marco dit weer met Magnus wat met al hoe meer oorgawe skater. Dis so prettig, dat ek die twee maar laat begaan. En net toe gaan die krag aan. Sekondes later loop Dirk boonop by die deur in.

Eind goed als goed.

Comments»

1. boendoe - Maart 13, 2008

Alles bekende situasies. Jy beskryf dit so goed, ek was vir ‘n rukkie in jou huis.