Karma shwarma Maart 9, 2007
Posted by Twilight in Cerebral Palsy, Christenskap, Wennertjie.trackback
Lees gou hier.
Ek moes half glimlag toe ek dit lees, want natuurlik het ek ook al mense gehad wat die hele konsep van “karma” (oorsaak en gevolg) net ‘n bietjie te vêr na my sin gevoer het en beweer het Wennertjie moes iets verkeerd gedoen het in ‘n vorige lewe om te verdien wat hy nou beleef. Of ek, of sy oupas en oumas… Natuurlik is dit te belaglik vir woorde. In my sfeer van denke, in elk geval.
Snaaks dat dit nie altyd alternatiewe denkers of Buddiste is wat hierdie standpunt handhaaf nie, maar sommige Christene wat maar baie dieselfde dink, wat lekkerkry en voel ons sondes het ons finaal ingehaal….Ten spyte van die feit dat om Christen te wees juis beteken Jesus het ons almal vrygekoop van sonde en dat ons nooit self hoef te boet vir ons sondes nie.
Ek begin baie dieselfde voel oor mense wat beweer dis net spesiale mense wat die ouers is van ‘n kind met gebreke. As dit waar is, is ek bereid om my spesiale status met daai siel te ruil – hier en nou. Snaaks, ek dink nie hulle sal my aanbod aanvaar nie…
Natuurlik is ek gekies om Wennertjie se ma te wees. Gesond of siek, breinbeseerd of nie-breinbeseerd. Sy breinbesering is ook nie sinneloos nie. Daar het te veel ongelooflike dinge plaasgevind as gevolg daarvan om ooit te kon beweer dit wat gebeur het is sinneloos.
Maar ek dink nie ons is gekies om Wennertjie se ouers te wees omdat ons swaarkry soveel beter as ander mense hanteer of omdat ons spesiaal is of omdat ons ‘n lewensles of twee gekort het nie. Ek dink alle mense in ons omstandighede sal reageer baie soos wat ons reageer. Met moedeloosheid en hoop, moed en lafhartigheid, krag en swakheid. Ons is almal net ouers, net mense.
Mens leer wel blitsvinnig baie meer van mense as wat jy eintlik graag sou wou weet indien jy in ons posisie is. Mens leer ook dat daar geen waarborge is nie en dat die veiligheidsnette waarop jy altyd kon staatmaak eintlik spinnerakke is. Jy leer ‘n hele hoop van vertwyfeling en nie weet watter kant toe nie.
Gelukkig is daar konstante versekeringe: Ek weet wel dat ek ‘n God dien wat alles ten goede laat meewerk. Dus is Wennertjie se CP, my rol daarin en mense se noodwendige reaksie daarop natuurlik nie wat ek sou wou hê nie, maar ek kies om in alle omstandighede die goed daarin raak te sien en te bevorder. Want ek het darem ook al gesien dat positief baie dikwels positief opvolg.
Ons het ‘n uitsonderlike kind en ek aanvaar hom as iemand wat uitsonderlik is juis omdat hy CP het. Hy het geleer om te veg en om die wonder van dinge te bly raaksien ten spyte van sy omstandighede – so klein as wat hy is – juis omdat hy dit amper nooit doodmaklik het nie. Wennertjie is nie ‘n tweederangse mens of ‘n las nie. Hy is volkome en meer mens as die meeste. Hy is… Oorwinnaar – in Jesus.
Ek sal nooit as te nimmer berus by die gevolge van CP nie. Solank daar krag in my lyf is sal ek bly terapie doen en hom bly stimuleer om die beste te word wat hy kan wees. Ek sal ook vir Wennertjie aanmoedig om nooit moed en hoop op te gee nie. En weet jy, ek weet ons gaan wen. Want God kan alles doen.
Waarom het mense dan sulke belaglike idees oor die redes vir rampe en tragedies en moeilike omstandighede?
Die idee dat iets met hulle kinders of hulleself kan skeefloop is vir baie mense so ondenkbaar dat hulle glo mense met wie dit wel gebeur iets moes gedoen het om dit te verdien. Hulle glo dat om volgens die reëls te leef en hulle bes te doen hulle sal vrywaar van alle kwaad. Ek wens ek kon hulle aan die skouers gryp en skud dat hulle tande ratel. Ek dink hulle moet wakkerword en besef hulle staan viervoet in ‘n sondige en vervalle wêreld waar slegte goed elke dag met goeie mense gebeur. En nêrens in my Bybel of in die verloop van die wêreld is daar enige aanduiding dat God Sy kinders oppiep of vrywaar van seerkry nie. Maar Hy is wel by ons in seerkry en Hy stuur die kwade in die beste rigting sodat dit uiteindelik verander in positief en goed.
Ek kry elke dag te doene met die ouers van kinders met gebreke. Hulle is nes ek en nes jy – doodgewone mense. Hulle is nie beter of sondiger as jy nie. Hulle is uitsonderlik – want hulle moes baie vinnig baie dinge leer. Maar hulle het so geword deur omstandighede, hulle was nie noodwendig so nie. Hulle is vir hulle kinders liewer as die lewe self – nes jy. En al wat hulle van jou vra is om hulle en hulle kinders te aanvaar nes hulle is en om jou kinders op te voed om nie bang of versigtig te wees wanneer hulle met iemand met ‘n gebrek te doene kry nie.

Ek dink wanneer mense iets soos siekte en gestremhede by ander sien, dan ontstel dit hulle en is hulle bang iets soortgelyk kan hulle oorkom. Daarom dink hulle goed soos reinkarnasie uit, om vir hulself te se^, “Toemaar, daardie persoon het eintlik daarvoor gesoek, dit kan nie met my gebeur nie.” Dis simpel.
Al wat karma eintlik behoort te beteken (en ek dink dis hoe die Boeddha dit bedoel het) is dat elke daad wat mens doen gevolge het. So mens moet versigtig wees met jou handelinge, hulle haal jou altyd weer in. Hy het egter nie bedoel enige ding wat jou oorkom is die gevolg van jou “sondes” nie. Soms gebeur ongemaklike goed maar net met goeie mense wat dit nie verdien nie. Dit maak nie van jou ‘n slegte mens as iets naar met jou gebeur nie.
Jy’t die spyker op die kop geslaan!
Elsabe het vanmiddag haar doedoe verloor.Haar hartseer en ontnugtering het ek aan my eie lyf gevoel toe dit slapenstyd word en haar uitgerafelde, verslete angorawolserpie is nowhere to be found. Ja, ons het hulle liewer as wat ons onsself het. En daarom bid ons vir hulle…heel eerste…
Hi Istell
Ja-nee. Dis waar. Het die doe-doe toe darem weer vorendag gekom?