jump to navigation

Rivierklokkies November 10, 2006

Posted by Twilight in Uncategorized.
trackback

Gardening requires lots of water – most of it in the form of perspiration.
-   Lou Erickson 

 

Tuine praat hulle eie taal.

 

Lief vir tuinmaak, was ek nog altyd. Selfs as kind in ons yslike plaastuin, het ek fluks gegrawe aan nuwe beddings en nie eers my ma se byt op haar tande raakgesien as ek die gras so uitskoffel nie. Dit was ‘n ongelooflike tuin. Geplant deur die vorige eienaars in ‘n era toe water en arbeid volop was. Dit het my ma drie dae se harde werk in die somerson geneem om die gras te sny en ek is nie altyd so seker of die water wat van haar gesig af gestroom het sweet of trane was nie.

 

Daar was massas groot bome en ‘n rotstuin, klipmuurtjies en terasse, ‘n somerhuisie en uitgestrekte boorde. Hoekies en draaitjies en geheime plekke waar ‘n kind sommer heeldag kon wegraak. By tye het ek ‘n bevlieging gekry en massas blomme gepluk wat ek in potte die hele huis vol gerangskik het. Ons mog alles gepluk het, behalwe my ma se Babertonse madeliefies. Op hulle was sy baie heilig.

 

So deur osmose het ek plantname leer ken, irisse, dahlias, oupa-se-hoed, rose, daglelies, peonies en stink Afrikanertjies. ‘n Klomp struike se name sou ek nooit leer ken nie. Maar dit  maak my steeds sielsgelukkig wanneer ek een van my kinderjare vriende iewers raakloop.

 

In Bloemfontein het ek ‘n meenthuis gedeel met liewe Louise wat die wetenskaplike name van plante op die punte van haar vingers geken het en ‘n lushof geskep het in die posseël grootte tuintjie met omtrent net groen plante. Een van my geliefkoosde herinnerings van daai tyd is hoe sy een of albei van haar tweelingbroers reusagtige klippe laat ronddra het  en sus of so laat neersit het tot hulle haar sin vir estetika bevredig. Naderhand sou hulle kreun:

 

“Dit lyk mooi net daar. Regtig, Louise!”

 

 By ons vorige huis het ek vir die eerste en laaste keer weer die struik gekry wat sulke suurderige rooi bessies wat amper soos minikoejawels lyk dra. Het my net soos kleintyd siek daaraan geeet en weet steeds nie wat die naam daarvan is nie.

 

Toe ek en Standvastige in hierdie betrokke huis intrek, was daar baie werk aan die tuin nodig. Die huis is in die 1940’s gebou en die tuin dateer ook uit daai tyd. Daar was groot bome en volwasse struike. Maar die tuindienste wat deur ‘n reeks huurders gebruik is, het stelselmatig alle blomme uitgskoffel tot daar net die (baie netjiese) leë beddings oorgebly het.

 

Ek het met groot entoesiasme en weinig “savvy” begin tuinmaak. Die plante het gevrek, of het gekwyn op die plekke waar ek hulle opsluit wou hê. En wat oorgebly het is deur die honde vernietig wanneer hulle paadjies agter die stoute ape aan gehardloop het. Uiteindelik het ek ‘n waardevolle les geleer. As jy troeteldiere het, los hulle eers tot hulle klaar gegrawe en gehardloop het en beplan jou tuin dan daar om. Uiteindelik het ek sukses begin ervaar.

 

Net die boonste deel van die erf was ontwikkel. Ondertoe het nog ‘n groter deel erf afgedaal na ‘n stroompie. Bamboese het amper hierdie hele area ingeneem. Maar toe ons begin skoon maak, kom ons op die oorblyfsels van die struktuur van ‘n ou tuin af- toegespoel onder die grond. Klippaadjies en trappies, terasse en selfs muurtjies het onder die modder tevoorskyn gekom. Ek het behoorlik soos ‘n argeoloog gevoel!
Om hierdie area te beplant, sou jare se werk wees. Ongelukkig het ek nie jare gehad nie. Ons het weggetrek van die huis na vyf jaar.

 

Ons nuwe erf was groter en nog meer onbegaanbaar. Ek moet met skaamte bieg dat ek nog net aan ons bure se kant af was na die stoompie wat die grens daarvan vorm. Hier by ons is dit te begroei. Die boonste deel van die tuin is ook redelik gevestig. Met pienk as hoofkleur. Pienk rose, pienk blomstruike. Nie my, ahem, geliefkoosde kleur nie. Gedagtig aan die honde se hardlopery, het ek eers die tuinmaak gelos. Net toe ek lekker aan die gang is, raak ek swanger met Vegtertjie en die opvolgende groeiseisoen was hy nog te klein om saam met my tuin te maak. Toe hy uiteindelik sterk genoeg begin loop om die walle te
kan trotseer, is ek swanger met Wennertjie.

 

Ek kon darem hier en daar begin  om dinge te verander soos wat ek graag wil. Minder pienk, minder “cottage”, meer inheems en natuurlik. Weens die rypvrye klimaat en die goeie reënval hier, is daar min goed wat nie groei nie. Selfs in die winter is die tuin redelik mooi. Iets wat my baie trots laat voel is die clivias wat ek van saadjies af laat groei het en nou al die tweede seisoen blom.

 

Maar daar onder teen die draad is daar ‘n dooie kol. Ek het al lankal die droom om ‘n watertuin te skep. Klein kindertjies en watertuine werk nie so mooi saam nie. Ons moes reeds die swembad omhein en die swembad en visdam met net toemaak. Maar toe kom ek op die idee van ‘n droë rivierloop. Met klippe en massas varkore. Ek lees ook van ‘n inheemse struik genaamd “makaya bella” waarvan ek dadelik hou.

 

Die klippers is, danksy ‘n misverstand tussen my en Anton, die tuinier wat ons een keer ‘n week help, nie op die regte plek nie. Die buurhonde het my varkore anderkant die heining platgeloop (ek het bietjie van hulle vergeet!) Maar die varkore duskant kom mooi aan en smiddae help Vegtertjie my fluks om kraters oop te spoel  eee… nat te gooi. Die makaya bella blom tog te mooi.

 

Ek kan nie wag vir die dag dat Wennertjie saam met ons
kan begin tuinmaak nie. Noudat hy minder agteroortrek, is dit eintlik reeds moontlik om hom te probeer neersit waar hy ons
kan dophou. Dis net die suigery wat lol. Want hoe moet ma nou vinnig van modderhande ontslae probeer raak? Kom tyd kom raad, glo ek.

 

Ek het nog lank nie vrede gemaak daarmee om paadjies te laat installeer wat begaanbaar sou wees met, sê maar, ‘n rolstoel nie. Die tuin bly fluister van twee seuntjies wat saam soos twee wafferse willewragtigs by die walle afrol. En wat die boomhuis wat Oupa (Oupa?) nog vir hulle in die moerbyboom gaan bou met groot lus sal benut.

Comments»

1. ericat - Augustus 16, 2008

Dit is ‘n baie lekker gesels blog in Afrikaans. Ek hoop jy gee nie om nie as ek sommer met die instap vir jou eien met ‘n “tag” . Dit is elkeen gee so bietjie vrolike inligting en ons leer mekaar ken. Sien my
blog
vir die inligting. Dit neem soveel tyd as wat jy wil gee en die skakels heen en weer maak dat meer mense ons sien.

groete
Eurica van die weskaap.