jump to navigation

Mall-erig July 4, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
2 comments

Om vier ure in ‘n winkelsentrum te spandeer met twee kleuters waarvan een twee jaar oud is, is nie ‘n goeie idee nie.

Die kar moes ingaan vir ‘n diens. Ons getroue mikrogolfoond van 12 jaar het uiteindelik (finaal – soos ek later tot my innige spyt moes verneem) die gees gegee en ek het dit gaan ingee vir ‘n kwotasie om te sien of dit moontlik is om te herstel. Wat my R100 uit die sak gejaag het, maar dit daargelaat. Al my vrinne in die stad werk. En dus was die enigste plek waar ek en die kinders sonder ‘n kar tyd kon spandeer die Midlands Liberty Mall. My pa het boonop besluit sy twee kleinkinders sal nie in Estcourt se winter verkluim nie en geld in ons rekening deponeer vir twee elektriese komberse. Ek wou dus pryse vergelyk. Bygesê, ons het nie gedink die kar se diens behoort baie lank te neem nie.

Die eerste uur of wat het ons vrolik rondgeloop, ek het vir die kinders ietsie te ete gekoop waarvan ek op die ou end die meeste moes eet. Toe het ek Dirk se horlosie gaan ingee vir ‘n nuwe battery, ‘n karretjie (met twee stuurwiele!) gehuur vir die kinders en die Mall stelselmatig platgeloop. Ons het ‘n draai gemaak by Chanelle wat Marco en Loren op ‘n stadium as babas opgepas het waar sy by een van die winkels in die Mall werk en toe maar weer die pad gevat. Toe ons ons draai aan die anderkant maak, was dit duidelik my tweetjies was uitgekuier.

Teen daai tyd het ek al al ‘n onderonsie met die sekuriteitswag by Clicks agter die rug. Ek wou die elektriese komberse daar koop en is met die kinders se karretjie in die winkel in. Die winkel is egter nie soseer klein as wat dit volgepak is met allerhande snert nie en sommer gou het ek my vasgeloop. Toe moes ek karretjie en al agteruit – wat nie ‘n eenvoudige taak is nie. Hierdie soort karretjies kom nie met kragstuur uit nie… Oor mense se tone en skies, skies. Terwyl die kinders beide verwoed aan hulle stuurwiele draai om ma tog net te help.

Dis toe dat die sekuriteitswag my takel en uit die hoogte meedeel die soort karretjies word nie in die winkel toegelaat nie. Hy sê hy sal vir my ‘n mandjie bring en ek moet die kar buite gaan parkeer. Ek is onmiddelik vies, maar sê ek is in elk geval klaar en is nou besig om uit die winkel te probeer uitkom! Waarop ta omvlieg en my net daar los waar ek spook om ‘n gang te kry wat skoon genoeg is om my weg tot by die kasregisters te vind. Natuurlik kan kar se kind nie in die nou gangetjie tussen kasregister deurpas nie en stoot ek dit toe inderdaad tot net buite die winkel. Maar daar wil die kinders opsluit nie uitklim nie. Ek kies toe maar ‘n kasregister waar hulle niks verder as twee meter van my af is nie en ek hulle die heeltyd in die oog kan hou en dreig hulle dat ek hulle velle sal aftrek as hulle beweeg.

Ek beland agter’n siel wat daarop aandring om haar inkopies te betaal met al haar kleingeld – wat noukeurig eers uitgetel moet word. En toe dit my beurt is om die komberse te betaal, raak die kassiere skoon oorhoops met alles wat sy oor klientediens geleer het terwyl ek net wil betaal en by my kinders uitkom. Hoe onvriendeliker ek raak, hoe vriendeliker raak sy. Toe ek uiteindelik haar aanbod om ‘n Clickskaart en die invul van ‘n vraelys suksesvol afgeweer gekry het en my goed betaal het, sien ek die sekuriteitsmannetjie. Soos ‘n rooi doek voor ‘n bul. En ek storm.

Ek beduie vir hom baie mooi dat hulle gerus in die vervolg ‘n mooi groot teken kan opsit wat die karretjies uit die winkel verban. Waarop hy druipstert erken daar is nie een nie en dat dit sy plig was om my te keer voor ek die winkel in is, maar dat hy nie op sy pos was nie.

Daar is geen etiketreël wat voorskryf wat mens moet maak as jou tweejarige sy bottel sap vir ‘n ander wildvreemde kind aanbied en die ewe dankbaar daaraan teug en dit teruggee nie. Die ma staan en kyk elders. Toe onderskep ek die sap maar en gaan gooi dit ‘n entjie verder in ‘n asblik. Kieme met bekendes deel is een ding. Maar ek gaan nie kanse vat met iemand wat ek van g’n kant af ken nie. Gesien in die lig dat Magnus later handeviervoet sou loop, suiker van ‘n tafel afeet en nog ‘n paar goed sou doen wat my hart amper laat staan het, het ek moontlik oorreageer.

Dis ongeveer op die punt waar ek die karretjie moes teruggee (’n uur voordat ons kar uiteindelik reg was)wat Magnus se weghardlopery begin het. Ek wil dit nie eers beskryf nie, dit maak my neuroties. Maar daar is min goed erger as om agter ‘n tweejarige aan te hol wat net-net voor jou tussen die massas mense wat op ‘n Vrydagmiddag die winkels toesak bly verdwyn.

Volgende keer vat ek hulle liewer Botaniese Tuine toe. Ten minste as hulle daar weghol is dit net plante waarmee ek moet stoei.

Klein seuntjies… June 30, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
4 comments

Eet koek en gooi die krummels onder die bed in.
Strooi die speelkaarte wat jy nou net opgetel het soos blare rond.
Grawe die bolle wat jy so pas geplant het uit. Saam met handevol modder.
Gaan sit in die modder.
Hardloop weg vir jou geklee in net ‘n doek. In die middel van die winter.
Gee nat soene – vir die hond.
Lek die onderkant van hulle skoene nadenkend en smak dan hulle lippe smaaklik.
Dink poep is snaaks. Enige tyd, enige plek.
Beskuldig hulle pa, ma of broer van poep wanneer dit eintlik hulle was.
Ontken ten sterkste dat hulle ‘n stink doek het. Al ruik als na mishoop.
Spuit deodorant in hulle broers se gesigte.
Trek matte onder hulle broers uit.
Klim op die kombuiskas om die pasta by te kom en eet dit dan rou.
Maak die plaveisel nat en speel dan in die waterpoele met hulle nie-waterdigte skoene aan.
Beskou dit as ‘n persoonlike belediging as jy hulle gesigte of neuse afvee.
Steek die kat onder die komberse weg,
Is mal oor vuurmaak.
Wil op jou skoot sit nes jy moet kosmaak.
Jaag mekaar op hulle fietse rond nes jy bietjie stilte en rus begeer en dalk dat een van hulle op jou skoot moet kom sit.
Kan nie genoeg van stories kry nie.
Kou rou wortels en spoeg dit dan op die mat uit.
Wil net slaap wanneer jy moet wakker wees
Wil nooit eet wat jy kook nie. Wel wat jy gister vir middagete gekook het.
Kry onuithoudbare hongerpyne ‘n uur voor ete.
Baklei in die bad. Met rampspoedige gevolge vir die vloer.
Wikkel jou boude en sing Jelly wobble Jelly wobble.
Wil iets ernstigs debateer nes julle moet ry iewers heen.
Weier om ‘n trui of skoene te dra.
Gee die beste drukkies en soentjies in die wêreld.

Wat is hoekom ons almal mal is oor klein seuntjies.

Verveelde huisvrouens June 28, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
3 comments

Onlangs vra iemand my of ek nou ‘n “lady of leasure” is. Onmiddelik voel ek hoe die stoom in my kop opbou en by my ore begin uitborrel. Waar kom die idee vandaan dat mense wat nie buitenshuis werk nie, niks vir hulle hande het om te doen nie?

Verveelde huisvrouens is ‘n term wat ek nog nooit verstaan het nie. Of nee, ek ken wel huisvrouens wat regtig verveeld is. Patetiese siele met te veel bediendes, geen stokperdjies en geen dryfkrag nie. Rykmanskinders wat met ryk mans getrou het en aljimmers sit en wag vir ander mense om hulle te vermaak.

In my huis en die meeste ander huisvrouens wat ek ken se huise is daar nie flippen tyd vir verveeld wees nie.

Daar is altyd wasgoed, skottelgoed of ‘n vuil vloer of twee wat smeek om seep en water. Op die oomblik is daar voortdurend ‘n vuil doek, ‘n vuil bekkie en twee hande wat omruil, afvee of skrop vereis. Daar is honde wat kos moet kry en oormuti en vlooigoed en wurmpille. Katte-ditto. Vistenks wat dan en wan ‘n goeie skoonmaak vra. Blare wat gehark moet word of groente wat natgegooi word. Tussendeur is daar Mamaaa! MAMMAAA. Kos wat gekook moet word, kinders wat blinkgelek moet word om hulle kos te eet en tafels wat afgedek moet word. Beddens maak hulleself nie op nie en klere spring nie opgevou in kaste in nie. Kort-kort soek iemand iets om te drink en projekte soos knip, plak en aanmekaarsit is deel van elke dag se uitdagings. Klein kindertjies op sigself is al ‘n voltydse werk. Dis die goed wat gedoen moet word. Die goed wat ek graag sou wou doen, kom ek nie eers by uit nie.

Ek het onlangs afgekom op ‘n amper klaargebreide trui wat ek seker begin brei het voor Marco se geboorte. Hoe ek gedink het dat ek selfs op my maerste daarin gaan kom ,weet ek nie. Die trui behoort net mooi vir Marco te pas en Marco kort hoeka ‘n lekker warm trui. Die eerste mou was driekwart gebrei en toe ek dit teen Marco se armpie meet, sien ek dis net lank genoeg vir hom. Dis toe dat ek my oge na die berge opslaan uit pure dankbaarheid en die mou net daar afeindig. Mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie. Nou brand ek om daai laaste mou klaar te brei. En dink jy ek kry tyd?

Ek wil leer hekel. Ek wil mooi goed maak vir ons huis en vir die mense wat ek liefhet en voor omgee. Ek wil ‘n ruimte skep waarbinne my man en kinders hulleself kan uitleef. Ek wil gaan stap, weer fietsry en soms tyd vir ‘n teetjie saam met ‘n vriendin afknyp. Ek gun my man ‘n dag se golfspeel of ‘n middag se sport kyk. Ek wil skeppend leef en dink. Ek wil al die baie boeke wat ek nog nie gelees het nie, verslind. EK wil vir my kinders kinderjare skep wat hulle tot in hulle oudag sal beskryf as gelukkig. My versugting is na meer ure in die dag, nie dat die dag gou moet verbygaan nie. Ek wil die tyd in my hande hou en suinig geniet wat ek weet net hier en nou gewaarborg is.

Daar is ‘n verskil tussen verveeld wees en besluit dat huisvrou wees nie is wat jy met jou lewe wil doen nie. Wel. Dan klim jy van jou bas af en gaan soek vir jou ‘n werk buitenshuis. As jou man nie daarvan hou nie: Tough! Die lewe is te kort om iets te doen wat jy regtig haat.

Ek hou van huisvrou wees. Daar is ‘n satisfaksie daarin om iets wat vuil is weer skoon te kry. Om etes te bedink wat my fiemieserige vyfjarige wel sal eet. En om by my kinders te kan wees, sal ek nog iemand anders se huiswerk ook doen. Natuurlik is daar frustrasies. Soos om dieselfde ding oor en oor te doen. Maar ek het lankal uitgevind dat my kop nie besig hoef te wees met dit wat my hande doen nie.

Ek het gehou daarvan om buitenshuis te werk ook. Mens se verwysingsraamwerk is meer kompleks, daar is meer erkenning vir dit wat jy doen en dis lekker om as individu gereken te word. Ek sou dit weer eendag wou doen.

Vir nou is ek ‘n huisvrou. NIE verveeld nie.

Die gang June 26, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
4 comments

Voor

Gang

En na

Gang 2

Gang 1

‘n Wêreld van boeke June 25, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
3 comments

Ek was pas ses toe my pa my een Vrydag na die dorpsbiblioteek toe geneem het om as lid aan te sluit. Hoekom juis my pa, onthou ek nie. Hy het maar selde dorp toe gegaan. Ek het Verna Vels se Liewe Heksie uitgeneem – oorstelp van die vooruitsig om dit tuis vir my ma te gaan wys. My pa het net geglimlag en my herinner dat ek kon uitneem wat ek wou lees en dat ek nie bekommerd moes wees oor enigiemand anders nie.

Van toe af was Vrydag ons biblioteekdag. Elke week het ek my eie paar boeke klaargelees amper nog voor ons by die dorp uit was. Dan het ek my ma en my suster se boeke getakel. Vir solank die boeke gehou het, was ek ‘n nul op ‘n kontrak. My boeklesery was baiekeer die oorsaak van ‘n pak slae.

Een keer het my pa – haastig op pad na ‘n siek dier toe – my gevra om water by die houer op die koolstoof te voeg waarin hy die spuit, waarmee hy die siek koei so pas ingespuit het, wou ontsmet. Ek het afwesig geknik en eers my neus uit my boek gelig toe die nare reuk van gebrande plastiek tot my sintuie deurgedring het. My pa was woedend. Net my ma se ferm tussenbeidetrede het hom verhoed om my ‘n afgedankste loesing te gee.

Gelukkig was my maters ook baie lief vir lees en Sanet se pa het ons gereeld kopskuddend staan en beskou waar al vier van ons op ons mae elk verdiep in haar eie boek gelê en lees het en dan iets gemompel oor die abnormale tieners onder sy dak.

Vir ‘n jaar nou al kry ek net nie my bas in rat oor lidmaatskap by die plaaslike biblioteek nie. Om mee te begin het ons genoeg kinderboeke om die kinders gelukkig en tevrede te hou. En ek behoort aan ‘n boekklub. Vir my is die een of twee boeke wat ek per maand daar kry, heeltemaal genoeg. Daar is nie juis tyd vir lees nie, vind ek. ‘n Hartseer saak vir iemand wat die gemiddelde roman binne drie ure kon verslind.

Ons was lede van die stadsbiblioteek in Pietermairtzburg en Marco het aangesluit as lid toe hy net-net drie was. Marco is nog altyd dol oor boeke. As ‘n tjokkertjie van ongeveer 18 maande kon hy al bladsye versigtig omblaai en prentjies reg benoem. Ek dink nie ek het hom al ooit ‘n boek onderstebo sien vashou nie.

(Magnus: ‘n Perd van n heel ander kleur. Dis egter ‘n storie vir ‘n ander keer.)

KZN het een van die beste provinsiale biblioteekdienste in die land. Dis natuurlik een van die ouer biblioteekdienste en die aankope en keuring van boeke word op ‘n baie effektiewe manier gedoen. Die meeste openbare oftewel munisipale biblioteke is geaffilieer aan die provinsiale biblioteekdiens. Dis ‘n noodsaaklikheid in ‘n land waar al hoe minder munisipale fondse beskikbaar gestel word vir biblioteke.

Ek vind dat waar ander provinsies geneig is om meer kopiee van, sê maar, ‘n blitsverkoper aan te koop, KZN liewer ‘n groter verskeidenheid boeke aankoop. Gewilde boeke word vinniger sirkuleer deur bv hulle leentydperk te verkort. Elke maand gaan die biblioteekpersoneel na die streeksbiblioteek waar hulle dan self kan kies watter boeke om te leen. So word die unieke behoeftes van gebruikers aangespreek.

Daar is ‘n ongelooflike sentrale naslaanafdeling waarvandaan bloklenings van sekere onderwerpe sowel as spesiale aanvrae geleen kan word. Vir jare was dit my voorreg om self my spesiale aanvrae van my biblioteekgebruikers daar te kon gaan kies omdat ons binne stapafstand daarvan gewerk het. Ek mis dit nogal!

Die afgelope twee weke al hou Marco elke dag die posman met ‘n arendsoog dop om te sien of hy nie dalk die begeerlike kennisgewing van die biblioteek in ons posbus kom druk nie. Vandag het ons uiteindelik kennisgewing gekry dat ons lidmaatskap hier in Estcourt goedgekeur is en dat ons ons kaartjies kon gaan afhaal. Marco was oorstelp van vreugde..

Ons is sommer dadelik vanmiddag biblioteek toe. Behalwe vir ‘n paar studente was ons die enigste ander gebruikers daar. Die twee kinders het dadelik die kinderafdeling op horings geneem. Magnus het die kinderstoeltjies netjies in ‘n ry rangskik en een vir een uitgetoets. Dan het hy opgewonde beduie die groene sit lekkerder as die gele en so aan. Marco was soos ‘n bloedhond op die spoor van die boeke. Sommer gou het hy sy kwota van vier boeke volgehad.

In die volwasse afdeling lyk dit of min ander mense my liefde vir Terry Pratchett deel*, maar heelwat ook hou van Dick Francis. You win some, you lose some…Ek is egter daar weg met ‘n hele sak vol handwerkboeke wat op spesiale aanvraag is. Nou gaan ek uiteindelik leer hekel.

Ons hele besoek het minder as ‘n halfuur geduur en ons is daar weg met die weelderige gevoel dat ons voorwaar ryk is.

*Ek hou van Terry Pratchett, want hy het voetnotas vir sy voetnotas **

** Wat in elk geval is hoe my kop werk.

Titanic June 24, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
4 comments

Ek en Marco lees vanoggend die verhaal van die Titanic. Die boek wat ons het is effens te gevorderd vir hom, met hopeloos te veel detail, dus lees ek en parafraseer die belangrikste dele.

Toe ons by die deel kom waar die reddingsbote hulle afstand hou uit vrees dat hulle sal sink met meer mense aan boord, terwyl die drenkelinge wat die sink van die skip oorleef het in die yskoue see ronddobber en roep om hulp, begin Marco te snik.

“Die arme kindertjies wat hulle pappas hoor roep en hulle kan niks vir hulle doen nie…”

En daar huil ek ook.

Hemel.

“Nuwe” voorportaal June 23, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
6 comments

Voor

Voorportaal in wit

En na

Wastafel

Tarkay

Kas

Want die lewe is te kort vir onderbeklemtoonde elegansie June 22, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
6 comments

Ons huis is ‘n “gracious old lady” aldus een van die vorige eienaars. Of was dit nou “grumpy old lady”? ….Ewenwel. Oud mag sy wees, maar selfs ouer dames is soms lus vir ‘n fleurige nuwe rokkie, nie waar nie.

Probleem is net: Geld vir verf of ander binneversiering is daar glad nie.

Goed. Ek bieg. Eintlik is ek te lief vir kleur om lank tevrede te wees. met net een kleur. Om goed rondom my te bly verander is ‘n kompulsie. ‘n Obsessie. ‘n Obsessiewe kompulsie.

Ek omhels die reënboog in binneversieringsterme. Behalwe…blou (moeilike kleur, wat maklik koud vertoon). En NATUURLIK pienk. Verby is darem die dae toe ek ons eetkamer papawerrooi geverf het. Dit was in elk geval een van die min foute wat ons nog met kleur gemaak het. Meer omdat ons nie kon voorsien dat die kleur op die growwe pleisterafwerking nog helderder sou vertoon as dat die kleur per se aaklig was nie. Vir maande het ons deur die eetkamer geduik met ‘n sonbril op. Tot eendag toe ek voor Dirk gaan staan en vra:

“Ek dink ons het nou lank genoeg gemaak of ons van hierdie kleur hou. Kan ons dit asseblief verander?”

Toe verf ons die eetkamer beige. En een muur pienk, want die mannetjie in die winkel het gesê die pienk is eintlik terracotta. Ek het gesluk en na die muur gestaar in ontsetting. Besluit om groter as die situasie te wees en myself ook te probeer oortuig teracotta is eintlik pienk. Gelukkig gee Dirk die verskriklike muur net een kyk en sê:

“Ek gee nie om wat die mannetjie in die winkel gesê het nie, maar daai muur is pienk. En jy haat dit, ne?”

En ek antwoord: “Ja.” Met groot verligting in my hart, want ek het gedink nou sal ek saam met die pienk muur moet leef vir ewig en ewig. Ons gaan verander toe die kleur na die ware terracotta toe. Die kleur wat ons in die eerste plek wou geverf het.

Soos ek sê, behalwe vir die ramp van die papawerrooi en pienk eetkamer, het ons regtig nog min mistastings met kleur gehad.

Ons het ‘n hele klomp blikke oorskietverf wat hoeka dateer uit die tydperk van die papawerrooi eetkamer. En so takel ek en Marco toe Donderdag die voorportaal. ‘n Eertydse stoep wat toegebou is en wat sit met geverfde stene (wiedehel verf stene?) bo en ‘n gladde stukkie onder ‘n dado rail tesame met redelike ornate vloerlyste. Alles in ‘n lotuswit – room met ‘n perskekleur ondertoon. Daar is ‘n sekere bekoring aan die speling van die noordelike lig op die roomwit mure, maar ongelukkig is die vloere ook wit. Die vertrek lyk dus dikwels na ‘n ysspelonk. En ek is NIE ‘n ysbeer nie.

Ek het net genoeg verf (minder as 500ml) om onder die dado te verf en ek twyfel selfs of ons dit sal regkry om meer as een laag te verf. Maar ek waag die kans. Ons het twee beskikbare keuses – ‘n Gousblomoranje en ‘n sterk mieliegeel. Ek en Marco is albei lus vir die oranje, maar sien dadelik dit gaan te donker wees, So verf hy die geel aan met die roller en ek doen die kwaswerk. Ek is kwaai met hom. As hy wil help, moet hy dit ordentlik doen. Swak geverfde stukke moet hy oordoen en ek gooi self die verf uit – milliliters op ‘n keer. Ons het niks om te mors nie. En sowaar. Ons blaker dit net-net. Ek verdun die verf met ‘n bietjie water en ons verf daarmee selfs ‘n tweede laag. Daar mors nie eers ‘n druppel verf op die vloer nie.

“Dit lyk mooi, Mamma.” se hy terwyl hy terugstaan en ons handewerk beskou. Ek stem saam en selfs Magnus kom staan en inspekteer ons handewerk hande agter die rug.

“Mooi!” roep hy goedkeurend. Oftewel iets wat klink soos mooi.

Ek besluit om ‘n tikkie drama en glam by te voeg en verf die dado en vloerlys goud. Nou hoor ek ‘n paar mense hulle asems intrek. Moenie worry nie. Dit lyk mooi. Die verf van die mure het ons ‘n oggend geneem. Daai verditste verdatste dado het my die res van twee dae besig gehou. En sowaar, dit kort nog ‘n laag. Nou verstaan ek hoekom die vorige mense alles in een kleur geverf het.

Maar eind goed, alles goed.

Volgende is die eindpunt van die gang. In gousblomoranje.

‘n Tyd en plek vir alles June 15, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
5 comments

Krisisse het die nare gewoonte om nooit te gebeur wanneer…wel..Durf ek dit sê? Krisisse gebeur nooit wanneer dit gerieflik is nie. Nie, sê nou maar, op ‘n besadigde Dinsdag laatoggend of op ‘n kalm Donderdag om drie-uur in die middag nie. Nee. Nee. Nee. Saterdagnag of Sondagmiddag. Oor langnaweke. Dis wanneer die vreemdste goed gebeur. Soos ‘n kind wat homself kaduks val. Of ‘n swerm bye wat iemand takel. Of wanneer jou oudste besluit om sy kleinboet se oorskietroomys uit die vrieskas te steel en verwoed aan die plastieklepeltjie, wat vasgevries het in die roomys, pluk. Sodat die lepeltjie losskiet, aan duisend stukkies breek en van daai vlymskerp stukkies reg in sy oog in skiet.

Ja, halfses die aand op ‘n Sondagaand is wanneer sulke goed gebeur.

Eers gil Ouboet ten hemele. Jy mag nie aan die oog raak nie. Jy mag nie aan hom raak nie. En bewaar jou siel as jy net praat van kyk na die oog. Later kry jy hom sover om te lê met die toe oog terwyl jy hom bekommerd op ‘n afstand staan en dophou. Hy raak uit pure emosionele uitputting aan die slaap. Jy sien bekommerd hoe die trane uit die oog stroom en op die duvet drup.

Estcourt het ‘n hospitaal, maar dit gaan die gang van die meeste staatshospitale. Ladysmith lê ‘n driekwartier in ‘n noordelike rigting en Pietermaritzburg ‘n uur in ‘n suidelike rigting. Omdat jy net ‘n week vantevore op ‘n Sondagaand in Ladysmith se noodeenheid met dieselfde kind was(ha-ha), weet jy die personeel loop nie oor van vriendelikheid nie. In Pietermaritzburg het jy uit die vier kere wat jy die noodeenheid by twee verskillende hospitale moes gebruik ook agtergekom hier is dit maar “the luck of the draw.” Uit die vier kere was daar een keer iemand wat die probleem korrek gediagnoseer het.

Jy weet mens speel nie met ‘n oog nie.

Aan die anderkant: Hulp is vêr en nie gewaarborg om vreeslik doeltreffend te wees nie.

Toe Ouboet klaend wakker word, tel jy hom op jou skoot en oortuig hom met moeite dat jy moet kyk. Hy probeer regtig saamwerk, maar dis seer en jy het breukdele van sekondes om te kyk. Dit lyk nie of daar stukke lepel in die oog vassit nie, maar die oog lyk rooi en eina. Hy klim egter af van jou skoot af en vra waar is die roomys nou. Jy aanvaar dinge is nie te erg nie en ontspan iewat terwyl hy sy welverdiende/duurgekoopte gesteelde roomys opeet met dan en wan ‘n toegif aan Kleinboet – aan wie dit eintlik behoort. Julle lees stories en gaan slaap wanneer Ouboet vir Kleinboet bietjie erg tempteer.

Die hele nag pla jou besluit om nie die oog te laat evalueer nie jou. Trane stroom steeds uit die oog en elke kort-kort sit hy regop om aan die oog te vryf. Die nag voel of dit nooit gaan eindig nie. Seweuur strompel hy uit die bed. Altwee oë is toegeswel en die beseerde oog lyk naar. Hy kla die son skyn in sy oe al sit hy met sy rug na die venster en al is daar nie ‘n sonstraal in sig nie.

Jy waag dit om “eye injuries, tears and light sensitivity” te Google en vind, soos altyd, baie meer uit as wat jy wou weet. Jy het vergeet tears (trane) kan ook tears (skeure) beteken. Glo my, jy wil nie weet nie… Nou kyk jy met groot agterdog na elke trekkie van pyn ip sy gesig. Demmit, leer jy nooit?

Agtuur ry Dirk by die huisdokter se spreekkamers aan. Hy het al geleer mense weier moeiliker as ‘n mens in persoon smeek. Die dokter kom negeuur in en die vroegste beskikbare afspraak is eers na elf. Hy vra weer mooi en die gawe ontvangsdame sê kom net na nege en dan druk ons julle in. Maar dan waag hy ‘n kans en bel die oogspesialis in Pietermaritzburg. Hulle sê ons kan dadelik kom. Die logika synde dat as daar iets slegs fout is mens dan reeds by die regte persoon is. So ry ons net na nege op ‘n Maandagoggend ons voormalige tuisstad binne.

Die mense by die oogspesialis is so gaaf soos altyd en die assistent steel Marco se hart. Hy vertel opgewonde sy het net met ‘n masjientjie in sy oog gekyk en “nie soos jy en Pappa nie” Sy het sy oe getoets en die beseerde ogie is effens swakker as die ander een. Hy en Magnus kry elk ‘n lekkertjie. Magnus vermaak die ander mense in die spreekkamer en terwyl Marco ingeroep word en saam met pappa na die oogspesialis toe gaan, kom knoop ‘n ouerige oom ‘n gesprek aan. Die oogspesialis stel vas deur kleusel in die oog te gooi dat daar ‘n nare skraap oor die oog is. Niks meer nie. Dankie tog. Sjoe!

Nou voel almal effe simpel oor die bohaai en kyk, Marco se oog lyk klaar stukke beter. Dirk het ‘n hoop werkstyd verloor en ek moet nou eers wasgoed was. Almal is iesegrimmig oor die gebrek aan slaap. Maandag amptelik afgeskop met ‘n agterstand.

Dit alles oor ‘n krisis wat nie sy properse tyd en plek geken het nie.

Antrasietbekeerde June 10, 2009

Posted by Nelba in Uncategorized.
5 comments

Die afgelope week het ons regtig ons deel aan siek mense gehad. Ons was almal op ‘n stadium siek, maar oor die naweek was dit Dirk en Marco waaroor ons die ergste bekommerd was. Sondagaand is ons na die noodafdeling by die Ladysmith Hospitaal met Marco, omdat ek net nie meer daarin kon slaag om sy koors gebreek te kry nie. Dit het bly opskiet na 40 grade en hoewel ek heel gemaklik met koors is, is dit te hoog selfs vir my.

Wat die triek gedoen het (net voor ons weg is by die huis)was toe ‘n koorswerende middel wat anti-inflammatories ook is. Iets wat ek normaalweg vermy omdat ‘n NSAID ( non-steroid anti inflammatory drug) magies erg omkrap. Veral as hulle verseg om vaste kos te eet. Dit het hom inderdaad laat opgooi, maar teen daai tyd was die koors darem gebreek. Dit blyk darem ons eie diagnose van sinusitus was nie verkeerd nie en die mannetjie is klaar beter. In hierdie geval het hy egter antibiotika nodig gehad. Magnus loop nog steeds met ‘n snotneus. Maar dis maar net die oorblyfsel van sy verkoue en ek vat dit enige tyd. Hy laat my nie sommer in sy mond kyk nie, maar ek verbeel my ook ek sien die begin van nog ‘n tandjie.

Dirk het egter bronchitis en gaan werk nog steeds. Hy sê eenvoudig hy’t te veel werk om te gaan lê. Ek troos myself met die gedagte dat as hy regtig ernstig siek is, hy sal kom lê.

Behalwe my gewone irritasie wanneer ek met die mediese establishment moet werk, is dit hopelik ‘n geval van eind goed als goed.

Dit help ook nou nie juis dat ons lekker koue weer het nie – soos trouens die grootste deel van die land. Ek kyk liewer nie temperature nie, maar die sneeu lê dik op die berge in die omgewing.

Ons het twee stofies in ons huis. Een in die gastekamer wat uitloop uit die TV kamer. En een in die sitkamer. Ek hou persoonlik meer van ‘n oop kaggel, maar verskeie mense het my vertel ek is mal toe ek sê ek wil die stofie uithaal. Gisteraand het ons die eerste keer in die antrasietstofie vuur gemaak. Dit het my heelwat sweet en skel gekos om die goed te kry om te brand, maar mense, toe dit eers brand! Die stofie was heelnag aan op ‘n lae stelling op die ewivalent van ‘n emmer antrasiet. Die sitkamer, wat normaalweg ‘n lang koue grot is, is nou ‘n plek waar mens dalk sou wou opkrul met ‘n boek. (As jy tyd het vir boeklees!) En daai hele deel van die huis is merkbaar warmer. Ek is ‘n antrasietbekeerde na dese.

Die winternagte is vir my lekker. Op die oomblik is ons hele slaappatroon weer versteur. Laasweek het ek en die twee kinders op my en Dirk se bed geslaap. Slaap is natuurlik in die arbitrêrste moontlike sin van die woord gebruik, want die waarheid is dat ek meestal wydoog in die donker lê en luister het na die verskeidenheid van hortende asemhalings rondom my. Maar noudat almal weer beter is, is dit eintlik lekker om so saam met die warm (nie koorsige!) lyfies opgekrul te lê. Laasnag het Marco in Dirk se omarming sit en krieket kyk en ek het nie te veel gekarring oor slaaptyd nie. Ek het Magnus dus geneem en aan die slaap gaan maak en sommer saam met hom bly slaap. Dirk en Marco is na die spaarkamer toe waar hulle op die elektriese kombers geslaap het.

Heerlik.